Tuks-student sterf skielik: “Haar dood laat ’n groot leemte”

Amorette Snyman in haar Voortrekkerdrag (Foto: Verskaf)

“Haar dood laat ’n groot leemte.”

Só vertel Annélia Snyman, ma van die 19-jarige Amorette wie se jong lewe verlede week onverwags kortgeknip is. Amorette was ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) en ook ’n oud-leerder van Hoërskool Waterkloof in Pretoria.

Snyman vertel Amorette was verlede week saam met haar vriend, Pierre van Rensburg (19), en sy familie met vakansie by Brenton-on-Sea in die Wes-Kaap. Sy en Van Rensburg het die betrokke dag na Buffelsbaai se strand gestap, waar hulle almal gaan swem het.

“Sy het in die water vir Pierre genoem dat haar hart ‘koud’ voel. Sy het ook gesê dat sy nie lekker voel nie. Hy het haar uitgehelp, maar in die vlak water het sy skielik inmekaargesak,” vertel Snyman.

Die lewensredders het haar uitgetrek en suurstof toegedien terwyl hulle vir die ambulans gewag het. Sy is vandaar na Knysna-hospitaal vervoer waar hulle haar vier keer moes resussiteer, omdat haar hart elke keer gaan staan het.

“Hulle het waargeneem dat haar hart aritmies begin klop het, maar hulle kon nie presies bepaal wat dit veroorsaak het nie.”

Snyman sê hulle vermoed dat sy ʼn onderliggende hartkwaal gehad het waarvan hulle nie bewus was nie.

Amorette en haar vriend Pierre by hul matriekafskeid (Foto: Verskaf)

“Die dokter aan diens het my laat Donderdagmiddag geskakel en gesê hy kan nie waarborg dat Amorette dit deur die nag gaan maak nie, want hulle kan haar ook net soveel keer resussiteer voordat haar hart finaal ingee.”

Amorette is later die aand genoeg gestabiliseer dat hulle haar na die George-hospitaal se hoësorgeenheid kon oorplaas.

“Ek sou vroeg Vrydag van Pretoria na George gevlieg het om by haar te wees, maar is gedurende die nag laat weet dat sy Vrydagoggend om 01:10 oorlede is. Haar hart het weer gaan staan. Haar hart was ook ongelukkig net te swak om weer aan die gang te kry.”

Amorette het vanjaar BSc Rekenaarwetenskap aan Tuks begin studeer.

Volgens Snyman was Amorette ’n veelsydige leerder wat in sport, kultuur asook akademie uitgeblink het.

“Op laerskool het sy aan onderwaterhokkie deelgeneem en was deel van die SA-span wat in 2014 tydens die SA kampioenskap in Stellenbosch teen Nederland deelgeneem, en gewen, het.” Op hoërskool het sy aan hokkie deelgeneem en was die B-span se doelwagter.

Volgens Snyman was Amorette ook baie kunstig en het sy tot in matriek kuns as ʼn vak gehad. Sy het in die kunste besonder uitgeblink en het verskeie sertifikate verwerf vir haar kunswerke. Sy het onder meer in 2016 ’n A++ op die Pretoria Eisteddfod behaal en was ook kategoriewenner in beeldende kunste. Sy wou graag ná skool aanhou met kuns as ʼn stokperdjie.

Amorette se selfportret met blikkies spuitverf en olieverf gedoen (Foto: Verskaf)

“Sy was ʼn perfeksionis in haar werk en het baie ure – en soms deurnag – aan ʼn kunswerk bestee om dit perfek te kry, al was sy self baie krities oor haar kuns en nooit heeltemal tevrede met die finale produk nie.”

Snyman sê haar dogter was ook ’n akademiese uitblinker in haar ander vakke, maar was veral lief vir kuns en geskiedenis.

Amorette was ook betrokke by die Voortrekkers en het haar Voortrekkerloopbaan in 2010 as ’n Drawwertjie by Rietvallei Kommando afgeskop. In 2014 het sy Voorslag Goud verwerf en ’n jaar later was sy deel van die Swaeltjiespan as Verkenner.

