Tuks-veeartse lei herlewing van Indië se jagluiperds

Een van die jagluiperds wat binnekort in Indië hervestig gaan word. (Foto: Universiteit van Pretoria)

ʼn Groep van 12 jagluiperds word voorberei om in Indië hervestig te word as deel van ʼn projek om die wêreldwye oorlewing van die spesie te verseker – en ʼn groep veeartse verbonde aan die Universiteit van Pretoria speel ʼn leiersrol op die gebied.

Projek Cheetah is ʼn inisiatief wat deel vorm van ʼn langtermynplan om die getal vrylopende jagluiperds wêreldwyd te verhoog. Die majestueuse diere se getalle daal steeds, ten spyte van grootse pogings om hul oorlewing te verseker. Volgens die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) is daar in die hierdie stadium net 7 000 jagluiperds in die natuur oor.

Prof. Anthony Tordiffe, verbonde aan Tuks se Fakulteit Veeartsenykunde, sê daar is toenemende kommer oor pogings om nuwe blyplek vir die diere te vind om te verseker die vrylopende bevolking groei op ʼn volhoubare en bestuurbare manier.

“Baie min natuurreservate in Suid-Afrika kan jagluiperds huisves en indien daar nie nuwe ruimte gevind word om die groeiende bevolking te akkommodeer nie, gaan die diere op voorbehoedmiddels geplaas moet word om hul getalle te beperk,” sê Tordiffe.

“Dit sal tragies wees terwyl daar beskermde gebiede binne hul historiese verspreidingsgebied elders ter wêreld is.”

Jagluiperds is vantevore oor groot dele van Indië en die substreek aangetref en Projek Cheetah hoop om die enigste groot soogdier wat in onlangse tye in Indië uitgesterf het, weer daar te hervestig om die balans binne die ekostelsel waarbinne die diere eens gewoon het, te herstel.

Belangrike rol in ekostelsel  

Die verskuiwing sal ook die eerste inkontinentale spesie-herbekendstelling van sy soort wees. Jagluiperds speel ʼn belangrike rol as ʼn sleutelspesie in sommige Indiese parke en hul teenwoordigheid kan lei tot meer gefokusde ekostelselbewaring. Dit kan weer tot voordeel van ander spesies in Indië lei.

Die projek is ʼn samewerkingsinisiatief tussen die Indiese en Suid-Afrikaanse regerings en is van stapel gestuur nadat Indië begin het met ʼn ontwikkelingsplan wat groot klem op die omgewing plaas.

Tordiffe en prof. Leith Meyer, direkteur van die sentrum vir veeartseny-wildlewenavorsing by die fakulteit, werk sedert 2020 saam met die Wildlewe-instituut van Indië en die Indiese Tierbewaringsowerheid aan die hervestiging van die jagluiperds.

Vincent van der Merwe bestuur die jagluiperd-metabevolking in Suid-Afrika en het die 12 diere wat in die Madhya Pradesh-staat hervestig gaan word, uitgesoek.

Jagluiperds is onlangs ook van Suid-Afrika na Mosambiek en Malawi uitgevoer. Die bevolking in Malawi vaar so goed dat sommige van die diere dalk nou weer na Suid-Afrika gestuur kan word om die uitruil van gene te verseker.

“Ons moet dapper stappe doen om die toekoms van die spesie te verseker. Indien nie, gaan daar oor 50 jaar geen ander jagluiperds as dié in aanhouding wees nie,” sê Tordiffe.

Die dier wat in Indië uitgesterf het, word as ʼn Asiatiese jagluiperd, ʼn ander subspesie as die Suidelike Afrika-jagluiperd, beskryf. Slegs sowat 20 Asiatiese jagluiperds word vandag nog in Iran aangetref en die bevolking daar is só klein dat dit nie opgebreek kan word nie.

Ander naby verwante jagluiperds in die noordweste van Afrika word ook kritiek bedreig.

Die enigste groeiende jagluiperd-bevolkings wêreldwyd wat groot genoeg is hiervoor, word in klein private reservate en staatswildtuine in Suid-Afrika aangetref. Hoewel daar moontlik klein genetiese verskille tussen die Suidelike Afrikaanse jagluiperd en die Asiatiese jagluiperd is, is die rol wat hulle in ʼn ekostelsel vervul, identies.

Aanpasbaar

Die 12 jagluiperds word in twee kwarantynkampe gehou voor hulle na verwagting op 12 Augustus na Indië vertrek. (Foto: Universiteit van Pretoria)

Jagluiperds is betreklik aanpasbaar in ʼn verskeidenheid omgewing- en klimaattoestande. In Suidelike Afrika vaar hulle goed in reservate landwyd: van die droë semiwoestyngebied in die westelike dele van die streek, tot die natter bosveldgebiede in die ooste. Daar is dus geen rede om te glo dat hulle nie ook vinnig by toestande in Indië gaan aanpas nie.

Die diere wat vir hervestiging in Indië geoormerk is, kom van verskeie klein reservate in Suid-Afrika en word nou in twee groot kwarantynkampe by verskillende fasiliteite gehou voordat hulle by die Kuno-wildtuin in Indië vrygelaat gaan word.

Hulle sal na verwagting op 12 Augustus na hul tuiste vertrek.

Tordiffe het groot lof vir die Indiese Tierbewaringsowerheid in Indië wat die getalle van die wilde tier- bevolking daar oor die afgelope dekade verdubbel het.

“Hulle het die afgelope tien jaar wonderlike werk in Indië gedoen en het die ekologiese en veeartsenykundige kundigheid om ʼn nuwe bevolking jagluiperds te bestuur. Indië bied ʼn wonderlike vooruitsig vir nuwe tuistes vir sommige van ons jagluiperds met sy plan om die diere terug na Asië te bring.”

Hoewel die omgewing daar soortgelyk is, met droë oop grasvelde, is die grooste verskil dat die meeste van die reservate nie omhein is nie.

“Dit is ʼn doelbewuste beleid wat die vrye beweging van wildlewe toelaat,” sê Tordiffe.

“Hulle hanteer konflik tussen mense en wilde diere deur boere vir veeverliese te vergoed. Daar is ook ʼn ander kultuur; dit ontmoedig die doodmaak van diere en maak sommige aspekte van bewaring effens makliker. Die gebrek aan heinings bied verseker uitdagings, maar ons glo ons kan dit te bowe kom.”

Tordiffe se rol is om te verseker die jagluiperds kom veilig uit Suid-Afrika in Indië aan en om dan te help met siektevoorkoming.

Ten spyte van kommer uit sommige oorde sê Tordiffe siekterisiko’s is minimaal vir die diere en dat dit boonop deur kwarantyn- en inentingsprogramme bestuur kan word.

“Hierdie is die eerste groep. Ons sal waarskynlik meer, maar kleiner getalle in die toekoms stuur. Dit sal amper elke jaar oor die volgende vyf tot tien jaar plaasvind tot ons help om ʼn stabiele bevolking in Indië te vestig.

“Die jagluiperds gaan nie vir altyd vir Suid-Afrika verlore wees nie. Die Indiese bevolking gaan altyd beskou word as dat dit ʼn verband met die Suid-Afrikaanse bevolking het, omdat daar ʼn voortgesette uitruiling van diere sal wees om die doeltreffende vloei van gene te verseker.”

Tordiffe sê die projek gaan ook nuwe geleenthede skep vir Indië en Suid-Afrika om saam wildlewenavorsing te doen.

“Daar is heelwat wat ons by mekaar kan leer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.