Tuks-moord: ‘Hulle moes hom dopgehou het’ sê vrou

johan-de-beer

Johan de Beer: Verskaf

Johan de Beer, die werknemer van die Universiteit van Pretoria (UP) wat Woensdagoggend dood in ʼn badkamer op die kampus gevind is, sal Dinsdag begrawe word.

Coosie, Johan (64) se vrou, het Donderdag aan Maroela Media gesê die nadoodse ondersoek sal na verwagting vandag afgehandel word. “Dit gaan maar rof hier met al die reëlings wat getref moet word en die polisieondersoek wat aan die gang is.”

Johan is Woensdag omstreeks 04:30 in ʼn badkamer van die Musaion-gebou op die Tuks-kampus gevind. Sy hande was met kabelbinders vasgebind en ʼn plastieksak oor sy kop getrek. Hy het vermoedelik versmoor.

Volgens Coosie het sy bekommerd geraak toe Johan Dinsdag teen 18:00 nog nie teruggekeer het huis toe nie en ook nie sy selfoon geantwoord het nie. Beeldmateriaal van veiligheidskameras het later gewys dat hy vroeër die middag geld by ʼn kitsbank op die kampus getrek het, voordat hy in die rigting van die Musaion-gebou gestap het. Hy het daarna uit die kameras se sig verdwyn.

“[Sy aanvallers] moes hom seker dopgehou het en gesien het hoe hy die geld trek. Ek dink hulle het seker gedink hy het ʼn groot bedrag geld getrek, want hy het verskeie kitsbanke probeer, maar almal was leeg. Eers by die vierde kitsbank het hy reggekom,” het sy gesê.

Sy vertel dat die kontant wat Johan getrek het weg was toe hy gevind is, maar dat sy bankkaarte om sy liggaam gestrooi gelê het. “Hulle wou duidelik net die kontant hê.” Sy selfoon, skootrekenaar en kosblik was nog in sy kantoor.

Coosie sê haar man was ʼn saggeaarde mens met ʼn groot liefde vir die kunste. “Hy was 17 jaar lank ʼn dosent in boukunde en boubestuur aan die universiteit, waarna hy as geriewebestuurder by Tuks begin werk het. Daardie plek was sy lewe. Hy het die kampus soos die palm van sy hand geken.”

Tog het Johan ook ʼn musikale kant gehad en was ʼn liedjieskrywer, komponis, digter en instrumentalis. Hy het klavier, kitaar, mondfluitjie en trekklavier gespeel, gereeld musiek komponeer en gedigte geskryf en was selfs die skrywer van ʼn gepubliseerde e-boek en ʼn digbundel.

Volgens Coosie sukkel die egpaar se seun (36) en dogter (31) om hul pa se dood te verwerk. “Hulle was albei baie na aan hom, veral ons dogter wat ook baie betrokke is by musiek en mal is oor sing,” het sy hartseer gesê.

“Die laaste keer dat ek met hom gepraat het, was Dinsdagoggend toe hy by die huis uit is. Hy het my in die kamer kom groet en gevra of ek geld nodig het vir kruideniersware. Toe het hy trots gesê dat hy sy kosblik onthou het wat ek die vorige aand vir hom gepak het. Hy het altyd sy kosblikke op die kas vergeet.”

Johan sal Dinsdag om 10:00 uit die Ou Apostoliese Kerk in Silverton begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Petro ·

Rus in vrede oom……Jys nou by JESUS op n bja veilige plek en aan die oom se vrou en kinders ek bid dat die HERE julle styf vas sal hou in die moeilike tyd en dit waar deur julle moet gaan met die verlies van julle pa.Ek ken nie die oom nie maar op die foto lyk hy sommer soos n dierbare mens.

Hartverskeurend ·

Hartverskeurend, niks kan dit beter beskryf nie. Ek dink sy aanvallers het hom geken, hul het hom dalk in die toilet in gelok met “iets is stukkend”. Die feit dat hul hom vir die paar rand vermoor het dui ook daarop. Regtig vir ‘n paar rand!!!!!!! Baie sterkte aan hierdie familie.

MCS ·

Vir n paar rand, wat in ander beskaafde lande niks beteken! Hoekom hom vermoor daarvoor? Ek is seker hy sou dit sommer net vir hulle gegee het! Maar ons kan mos moor in die land soos ons wil, daar is mos nie nagevolge vir ons dade nie! Wettelose Nuwe Rainbow RSA!

Piet Pompies ·

Die Tuks kampus is mos ‘n beperkte gebied waar slegs studente en werkers toegelaat, dit beperk die aantal verdagtes heelwat en as daar beeldmateriaal van die vermoorde is, sal daar ook wees van die moordenaar.

Rooijan ·

Presies wat ek ook gedink het. Die moordenaars moet ook iewers op video wees, dan begin mens net daar soek. Dit is skreiend ń kampus is veronderstel om ń veilige plek van leer te wees. Maar nou ja hoekom moet kampus personeel en studente nou beter toe wees wat veiligheid aanbetref binne die kampus as buite. Dit is hartseer as mens besef hoe goedkoop die lewe hier in ons land is. Sterkte aan die familie ons bid dat julle berusting sal vind.

