Tukkie steeds in koma na motor haar tref

Adel Cato. Foto: Facebook.

Adel Cato (20), die tweedejaar-bedryfsielkundestudent aan die Universiteit van Pretoria, wat presies drie weke gelede deur ʼn motor raakgery is, is steeds in ʼn koma al is sy buite lewensgevaar.

Frank Cato, Adel se pa, het Maandagoggend aan Maroela Media vertel Adel is Saterdag uit die hoësorgeenheid in Mediclinic Muelmed geskuif na dié hospitaal se rehabilitasie-afdeling.

“Sy is nou al twee weke van self in ʼn koma, sy is uit onder die verdowing, maar haar breinfunksie is baie laag en sy is nou in die koma; die brein keer basies homself om te werk. Hulle het gesê die enigste manier om dit te stimuleer en weer aan die gang te kry is deur fisieke rehabilitasie.”

Haar pa sê die rehabilitasie wat sy ontvang vind alles plaas in haar hospitaalbed aangesien sy nog in ʼn koma is. Sy ontvang voeding deur ʼn buis in haar maag.

Hoewel Adel binnekort weer ʼn breinskandering moet ondergaan om die koers van haar behandeling verder te bepaal weet die gesin reeds dat sy beslis breinskade opgedoen het.

“Sy het haar oë al een of twee keer op skrefies oopgemaak, maar sy is glad nie ‘by’ of bewus nie. Haar hande en bene beweeg ook maar dis net spiersametrekkings.”

Frank het gesê dié voorval is vir hulle as gesin emosioneel baie dreinerend.

Adel Cato. Foto: Facebook.

“Dit is baie hard op ʼn mens. My vrou is dag en nag langs haar sy, ek probeer my bes om tussen die hospitaal en my werk in die Rustenburg/Brits-omgewing te reis maar dis moeilik. Die mediese fonds begin ook nou sê ons fondse is uitgeput en keur betalings af, byvoorbeeld vir die breinskandering wat sy moet ontvang, maar sy móét dit ontvang. So, dis baie moeilik.”

Maroela Media het vroeër berig die voorval het op 16 Julie omstreeks 22:30 by Duncan Yard in Pretoria plaasgevind. “Sy en ʼn groep vriende het van een restaurant na die ander oor die pad gestap en ander vriende wat nog by die vorige plek was, het haar teruggeroep. Sy het net so half in die pad terugbeweeg toe die motor haar tref,” het Frank vroeër vertel.

Volgens hom het die motor Adel, ʼn kranige netbalspeler wat vir Noord-Gauteng sowel as Tukkies netbal speel, aan haar regterkant getref en haar kop het die pilaar aan die kant van die windskerm (A-pilaar) van die motor getref. “Die jong man [agter die stuur] het uiteraard rem getrap. Sy het so half op die kar gelê en toe afgeval sodat die ander kant van haar kop die pad getref het.”

Adel het erge breinbloeding en -swelling opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Baie baie sterkte aan die familie in hierdie uiterste moeilike tye. ‘n Tragedie gebeur in ‘n oogwink en mense en hul famile se lewens word omgedop. Sterkte.

adriana ·

My hart gaan uit na julle toe – ek hoop vir ‘n wonderwerk.
Liewe Jesus staan asb hierdie mense en vir Adel by.
Ek vra mooi asb dat Adel wakker word en weer met haar pragtige lewe kan aangaan,

Elvira ·

Sterkte ons bid saam met julle. Mediese fondse is besig om my siel te dreineer. Altyd n storie as dit by betalings kom.

Baie sterkte ·

Baie sterkte ons is in dieselfde bootjie en al wat ons aan die gang hou is dat sy lewe, ons bid vir jul. Dit is een van die aakligste rolercoasters om te ry, die emosionele skommelings, sterkte en liefde vir jul en jou vrou, onthou asb net ook van mekaar, soms is die mooi tussen julle vir haar kosbaar en kan haar ook red.

LB S ·

Wat ‘n PRAGTIGE meisiekind! Ag ek hoop en bid maar dat die skade nie te groot is nie en dat sy eersdaags wakker sal word sodat behoorlike rehabilitasie gedoen kan word.
Ek kan my net indink hoe haar ouers moet voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.