Tukkies se ‘insig in taalbeleid’ bevraagteken

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof verantwoordelik vir taalkwessies.. Foto: Reint Dykema.

AfriForum sê dis kommerwekkend dat die Universiteit van Pretoria (UP), in weerwil van talle internasionale navorsingsprojekte en deskundiges se insette, “steeds nie verstaan” dat eentalige onderrig sosiale kohesie ondergrawe en die potensiaal vir konflik en wanprestasie onder studente verhoog nie.

Die organisasie se jeugafdeling het gister in ʼn verklaring gesê hy veroordeel ten sterkste die aankondiging van die universiteit se nuwe visiekanselier, Tawana Kupe, dat die universiteit van vanjaar af net in Engels sal funksioneer.

AfriForum Jeug het gesê dis ’n skending van die universiteit se onderneming teenoor reeds ingeskrewe studente wat hul kwalifikasies in Afrikaans wou voltooi. “UP het onderneem dat studente wat ingeskryf het om hul studie in hul moedertaal Afrikaans te voltooi, wel dié geleentheid sou kry,” het Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusse, gesê.

Studente kry die geleentheid om hul studie in Afrikaans klaar te maak.

Tukkies het teruggekap by monde van sy woordvoerder, Rikus Delport, wat gesê het: “Dis snert. Studente kry die geleentheid om hul studie in Afrikaans klaar te maak.”

Die universiteit het vroeër die versekering gegee alle studente wat voor 2019 vir die eerste keer geregistreer het, sal steeds alle lesings, tutoriale, studiegidse en assesseringsmateriaal (vraestelle, opdragte en dies meer) in Afrikaans ontvang vir dié programme wat in Afrikaans aangebied is toe dié studente vir die eerste keer geregistreer het, mits klasgroottes dit lewensvatbaar maak en dit akademies regverdigbaar is.

Tukkies word van 1 Januarie vanjaar af geleidelik uitsluitlik Engels.

Maar Donderdag het AfriForum gereageer op mediaberigte waarin Delport gesê het die besluit om Engels vanaf 1 Januarie Tukkies se enigste administrasietaal te maak en Afrikaans jaar ná jaar uit te faseer, “is daarop gemik om sosiale kohesie te bewerkstellig en die universiteit sal voortgaan om gelyke geleenthede aan alle Suid-Afrikaners, wat verskillende tale praat, te lewer”.

AfriForum meen dis duidelik dat die UP-bestuur nie die woord “meertalig” verstaan nie. “As studente op die kampus, in onderriglokale en selfs in studentebehuising slegs een taal – naamlik die koloniale taal Engels – gebruik, is daar van eentaligheid sprake, nie van meertaligheid nie, want daar is immers geen ruimte vir meer tale in die formele universiteitsomgewing nie,” sê Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies.

Volgens haar haal die UP graag aan hoe die aantal moedertaalsprekers van Afrikaans aan UP afgeneem het. Die universiteit “moet vir ’n slag noem hoeveel studente moedertaal-Engelssprekendes is en dus die enigste groepie bevoordeelde studente aan die instelling is, teenoor die sprekers van ander moedertale wat nou in hul tweede, derde of selfs vierde spreektaal onderrig word.”

Bailey sê: “Nóg AfriForum nóg AfriForum Jeug het al ooit gevra dat Afrikaans die enigste onderrigtaal [aan die UP] moet wees – inteendeel, ons het opsies van drie tale voorgestel, wat Engels insluit. Op hierdie wyse word kohesie bevorder, aangesien die menswaardigheid van moedertaalsprekers van meer as een taal erken en uitgevoer word.

“Die tale self word uitgebou. In ’n onlangse uitspraak het die Italiaanse grondwethof bevind dat die morele plig by universiteite rus om hul onderskeie lande se onvervangbare kultuurbates – naamlik inheemse tale – te beskerm, te bewaar en uit te bou, deur dit as primêre mediums van onderrig te gebruik.”

Bailey sê die UP verwys na geen plan om in die toekoms enige ander taal tot gelyke status as Engels te bevorder nie; dus is daar geen verbintenis tot moedertaalonderrig nie.

Die universiteit ontduik eenvoudig sy ondernemings.

Volgens Fourie hou die universiteit se ondernemings teenoor 2018 se eerstejaars van lesings, tutoriale, studiehandleidings en assesseringsmateriaal (soos vraestelle en werkopdragte) wat steeds in Afrikaans ontvang sal word in die kursusse wat by registrasie in Afrikaans aangebied is, nie water nie.

