Tuks bly gesluit weens betogings

Een van Tuks se ikoniese geboue, "Die Skip" Foto: Mike Prins, Wikimedia Commons

Een van Tuks se ikoniese geboue, “Die Skip” Foto: Mike Prins, Wikimedia Commons

Die Universiteit van Pretoria bly tot verdere kennisgewing gesluit weens ʼn betoging oor kontrakwerkers en dreigemente van geweld en intimidasie.

Die universiteit het Sondag in ʼn verklaring gesê ʼn lang vergadering is Saterdag gehou ná kwessies wat verband hou met die samestelling van die universiteit se kommissie oor kontrakwerkers, opgelos is. “Ongelukkig is geen ooreenkoms bereik nie,” het ʼn woordvoerder van die departement van universiteitsbetrekkinge gesê. “Die betogers eis dat alle kontrakwerkers dadelik aangestel moet word en teen ʼn minimumsalaris van R10 000 per maand.”

Die universiteit het ʼn infaseringsbenadering voorgestel vir gekontrakteerde dienste, wat gekoppel word aan die datum wanneer bestaande kontrakte verstryk, met ʼn tussentydse bonusbetaling van bestaande salarisse. Dit is in lyn met soortgelyke ooreenkomste by verskeie ander universiteite soos die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die Universiteit van Johannesburg (UJ).

“Werkerverteenwoordigers en studenteverteenwoordigers het ongelukkig hierdie voorstel verwerp,” het die universiteit verduidelik. “Daar is verskeie ingewikkelde kwessies wat in ag geneem moet word, insluitend die feit dat die universiteit langdurige regsgeldige kontrakte met diensverskaffers aangegaan het en, indien dit gekanselleer word, sal daar beduidende finansiële boetes wees.”

Die universiteit het gesê hy bly nietemin toegewyd tot sy kommissie oor inkontraktering en ʼn volgende vergadering is geskeduleer.

“Die universiteit bly egter gesluit, aangesien ingange na die universiteit versper word deur betogers en dreigemente van intimidasie en geweld duur voort. Aanlynregistrasies duur voort en ons kommunikeer direk met ouers en studente. Personeel- en studenteportale kan gevolg word vir die jongste inligting,” het die universiteit gesê.

Volgens mediaberigte beplan werknemers om alle universiteite en kolleges, insluitend munisipaliteite, Maandag in Pretoria te sluit om teen uitkontraktering te betoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jordaan ·

Wat van die regte van die studente wie se ouers en beursgewers reeds betaal het om hulle daar te kry? Sommige studierigtings se lesings het reeds begin en die onderbrekings veroorsaak dat die kurrikulum nie behoorlik gevolg kan word nie?

MCS ·

Nee, so koop julle tyd! Mors studente se geld en tyd, want daar is horde wat nie werk het of sal kry, so hou hulle langer op universiteit en dan blameer ons die betogings op die hoe werkloosheid syfer!

Loon ·

Hoe moet daai R10 000 pm betaal word as daar geen klasgeld verhogings is nie?
Hoe dink hierdie lot…..of nee hulle kan nie dink nie!

Henri ·

Daardie muur, sonder vensters nogal) lyk baie aanloklik, amper soos ‘n arm, kaal meisie. Wil ‘n Ridder op ‘n wit perd nie dalk ‘n rokkie koop en haar aantrek nie? ‘n Mooi wit-en-swart rok soos die een van daai nou-weer- kaal een in Kaapstad, Of die nuwe een in NEW-YORK vanoggend op Facebook.

Sune van Heerden ·

Dagsê Henri

Let asseblief daarop dat die verskeie foto’s wat op sosialemedia rondgestuur word met die “Zuma must fall”-plakkate is alles fotos wat deur middel van ‘n program soos Photoshop geredigeer is. Die plakkate is nie werklik daar opgehang nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.