“Tukkies sloer met bewysstukke oor rasseklassifikasie”

VeeartsDaar is ’n sterk vermoede dat die Universiteit van Pretoria (UP) opsetlik uitsteltaktiek gebruik om nie bewysstukke oor beweerde diskriminerende toelatingsprosesse by die Fakulteit Veeartsenykunde aan AfriForum Jeug se regspan te voorsien nie, het AfriForum Jeug vandag gesê.

AfriForum Jeug het vanjaar op 13 Maart reeds ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 15 bewysstukke aangevra en dit was die derde keer in twee jaar wat dié versoeke aan die UP gerig is rakende topstudente wat vermoedelik op grond van ras nie die geleentheid kry om toelating tot die fakulteit te kry nie.

“Ons wag al sedert die begin van 2013 vir terugvoer op ons derde versoek en daar word steeds weggewyk van sekere bewysstukke,” het Charl Oberholzer, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Die laaste brief is op 9 September aan die UP gestuur waarna hulle 21 dae gegun is om te reageer nadat hulle weereens net gedeeltelike inligting verskaf het. Die UP het egter daarna weer aangedui dat hulle meer tyd gegun moet word.

“Hoe langer die UP sloer, hoe meer topstudente moet Suid-Afrika verlaat omdat daar onregmatig teen hulle gediskrimineer word,” sê Oberholzer.

Die volgende bewys van dokumentasie is onder meer vanaf die UP aangevra:

  • Die identiteit en aantal studente wat tot die Fakulteit Veeartsenykunde toegelaat is sedert 2009.
  • Alle inligting wat verband hou met befondsing wat die UP van die departement van hoër onderwys ontvang het ter vergoeding van beleide vir die “regstel van die verlede”.
  • Alle dokumente rakende korrespondensie oor die nadelige invloed van die toelatingsbeleid op individue wat vir toelating aansoek gedoen het.
  • Alle dokumente wat tot die goedkeuring van so ’n beleid gelei het.
  • ’n Kopie van die Universiteit se beleid oor onbillike diskriminasie op grond van ras.
  • Alle addisionele kriteria wat in aanmerking geneem is om die toelaatbaarheid van ’n student te bepaal asook die gewig wat daaraan geskenk is.
  • Die algehele deurvoer van studente wat sedert 2006 toegelaat is.

AfriForum Jeug het verlede jaar sowat 30 leerlinge, wat saam meer as 200 matriekonderskeidings verwerf het, verteenwoordig en met die UP se rektor, prof. Cheryl de la Rey en die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, geskakel oor kommer oor moontlike rassediskriminasie in die Fakulteit Veeartsenykunde nadat die UP te kenne gegee het dat befondsing vanaf die departement direk gekoppel is aan die rassesamestelling van die fakulteit. Sowat tien leerlinge wat deur AfriForum Jeug verteenwoordig is, is intussen tot die fakulteit toegelaat nadat lede van AfriForum Jeug saam met die betrokke studente hulle gesigte swart geverf het in protes teen rasseklassifikasie.

“Die versoek om inligting is gedoen namens ’n tweede- en derdejaarstudent aan die UP wat by AfriForum Jeug aangeklop het. Talle ander studente is reeds oorsee of moes van hulle droomberoep afsien,” sê Oberholzer.

Maroela Media wag nog vir kommentaar van die UP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JB ·

En as die anderskleuriges dit nie maak nie, is ons wittes goed genoeg om dan gekontak te word. Skande!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.