“AfriForum Jeug beskik oor klagtes van studente wat in 2018 reeds nie meer hierdie dienste ontvang het nie. Die universiteit ontduik eenvoudig sy ondernemings met verskonings soos dat die betrokke dosente nie Afrikaans kan praat nie. Dié studente word dan aan hul eie lot oorgelaat.”

AfriForum en AfriForum Jeug is bereid om die gesprek oor taal met die universiteit voort te sit, sê Bailey, om ten minste oplossings vir dié studente te vind, maar om ook weer die betekenis en belangrikheid van meertaligheid en moedertaalonderrig onder hulle aandag te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Charles ·

Van julle mond na God se oor, Amen.

Ons SAL die stryd nie los nie, ten spyte van die hopeloos kortsigtige “hofuitsprake”. Ons sal aanhou veg vir ons moedertaal!

David ·

Is daar nie genoeg Afrikaans magtige dosente beskikbaar nie, of moet moedertaalonderrig nou tweede viool speel teenoor “gelyke” indiensneming?

Lerato ·

Die meerderheid studente in Pretoria omgewing se moedertaal is Noord-Sotho. Dis moet die onderrig in daardie taal wees, nie in Engels nie.

Charles ·

Presies Lerato, daar slaan jy die spyker op sy kop.

Sepedi; en Afrikaans vir die blanke studente en anderskleurige studente wat ook in Afrikaans wil studeer.

Engels HELP NIEMAND MAAR SIT ALMAL TERUG!

Gert ·

Transformasie bly belangriker as enigiets anders, en die liberale Afrikaanse lektore koop 100% in met daardie uitkykpunt. Ter wille van transformasie moet Afrikaans afgeskaf word want anders kan daar nie 80% swart lektore wees nie. Dus is die prioriteit rassekwotas en nie goeie onderrig of moedertaalonderrig nie.

Sokrates ·

Ek ondersteun moedertaalonderrig 100%, ook tot op tersiêre vlak. Maar die realiteit is dat dubbel- of parallelmediumonderrig dosente se werksladings effektiewelik verdubbel: lesings, in-lesing materiaal, toetse, eksamens – alles moet 2 keer in 2 tale gedoen word. Dit is uiters tydrowend en het ‘n negatiewe uitwerking op die tyd wat akademici aan navorsing en publikasie kan bestee. Meertaligheid op universiteitsvlak is dus prakties gesproke uiters moeilik. Die staat gaan sekerlik nie meer geld bewillig om meer dosente aan te stel sodat meertaligheid nie werksladings negatief beïnvloed nie. Die enigste werkbare oplissing is dat ‘n universiteit ‘n enkele voertaal moet hê. Juis daarom het die destydse Gerwel-verslag wat 2 Afrikaanse universiteite, een in die noorde en een in die suide aanbeveel het, soveel sin gemaak. Die taalimperialistiese regering het dié sinvolle voorstel egter blatant en op skandalige wyse geïgnoreer.

aj ·

Sokrates jou denke is in ‘n groef!

Kennis is in die wolk ! … nie tussen 4 baksteenmure met ‘n swartbord en bordkryt nie.

Slim dosente het dekades gelede reeds basiese inligtingtegnologie baasgeraak en onderrig lankal hul studente in ‘n virtuele klaskamer … waar baksteenmure en swartborde nie figureer nie.

Beide die dosente en studente kan lankal ALLES doen wat jy hier bó as beperkinge voorhou … sonder moeite!

Vaardigheid in inligtingstegnologie kan Afrikaanse dosente en studente bevry van die tronk van “talk and chalk” binne die TOKSIESE werksomgewing by Tuks.

Innoveer!

Sokrates ·

aj, ek ontken nie die waarde van inligtingstegnologie en e-leer nie. Ek is self ‘n universiteitsdosent wat ruim van hierdie innoverende leer- en onderrigmetodes gebruik maak. Maar dit doen nie weg met die nodigheid aan die opstel van leermateriaal en assesserings nie. En, indien ‘n mens in ‘n dubbel- of parallelmedium opset funksioneer, bring dit onteenseglik ‘n vermeerdering in werkslading mee. Sommige dinge, soos tutoriale, toetse en eksamens, word ieder geval nie in die wolk gedoen nie, maar met pen en papier. Hierdie dinge is ook nie in individuele dosente se hande nie, maar word deur ‘n betrokke universiteit se regulasies rakende leer, onderrig en assessering beheer. Moet dus nie vir een oomblik dink dat die ‘gerieflike’ argument rondom die virtuele klaskamer ‘n kitsoplossing vir die taalprobleme op Suid-Afrikaanse universiteite bied nie.