In 2016 was sy deel van die groep wat oor die Drakensberg met ossewaens getrek het vir die Voortrekkers se 85ste gedenkjaar. In 2018 is sy verkies as kommandojeugleier by Rietvallei en in 2019 het sy die Presidentsverkenner-toekenning verwerf.

“Sy was trots om ’n Voortrekker te wees en baie lief vir haar Voortrekkermaats saam met wie sy vir tien jaar die lekker – en soms ook die nie-so-lekker – van Voortrekkerwees gedeel het.”

Rietvallei Voortrekkers het op hul Facebook-blad hul hartseer oor Amorette se skielike heengaan uitgespreek.

“Ons harte is gebreek omdat jy té vroeg gegaan het, liewe Amorette. Amorette was ʼn sagte mensie met baie talente en vaste waardes. Sy kon uitstekend organiseer en jy kon altyd op haar staatmaak vir hulp en ondersteuning in alle situasies,” lui die Facebook-inskrywing.

Hoërskool Waterkloof het ook op hul Oud-Klofies-Facebookblad sy innige meegevoel met Amorette se familie en vriende betuig.

“Dit is met groot leedwese dat ons van die skielike afsterwe van Amorette verneem het. Ons gebede vir vertroosting en berusting gaan uit aan haar familie. Mag Liewe Jesus julle dra in hierdie tyd. Soos in haar kunswerk gesien kan word was sy ʼn fighter, maar Liewe Jesus het haar kom haal om aan sy sy te fight,” lui die skool se inskrywing.

Amorette saam met haar ma, Annélia,, en suster,Twané, by Annélia se vyftigste verjaarsdagvieringe (Foto: Verskaf)

Snyman sê sy sal Amorette onthou as ’n sagte kind wat baie gou vrede sou maak indien daar onmin was met enigeen. Volgens dié ma was haar dogter ook ’n besonderse sterk mens met baie hoë waardes en standaarde waaraan sy haarself en ander gehou het.

“Sy was ʼn vegter teen die onregverdige en het geweet hoe om vir haarself op te staan en het nie toegelaat dat ander mense oor haar loop nie. Sy was soos ’n roos; ʼn pragtige blom om na te kyk, maar met skerp dorings wat sou steek as jy nie sagkens genoeg met haar sou werk nie.”

Amorette word oorleef deur haar ma, Annélia, pa Corney, ouer suster, Twané, en kêrel van die afgelope 18 maande, Pierre van Rensburg.

’n Gedenkdiens vir haar vind Vrydag om 11:00 by Collage Gemeenskapskerk in Elarduspark, Pretoria, plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

VannieBaai ·

Why do the good have to die young? Innige simpatie aan geliefdes en vriende. Mens weet nie hoekom dié goed gebeur nie, maar die hemel is vir seker nog ‘n pragtige engel ryker. Baie sterkte vir julle in hiérdie moeilike tyd.

Jakes ·

Ons innige meegevoel met die pragtige kind se familie en vriende. N tragiese gebeurtenis maar sy het almal om haar se lewens verryk.

Kirsten ·

‘n besonderse pragtig mens binne en buite. Jy word ongelooflik baie gemis vriendin.

Geurt ·

Ai as ‘n jong lewe gaan maak dit my so hartseer. Ek berus egter ook daaarin dat die Hemelse Vader haar vroeer by sy rus ingelaat het. Mag die ouers berusting en rustigheid kry om hulle in die deurmekaartyd by hul huis, deur te neem.

Chantel ·

Bitter hartseer, sterkte aan haar gesin, familie en vriende.

Agter die skerms ·

Liewe Jesus sy is pragtig. RIV Amorette. VannieBaai baie keer dink ek ook hoekom pragtige mense en oor die algemeen jong mense so jonk doodgaan.

Opinie ·

My ma het altyd gese, “my kind, jong mense kan dood gaan en ou mense moet dood gaan”
Baie sterkte aan familie en vriende, sy was voorwaar n besondere mensie. RIV Amorette.

SomeOne ·

sterkte aan almal wat geraak word
ons sal nie nou verstaan van haar heengane nie, maar eendag sal ons weet wat was Ons Vader se doel met haar was

koekoes ·

Sterkte aan haar gesin, familie en vriende. Sy is nog so jong

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.