Tukkies-koshuise se voortbestaan gewaarborg

Een van Tuks se ikoniese geboue, "Die Skip" Foto: Mike Prins, Wikimedia

Een van Tuks se ikoniese geboue, “Die Skip” Foto: Mike Prins, Wikimedia

Daar sal geen verandering aan die Universiteit van Pretoria (UP) se koshuise gemaak word sonder dat daar met die koshuise en studente gekonsulteer word nie.

“Dis ʼn sprekende voorbeeld van hoe die studenteraad, AfriForum Jeug en koshuisstudente saam kan werk om studente se stem dik te maak,” het Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies, Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Oosthuyse sê die aankondiging is op 29 Julie 2014 gemaak tydens ’n vergadering tussen AfriForum Jeug, die president van Tukkies se Studenteraad (VSR), die VSR-lid verantwoordelik vir koshuise en die visekanselier van die UP, prof. Cheryl de la Rey.

Dit volg nadat AfriForum Jeug onlangs die UP se besluit onthul het dat hulle beplan om koshuise in woonstelblokke te verander deur koshuise afsonderlik te verdeel tussen eerstejaar en senior studente.

Die onlangse vergadering was geskeduleer nadat AfriForum Jeug op 28 Julie ʼn memorandum met die handtekeninge van 1 600 studente, wat in drie dae ingevorder is, in ʼn kis voor die Roosmaryngebou, waar die studentedekaan se kantoor is, gelos het.

“Ons is tevrede met die aankondigings wat deur prof. De la Rey gemaak is,” het Oosthuyse bygevoeg. “Dit klaar die onsekerheid oor koshuise se voortbestaan op. Die beplande veranderinge sou studentelewe nadelig beïnvloed, en die feit dat studente nie in die saak geken was nie, was een van ons grootste probleme.”

Prof. de la Rey se aankondigings sluit die volgende in:

• dat daar geen verandering aan koshuise sal plaasvind nie, behalwe die opgradering van sommige van die ouer koshuise;
• koshuise sal geken word in toekomstige besluite; en
• tradisies sal voortleef solank dit inklusief vir almal is.

“AfriForum Jeug sal die gebeure rondom koshuise en ʼn gesonde studentelewe dophou om te verseker dat studente nie onder ondeurdagte besluite van die universiteitsbestuur ly nie,” het Oosthuyse afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.