JohanL ·

Sokrates, baie dankie vir daai inset – sinvol en weldeurdag. Wens dat dat besluitnemers en politici ook op daai vlak kan dink, maar dit blyk nie die geval te wees nie.

Iirene ·

Hulle moet Bybel gaan lees God het tale gemaak en mense geskape. Hou asb op om teen wit mense te wees

Deon ·

Die konsep van groot staats universiteite met enorme infrastruktuur is uitgedien. UP lyk klaar soos ‘n dorp wat magdom fondse benodig om te onderhou. Kleiner, meer gespesialiseerde instellings is die toekoms. Ons sien dit reeds met kwaliteit private instellings in SA wat toepalike grade aanbied in handel, kuns, musiek, IT, regte en vele meer. Van hierdie instellings begin om top studente van die hoofstroom univesiteite te trek. Privaat hospitale kan top mediese skole skep, met eerste wereld toerusting en die beste dosente wat geld kan koop. Vervaardigers sal ook begin kyk na ingenieurskole.

Paul ·

Pure aspris, skop teen die prikkels, tot hulle eendag die waarheid agterkom, dan skryf hulle die geskiedenis oor en vertel vir al wat wil hoor hulle het die wiel uitgevind.

sweiz ·

En as die afrikaanse studente nou die eff se voorbeeld volg en die universiteit onregeerbaar maak??

Jerry ·

AfriForum/jeug, dit hang nie net af van reg of verkeerd nie, dit hang alles af van julle benadering teenoor die UP en teenoor mense in die algemeen. N domastrante skoorsoek benadering, terwyl jy nie in n posisie is om skoor te soek nie, maak die kanse uitstekend dat jou regte vertrap gaan word. Hierdie uitdagende benadering waar julle geen respek toon teenoor julle opponente gebruik julle of doelbewus sodat die Afrikaner geen meer regte het behalwe by AfriForum/Solidariteit of omrede julle werklikwaar bloot domastrant is agv Afrikaner nasionalisme indoktronasie. Ek se al hierdie dinge want dit is wat waargeneem word. Hoekom op dees aarde sal julle nou slapende honde wil wakker maak by UP terwyl klasse steeds in Afrikaans asook Sepedi aangebied word. Hoekom reageer julle op die uitlating van n nuwe prinsipaal wat nog eers sy voete moet vind en nie weet dat sekere klasse steeds in Afrikaans aangebied word. Deur julle optrede is daar nou weer die moontlikheid dat die populiste op die bandwagon spring en “demand” dat daardie bietjie Afrikaans wat oor is ook onmiddellik gestaak word. Die groot verloorders gaan die studente wees wat tans steeds die geleentheid het om in Afrikaans hulle studies te voltooi. Wees verstandig en tree met groter omsigtigheid op sodat Afrikaanssprekende leerkragte en studente nie verder geteiken word en gevolge hoef te dra namens julle nie. Laat toe dat die laaste Afrikaanssprekende eers haar studies in Afrikaans voltooi voordat julle die pot roer en slapende honde weereens wakker maak!

Johan ·

As die studente nie self opstaan en aandring op afrikaanse onderrig nie sal daar niks gebeur nie. Die Dosente het in elk geval reeds tou opgegee. Dubbelmediumklasse was nie haalbaar nie aangesien hulle te hard moes werk. Hulle publiseer nie eers meer artikels in Afrikaans nie en daar is beswaarlik nuwe Afrikaanse Handboeke op die mark.

Deon ·

Afrikaanse akademici sal ook uitbeweeg. Hulle besef al lankal dat top SA universiteite besig is om te ontaard in bosuniversiteite. Afrikaanse studente sal dit besef sodra hulle in die buiteland werk soek. BIngs word nie meer gebruik vir ontwerp werk nie, net implementering en onderhoud. Dokters en tandartse moet weer eksamens skryf en selfs teruggaan na mediese skole. Kovsies se mediese graad word nie eers erken in New Zeeland nie.

Hendrik van George ·

Stem 100% saam! As jy nie in Engels kan funksioneer nie, het jy ‘n probleem.

Andrè ·

Ons kan redeneer soos ons wil. Dit sal nie help nie. Die enigste optrede wat SAL werk. STOP FINASIËLE DONASIES. Sonder die donasies sal universiteit ondergaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.