Tukkie doodgeskiet, beroof

’n Skermskoot uit die video.

ʼn Student (23) aan die Universiteit van Pretoria is Saterdag in die vroeë oggendure in Hatfield doodgeskiet en van sy besittings beroof.

Die voorval het omstreeks 02:00 in Grosvenorstraat plaasgevind en is op kringtelevisiekamera vasgevang. Luidens ʼn twiet deur die UP is die toneel naby die Tuksdorp-koshuis geleë.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig dat twee verdagtes kort ná die voorval in hegtenis geneem is, en reeds Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn het. Die verdagtes, onderskeidelik 38 en 33 jaar oud, word van moord, gewapende roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie aangekla.

Masondo bevestig in sy verklaring dat die student in Hatfield gestap het toe hy vermoor en beroof is, voordat dié verdagte in ʼn wit Toyota Corolla-wegkommotor gespring het.

Op beeldmateriaal van die voorval kan gesien word hoe die student oor die straat loop, min wetend dat sy aanvaller hom agtervolg. Die aanvaller loop aanvanklik stadig en kruip so half agter ʼn boom weg voordat hy vinniger oor die straat begin draf. Hy vat dan aan die student se skouer en draai die student na hom. Hoewel die twee effens agter ʼn boom inbeweeg, kan ʼn mens die vuurwapen duidelik in die verdagte se hand sien.

Die aanvaller en slagoffer staan dan vir ʼn paar sekondes stil voordat die aanvaller terugtree en die slagoffer skiet. Die student val dan dadelik op die grond waarna die aanvaller oor hom buk en ʼn paar sekondes later weghardloop. ʼn Motor is ook in die video sigbaar. Die video van die voorval kan hier gekyk word. Dit kan egter sensitiewe kykers ontstel.

“Die polisie is in kennis gestel en het vinnig gereageer. Tydens roetinepatrollies het die polisie ʼn voertuig opgemerk wat by die beskrywing van die wegkommotor gepas het,” het Masondo in sy verklaring gesê.

“Die voertuig is voorgekeer en die twee insittendes is deursoek en met ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die oorledene se besittings betrap.”

Lt.genl. Elias Mawela, Gauteng se provinsiale polisiekommissaris, het die Brooklyn-polisiestasie bedank vir hul vinnige optrede wat voorkom het dat die verdagtes die gebied verlaat. Hy het ook die gemeenskapslede en private sekerheidswagte bedank wat die polisie van die skietvoorval in kennis gestel het.

Die UP het op Twitter gesê dat die universiteit die gewelddadige voorval ten sterkste veroordeel.

“Ons gedagtes en gebede gaan uit aan die student se vriende en familie, aan wie ons ook berading bied.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Di ·

Hoop die gemors word vir jare agter tralies toegesluit! Innige meegevoel aan die familie en vriende van hierdie slagoffer. SOVEEL onskuldige mense het al in hierdie korrupte land gesterf vir wat? selfoon en beursie! SKOKKEND

Alta Alleman ·

Nou verstaan ek as daar gesê word dat Suid Afrika nie n veilige land is nie. Skokkend

Johan ·

Ek verstaan net nie die “besit van vuurwapen” deel nie. Die misdryf is tog duidelik, moord, hoekom nou nog iets bysit, hoe is dit tog nou n misdryf. Ons wette is maar belaglik. Beteken dit, jy sou minder skuldig wees as jy iemand met n “wettige” wapen vermoor…dalk kan n regskenner dit v my verduidelik, wette moet tog n doel hê, en dan daardie doel bereik ook.

Leon ·

Baie eenvoudig. Was in besit van vuurwapen sonder lisensie toe moord gepleeg was . Nog n alternatiewe klag en vonnis sal swaarder wees

Jurie ·

Dit is “besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen” wat hier ter sprake is .

piet ·

Elke addisionele klag waaraan die persoon skuldig bevind word, het sy eie straf so in die opsig is die straf swaarder. Dit is egter so dat in baie gevalle die vonnisse gelyktydig uitgedien word so prakties gesproke gaan dit waarskynlik nie ‘n verskil maak aan die duur van sy gevangenisstraf nie.

