Tuks-springdood: Man was ʼn student

Die toneel waar 'n student Maandag oggend na sy dood gespring het. Foto: @TuksFM1027 / Twitter

Die toneel waar ‘n student Maandag oggend na sy dood gespring het. Foto: @TuksFMNews / Twitter

Die man wat Maandagoggend by die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus na sy dood gespring het, was ʼn student.

Die student het glo van die 21ste verdieping van die Geesteswetenskappe-gebou gespring.

Nicolize Mulder, ʼn woordvoerder van die universiteit, het by navraag aan Maroela Media die voorval bevestig. “Die Universiteit van Pretoria bevestig die onnatuurlike dood van ‘n student by die Hatfield-kampus. Ons kan tans geen verdere besonderhede in hierdie verband bekend maak nie,” het sy gesê.

Die naam van die student is nog nie bekend gemaak nie. Mulder sê die universiteit sal die student se naam bekend maak indien sy ouers hul goedkeuring gee.

“Traumaberading is beskikbaar gemaak vir alle personeel en studente wat deur die voorval geraak is,” het Mulder bygevoeg.

Johan Pieterse, ʼn woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media bevestig die nooddienste het die man se liggaam verwyder. Lees meer hier.

Kapt. Colette Weilbach, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. “Geen vuilspel word vermoed nie. Die man se identiteit mag nog nie bekendgemaak word nie,” het Weilbach gesê.

Maroela Media het vroeër berig dié voorval volg skaars ʼn maand nadat Danny Nortjé-Rossouw (44), ʼn dosent in rekeningkunde, ook van die 21ste verdieping van die Geesteswetenskappe-gebou na sy dood gespring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.