Tumi Morake, gesin in ongeluk

Tumi Morake. Foto: JacarandaFM

Die komediant en radio-aanbieder Tumi Morake en nege ander mense is Vrydagaand in ʼn ongeluk in Noordwes beseer.

Monica Steyn, Morake se agent, het Saterdag aan Maroela Media gesê Morake was saam met haar man en drie kinders op pad na Sun City in Noordwes vir ʼn vakansie toe die ongeluk plaasgevind het.

Morake se geborgde voertuig en nog ʼn motor het omstreeks 19:00 op die R556 buite Rustenburg gebots. Paramedici van ER24 en ander nooddienste was op die toneel.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is altesaam tien mense, onder wie drie kinders, in die botsing beseer.

“By paramedici se aankoms op die toneel is die wrakke van twee ligte voertuie aan die kant van die pad aangetref. Sommige van die beseerdes het op die ongelukstoneel rondgeloop, terwyl die ander nog in hul voertuie gesit het,” het Meiring gesê.

Meiring het gesê die tien mense het geringe tot matige beserings opgedoen. “Daar was gelukkig in dié voorval geen ernstige en noodlottige beserings nie.”

Al die beseerdes is op die toneel behandel en na die Medicare Rustenburg geneem vir mediese behandeling.

Osman Osman, ʼn toer- en konsertpromotor, het die aankondiging omstreeks 20:31 op Twitter gedoen waarin hy gesê het Morake en haar gesin was in ʼn ongeluk betrokke.

“Hulle is oukei en onder mediese sorg. Julle gedagtes en gebede word waardeer,” het Osman gesê.

Steyn het ook bevestig dat Morake en haar gesin in die hospitaal opgeneem is en oornag daar gehou is vir waarneming. “Hulle het geringe beserings opgedoen. Hoewel hulle ʼn bietjie geskok is, is hulle oukei,” het sy gesê.

Die oorsaak van die botsing is nie bekend nie en word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.