#tuksstudent ·

Die probleem met die tyd van die jaar op kampus is, is dat al die hekke waar mens gewoonlik jou studentekaart “swipe” om toegang tot kampus te verkry is op “freeflow” tot registrasie afgehandel is en die nuwe jaar se studentekaarte uitgereik, is so enige iemand kan toegang kry tot die kampus. Baie sterkte aan die familie en vriende. Mag God jul dra in die tyd

Oosie ·

Slegs geregistreerde toegang tot die kampus. Kommerwekkend om te dink dat sy moordenaar(s) op kampus werk of studeer…

Ludwig ·

My opregte simpatie aan die gesin wat so getref is. Mens se hart gaan uit na hulle toe. Net iets heel terloops: “Cable ties” se mooi Afrikaanse naam is “trekstroppe”. Dis net ter inligting van die persoon wat die berig hierbo geskryf het.

Gerhardt ·

As jy vir my sê “trekstroppe” dan dink ek pornografie. Vir my werk die woord “kabelbinders” beter. Ek bewonder jou taalkennis nietemin.

Alki ·

Dit is om van te ween, my nooiensvan is De Beer, ek dan my indink hoe moet sy gesin voel nie. Liewe Vader vou hulle in U vertroostende arms toe.

Myrtle van Vuuren ·

Ons diepste simpatie aan daardie familie. My eie kinders studeer by Tukkies. Verlede jaar het twee mense na jul dood gespring en nou dit. Hoe veilig is ons kinders werklik?

Liewe lulu ·

My innige simpatie Ek kan niks verder sê nie want Dan lees jul van my OK more in die koerant So jammer

phillipae van Tonder ·

Aai my hart breek om te hoor hoe my Tuks agteruit gegaan het. Ek dank die Vader dat ek as jong meisie my studies kon begin en eindig in ‘n tyd waar ons ouers nog rustig kon slaap terwyl ons saans eksamen geskryf het in Bybelkunde en letterkunde.

JoeV ·

Regtig so onodig, maar die een het weer DAAI gevoel. As iemand sy beursie wou kry, het hulle hom plat geslaan en laat spander. Iemand wou iets anders met die beryk. Ons volg die pers.

Sunel ·

Ek stem joev….. As dit werklik ‘n “lukrake” (random ) aanval was, hoekom is hy vasgebind met cable ties??? Of is ek die enigste mens wat die goed nie in my sak ronddra tussen my tissues en naelvyltjie nie?? Dit klink vir my verdag…. Nog ‘n ding; die feit dat hy by verskeie OTM’e nie reg gekom het nie, laat my wonder… iemand het hom gedwing om geld te trek en van angs kon hy dalk verkeerde pin insit?? En uit frustrasie is hy van bank tot bank gedwing?? Het die polisie dalk só iets ondersoek? My hart gaan uit aan sy mense. Dis onverstaanbaar

A.P ·

Ek dink nie hierdie was oor geld nie, ek meen wie dra kabelbiners by hulle… Mens mag dink wat jy wil maar jy mag mos nie se wat jy wil nie… Sterkte aan die familie. So baie jammer

Jeno ·

Ek het saam met Johan gewerk vir ‘n rukkie, hierdie is ‘n groot skok. Ek hou duim vas dat Colin en sy span hierdie geweldenaars sal ontbloot en dat hulle sal kry wat hulle verdien. Mag ons Vader sy vrou en kinders bewaar en ek bid hulle vrede toe – Johan dit was ‘n voorreg.

SNEL ·

Voel baie jammer vir die familie wat in so baie smart gehul is nou. Nooit maklik om n geliefde aan die dood af te staan nie, wat nog te sê op so manier en so onnodig. Pleks vat hulle net die geld, maar miskien het hy hulle geken en dis daaroor wat hy dood is. Baie sterkte aan die familie, mag die Here julle dra deur die tyd.

schalk ·

hy het altyd n mens met die grootste glimlag en warmste hand druk gegroet, hy het liefde en respek gehad vir sy mede mens.
ons gaan jou mis Broer De Beer.

hennnie olivier ·

Baie jammer dat so insident moet gebeur. Mag sy familie en vriende vrede vind by Jesus. Ek was die 22 ste Desember by die kampus saam met my dogter om n afspraak na te kom by die wetenskappe 2 gebou. Dit was doodstil met paar bouers wat seker kontrakwerk gedoen het. Ek en my dogter het juis gesels oor hoe maklik enige iemand by die kampus kan inkom sonder om ddeur die draaihekke te gaan. Ek was al paar keer daar binne. Wil nie daaroor uitbrei want verkeerde ore kan dit hoor maar dit is eintlik verspot maklik en mense moenie dink dat die skuldiges net noodwendig daar gewerk het nie . Ek het eendag by die motorhek by Nerina net gese ek gaan na daardie blou gebou om die dekaan te sien en die sekuriteit het my ingelaat . Te voet natuurlik. Hierdie was tye wat die draaihek sekuriteit we’ll in werking was. Sekuriteit sal beslis moet opgeskerp word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.