Tuks-prof tot regter van Internasionale Geregshof verkies

Prof. Dire Tladi (Foto verskaf deur die kantoor van die president)

Pres. Cyril Ramaphosa het prof. Dire Tladi van die Universiteit van Pretoria geluk gewens met sy verkiesing tot die Internasionale Geregshof deur die Verenigde Nasies.

Die kabinet het in Mei vanjaar Tladi se nominasie deur die Suid-Afrikaanse regering goedgekeur, sowel as die land se lidmaatskap van die Permanente Arbitrasiehof.

Ramaphosa sê Tladi se verkiesing is ʼn “uitsonderlike persoonlike prestasie en die land deel met groot trots hierin”.

“Ons waardeer die vertroue wat die VN in sy vermoëns het. Hy word die nuutste lid van ʼn groep Suid-Afrikaners wat wêreldwyd ʼn diens aan die internasionale gemeenskap lewer en belangrike bydraes maak tot die beter wêreld wat ons wil bou.”

Hy het Tladi sterkte toegewens met sy werk by die hof in Den Haag, Nederland.

Die rol van die Internasionale Geregshof is om dispute op te los wat deur state aan hom voorgelê word, in ooreenstemming met internasionale reg. Die hof moet ook raad gee oor regsvrae van die VN en gespesialiseerde agentskappe.

Die hof bestaan uit 15 regters wat vir ʼn ampstermyn van nege jaar verkies word.

Tladi is ʼn vooraanstaande akademikus in internasionale reg. Hy was al akademikus, staatsamptenaar, diplomaat en praktisyn op dié gebied.

Hy is ʼn professor in internasionale reg by die UP en dien as president van die Suid-Afrikaanse tak van die Internasionale Regsvereniging. Hy is ook ʼn uitvoerende lid van dié vereniging.

Hy was voorsitter van die Internasionale Regskommissie, ʼn instelling van die VN wat as kweekskool vir die Internasionale Strafhof beskou word.

Hy was voorheen regsadviseur vir die Suid-Afrikaanse ambassade in New York en spesiale raadgewer vir Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.