Tukkie eindelik wakker ná motor haar tref

Adel Cato. Foto: Facebook.

Adel Cato (20), die tweedejaar-bedryfsielkundestudent aan die Universiteit van Pretoria wat verlede maand deur ’n motor raakgery is, is wakker en reageer.

’n Familievriendin het Dinsdagoggend aan Maroela Media vertel dat Adel haar oë op 10 Augustus in die MediClinic Muelmed in Pretoria oopgemaak het. “Haar oë beweeg en sy reageer op instruksies van die terapeute, maar sy praat nog nie.”

Sy vertel dat Adel haar oë oopgemaak het toe haar ma, Juanita, vir haar ’n video gespeel het van haar boetie wat die vorige aand by ’n konsert opgetree het. Adel het aanvanklik verward rondgekyk, maar gou bewus geraak van wat om haar aangaan.

Sy is steeds in die rehabilitasie-afdeling van dié hospitaal waar sy behandeling ontvang, aangesien haar spiere maar nog styf en spasties is. Sy ontvang voeding deur ʼn buis in haar maag.

Adel het erge breinbloeding en -swelling gedurende die ongeluk opgedoen. Die vriendin vertel dat “daar effense skade is, maar dit is rehabiliteerbaar”.

Sy erken Adel het nog ’n lang pad vorentoe, maar sê “sy is ’n baie sterk mens”. Adel se geliefdes is positief oor die herstelproses. Die vriendin vertel dat die gesin in ’n toestand was, maar dat hul gemoed beter geraak het toe Adel wakker geword het.

Sy vertel dat die gesin baie ondersteuning van die publiek ontvang. Baie gesinne deel hul stories van herstel met die gesin gedurende Adel se tyd in die hospitaal. “Dit is fantasties hoe die publiek vir haar bid, hul sakke oopmaak en vir die gesin hoop gee.”

Sy moedig enige iemand aan om deur middel van Adel se ondersteuningsgroep op Facebook hulp te verleen op haar herstelpad vorentoe, hetsy ’n terapeut wat sy of haar dienste aanbied of mediese toerusting. “Enige iets wat Adel miskien nodig mag kry, is welkom” wanneer sy uiteindelik huis toe kan gaan.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het op 16 Julie omstreeks 22:30 by Duncan Yard in Pretoria plaasgevind. Sy en ʼn groep vriende het van een restaurant na die ander oor die pad gestap en ander vriende wat nog by die vorige plek was, het haar teruggeroep. Sy het net ʼn ent in die pad terugbeweeg toe die motor haar tref.

Lees alle vorige berigte oor Adel Cato op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vasbyt ·

Vasbyt en vat vas, as my Ma kan, kan jy ook girlie, die feit dat jy oorleef het en noual hier is, wys jou fighter gees, as dit soms moeilik gaan, gaan 1 stappie terug en begin weer!!!!

Colleen ·

Goeie nuus! Mag sy volkome herstel. Sterkte aan haar familie en vriende.

Nienie ·

Amen. Ons is in Februarie 2018 deur n soortgelyke situasie. n Perd het my kind in d gesig geskop. Sy was vir 5 weke in n geindusseerde koma. Sy was ook by Muelmed vir rehab. Hulle doen goeie werk.

Afrikaanse Knaap ·

My hart gaan uit na hierdie mooi jong dame. Mag sy gou aansterk. Iemand het verseker vir haar gebid.

evandre janeke ·

By Liewe Jesus is als moontlik. Baie baie sterkte ook aan die persoon wat die motor bestuur het, ‘n ongeluk gebeur so vining.

Helene Heyns ·

WOW, noudat ek hierdie wonderlike nuus lees, is my dag gemaak. Dankie Here dat U na ons gebede luister. Prys U naam. Ons bid verder vir volkome herstel.

Gesiggie ·

Baie bly oor die goeie nuus.. ja Adel daar is nog n lang pad van herstel. maar met God se genade sal jy sommer gou weer jouself wees, hou moed en bly positief,,, daar is mense wat vir jou baie lief is en omgee. Sterkte en als wat mooi is vir jou en jou gesin.

Katerina ·

Baie goeie nuus,ek is so so bly! Ek het baie aan haar gedink,dis n groot verligting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.