ES ·

Johan, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen is ‘n aparte misdryf. Dit word nie noodwendig verbind met moord nie, en wanneer dit verbind word met moord bly dit ‘n aparte misdryf wat tot 15 jaar gevangenisstraf as gevolg kan he.

Daar word voorsiening gemaak in ons wetgewing vir verskillende misdrywe. Iemand wat in die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen is kan moontlik verbied word om in die toekoms ‘n wettige wapen te kan besit.

Die wette bereik die doel baie duidelik, die Wet op Vuurwapenbeheer is ‘n aparte wet van die Kriminele Prosedure Wet. Elkeen van daardie wette het te doen met spesifieke misdrywe en wat die straf daarvoor is.

Mallie ·

As iemand dit gesien gebeur het van die begin af hoekom het die persooon nie alarm gemaak nie?

Vexed ·

Nêrens staan dat enige iemand dit van die begin af gesien het nie. Daar was ‘n kamera. Vir wat dit werd is. Jy kan ook maar alarm tot jy blou is, dit beteken net iets as daar reaksie is. Julle dink seker nie nog steeds dat die kameras oral vir ons veiligheid is nie?

Magda ·

Hoop hulle KRY ook 103 jaar Vir Di moord as Di vorige berig Vir Di moord op n empd offisier. Mag alle vonnisse Soos lank wees en mag hulle 90 jaar in di tronk bly voor enige PAROOL of minder tronkstraf. Baie Sterkte aan Di Familie.

Jacob ·

Vanoggend kry ek ‘n boodskap van ‘n vriend dat sy pa oorlede is. Hy is aangeval deur gespuis in Kuruman om hom van sy selfoon te beroof. Selfs op sy ouderdom van 93 jaar oud, baklei hy terug en verhang die bordjies. Drie van die jong kreefekskremente vlug en die oubaas kry een beet, maar die stamp hom af en hy val met sy kop teen sy bakkie waarna hy in die hospitaal opgeneem word. Slegs ‘n week voor dit het hy nog beeste op ‘n veiling gekoop.

Wat gaan dit neem om die gemors van ons strate af te kry? Moet ons self daal tot op die vlak van die vuilgoed en hulle genadeloos uithaal? Word dit van ons verwag om ook wetteloos te raak om weer reg te laat geskied? Cele en sy “polisiediens” kry dit nie reg nie en dit wil al hoe meer voorkom dat dit veiliger is om self noodtoestande te op te los met dodelike geweld indien nodig as om die polisie te ontbied.

Erik en familie, ons innige simpatie.

Swerwer ·

Genade tog. Kommuniste slaap nooit en is altyd besig om die volgende aanval te beplan.

A.S ·

Maar nogsteeds word doodstraf nie terug gebring nie!!!! Die goed weet hulle kom weg met als dis hoekom hulle so maklik mense se lewens kan vat!!!

piet ·

Behalwe dat die doodstraf die gemors permanent uit die samelewing sal verwyder, sal dit ongelukkig nie andersins as afskrikmiddel dien nie. Ons kan ook nie 20000 mense per jaar hang nie, dit sal nooit gebeur nie.

ES ·

Soveel as wat ons dink dit sal help, wil ek nie baie graag ons regering die mag gee om te kan besluit wie mag lewe en wie mag nie lewe nie.

Maritza ·

Dis baie tragies maar ons jong mense moet besef om alleen daardie tyd van die oggend alleen te stap is vir moeilikheid soek want dis wanneer die kriminele element rond beweeg.

piet ·

Skokkend. Elke tweede gemors het mos ‘n vuurwapen deesdae, afgelee plase en polisiekantore is aantreklike “depots” om vuurwapens te bekom. Dis nou definitief lewensgevaarlik om alleen in die nag iewers te loop maak ook nie saak waar nie. Jy dink jy kan veilig wees in sommige areas maar vergeet maar. Gelukkig is die gemors gou vasgetrek.

Truth2bfree ·

Moenie ‘n dag begin sonder om eers vir jou gesin se beskerming te bid nie.
Die vyand loop rond soos ‘n brullende leeu.
Lees Efesiers 6:10-18.
Baie sterkte vir die familie.

Rocco ·

Die moordenaar het die slagoffer geken, volgens my. As jy na die video van die sekerheidskamera kyk, praat die twee eers, en dan word hy geskiet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.