Tuks heropen Maandag maar…

Die Skip (Universiteit van Pretoria) Foto: AfriForum Jeug

Die Skip (Universiteit van Pretoria) Foto: AfriForum Jeug

Die Universiteit van Pretoria (UP) het Donderdag ʼn buitengewone vergadering gehou om die pad vorentoe te bespreek te midde van voortslepende #FeesMustFall-betogings by universiteite landwyd.

UP het verlede Maandag gesluit nadat die universiteitbestuur besluit het om, in die belang van die veiligheid van studente, personeel en universiteitseiendom, die Oktobervakansie te vervroeg.

“Tydens Donderdag se buitengewone vergadering het die senaat besluit wanneer die universiteit Maandag heropen, sal ʼn proses van gestruktureerde gesprekke met personeel en studente gehou word om die beroep vir gratis onderwys institusioneel te doen. Die gesprekke het reeds vandeesweek in sekere fakulteite begin,” het die universiteitsbestuur in ʼn verklaring gesê.

Hoewel die universiteit Maandag oopmaak, word die akademiese program opgeskort om voorsiening te maak vir die gesprekke.

“Die doel van Maandag se gesprekke is om ʼn gesamentlike antwoord te ontwikkel vir die nasionale beroep deur studente vir gratis onderwys. Studente se betogings hieroor het reeds tot die sluiting van minstens 17 universiteite gelei.”

Die universiteit sal die gesprekke gebruik om ʼn omgewing te skep waarin verskillende menings en perspektiewe gelig en aangehoor kan word.

“Die senaat het hierdie besluit nie ligtelik opgeneem nie, maar in oorleg met interne partye, waaronder die studenteraad en die bestuur van ander universiteite wat soortgelyke uitdagings ervaar.”

Die bestuur het gesê hy erken die kommer van ouers en studente wat gretig is om voort te gaan met die akademiese program. “Maar in die lig van die onlangse gewelddadige voorvalle by ander universiteite en in die belang van veiligheid, is dit belangrik dat die universiteit ʼn vlak van konsensus bereik om verdere ontwrigting te vermy.”

Personeel en studente word aangemoedig om aan Maandag se gesprekke deel te neem.

Lees meer oor die #FeesMustFall-betogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jordaan ·

Een party het reeds gesê slegs volledige gratis opleiding en gedekoloniseerde leerplanne is aanvaarbaar, anders maak hulle die universiteit onregeerbaar en sal dit “toe hou”. Watter konsensus dink die senaat is moontlik met iemand wat so standpunt het? Intussen moet studente wat wil studeer hulle toekoms op ys sit.

Grap ·

Swak…..gooi die moeilikheid makers uit en laat die studente wat wil studeer aangaan..
De la Rey moet loop en die universiteit oorgee aan iemand wat kan lei

ana ·

Hierdie gespekke beteken niks nie want die rektor beteken niks nie. Net nog n rektor wat agteroorbuig vir die klipgooiers.

Jan ·

En in die hele proses skitter Nambawan in sy afwesigheid. Nog nooit in my lewe van ‘n meer slapgat president gehoor as hy nie. Dis rerig nou tyd dat hy bedank, sodat ‘n ware leier kans kry om al die gemors wat hy veroorsaak, reg te stel.

Boela ·

Die probleem, Jan, is dat daar geen ware leiers, wat nog te sê van ware staatsmanne, in die ANC of enige van die ander swart-gedomineerde SA politieke partye is nie.

leon-Centurion ·

Weer tree De la Rey terug. Jy kan nie met die lot onderhandel nie. Sy leer nie haar les nie. Beskerm die reg van die oorgrootte meerderheid om te studeer. Die 500 of wat wat anargie voorstaan moet bloot vasgevat word. Die klompie het by Afrikaans begin en is nou by dekolonisasie. Wanneer gaan De la Rey en die regering besef daar is ander agendas op die spel. My raad, verlaat die universiteit sonder bestuur!

Linda ·

Ek sien ouers van een van die universiteite oorweeg ‘n klas aksie teen die universiteit in PE. Hulle voer reeds gesprekke daaroor. As my kinders nie hul jaar op UP kan voltooi nie sal ek geen steen onaangeroer laat om al my uitgawes van die universiteit terug te eis nie. Die eis sal ook wees vir die verlies van potensiële inkomste vir een jaar omdat my kinders die arbeidsmark ‘n jaar later gaan betree. Ek het ten volle betaal en eis ‘n teenprestasie van UP soos ons per kontrak ooreengekom het. Haal uit en wys UP!

Alida ·

Linda ek steun jou. My kinders is lankal afgestudeer maar steun jou met jou voorgenome klasaksie. Doen dit en leer hulle ‘n les.

gerbrandt ·

Die bestuur is hopeloos en De La Rey ‘n leier sonder leiereinskappe. Ons het lankal respek vir haar verloor en sonder respek is jy ‘n nul – net soos Wim by Stellenbosch en Price by UCT. Ek dink nie hulle besef dit nie. Hulle leef in hierdie waan dat hulle respekteer word en dat die publiek en studente opkyk na hulle toe maar die arme drommels het dit so verkeerd!!!

Disselboom ·

Lyk of demokrasie in elk geval ook by die deur uit is: die meerderheid gee te kenne hulle het genoeg verstand om te verstaan hulle moet betaal vir studie en wil aangaan met studie en studeer en klaar. Selfs Wits het 77% so gestem. Maar demokrasie word toe nie deur die staat verdedig en gehandhaaf nie. Tata orde.

Jan Jooste ·

TUKS topbestuur is absoluut ruggraatloos. Eers kan hul nie tydens vervroegde Oktober reses met FMF tot ‘n vergelyk kom nie. Dan op Donderdag abdikeer hul hul verantwoordelikheid, sonder vergoeding, na die Senaat wat op hul beurt dit Maandag abdikeer na naamlose studentevergaderings? Sonder ruggraat val intellek deur dit gat van lafhartigheid! Ek gaan kyk of NWU bereid is om op die last stadium my kind oor te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.