Tukkie-student steeds kritiek ná motor haar raakry

Adel Cato. Foto: Facebook.

Adel Cato (20), die tweedejaar-bedryfsielkundestudent aan die Universiteit van Pretoria, wat verlede Maandagaand deur ʼn motor raakgery is, is steeds in ʼn kritieke maar stabiele toestand in die Mediclinic Muelmed.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het omstreeks 22:30 by Duncan Yard in Pretoria plaasgevind. “Sy en ʼn groep vriende het van een restaurant na die ander oor die pad gestap en ander vriende wat nog by die vorige plek was, het haar teruggeroep. Sy het net so half in die pad terugbeweeg toe die motor haar tref,” het Frank Cato, Adel se pa, vroeër vertel.

Volgens hom het die motor Adel, ʼn kranige netbalspeler wat vir Noord-Gauteng sowel as Tukkies netbal speel, aan haar regterkant getref en haar kop het die pilaar aan die kant van die windskerm (A-pilaar) van die motor getref. “Die jong man [agter die stuur] het uiteraard rem getrap. Sy het so half op die kar gelê en toe afgeval sodat die ander kant van haar kop die pad getref het.”

Adel het erge breinbloeding en -swelling opgedoen.

Frank het Maandagoggend aan Maroela Media gesê Adel word steeds in die hoësorgeenheid behandel. Paramedici op die ongelukstoneel het Adel onder verdowing geplaas en sy word sedertdien onder verdowing gehou om kans te gee vir die swelling op haar brein om te sak.

Adel Cato. Foto: Facebook.

“Hulle het begin om haar Vrydag uit die verdowing te bring, maar het toe gesien die swelling en die spanning op haar brein is steeds te erg en het haar weer sedeer. Sy is dus steeds onder verdowing en ons sal eers die omvang van die skade, of dit groter of minder ernstige skade is, kan bepaal sodra sy uit die verdowing gebring word.”

Adel ontvang binneaarse voeding asook suurstof. Sy word ook binnekort weer vir breinskanderings gestuur. Sy ontvang ook deur die dag fisioterapie.

Frank het namens hom en sy vrou hul dank uitgespreek teenoor die Magrietjie-koshuis, waarvan Adel ʼn inwoner is, se huisouers wat ʼn kamer van hul huisouer-woning aan hom en sy vrou afgestaan het sodat hulle nie elke dag van Brits af hoef te ry om Adel te besoek nie.

“Ons is positief. Sy reageer regtig goed en beweeg haar arms en hande. Dit is ook een van die redes hoekom hulle haar onder verdowing plaas – sy beweeg te veel en hulle wil nie nog spanning op die brein plaas nie. Ons sou haar graag nou al wakker wou gehad het, maar ons het begrip vir die situasie. Ons vat dit dag vir dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

White Rhino ·

Ai ek hoop die jong dame herstel !!
Ek hou duimvas vir haar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.