Tussenverkiesings kan wys hoe die politieke wind waai

da-anc-eff

Argieffoto

Vier tussenverkiesings landwyd kan in die aanloop tot die finale kiesersregistrasienaweek wys hoe die politieke wind waai.

Die eerste tussenverkiesing vind Woensdag plaas in wyk 1 van die Thaba Chweu-munisipaliteit, wat setel in Sabie. Die wyk omvat die township Mashishing en in 2016 het die ANC 84% van die stemme daar getrek.

Met net die ANC en die EFF wat deelneem, is dit ’n gulde geleentheid vir die EFF om hul spiere te bult in ’n plattelandse wyk aanliggend tot Limpopo. Op hul beurt sal die ANC wil wys bewerings dat hulle steun aan die EFF afstaan in die noorde van die land is onwaar. Dis opvallend dat die DA, wat in 2016 die tweede meeste steun in die wyk getrek het, glad nie ’n kandidaat gestel het nie.

Die drie ander tussenverkiesings vind aanstaande week in die Wes-Kaap plaas – een in die platteland en twee in Kaapstad.

Die plattelandse tussenverkiesing is in die Bergrivier-munisipaliteit se wyk 5 en kan ’n verdere nagmerrie vir die DA word. Die wyk omvat die dorpies Eendekuil en Redelinghuys in die Sandveld en is in 2016 naelskraap deur die DA teen die ANC verower.

Die gebied het ’n bewese geskiedenis van steun vir die ANC en vir mev. Patricia de Lille, en is naby aan Graafwater en Klawer, waar die DA twee wyke in November aan die ANC afgestaan het. As die DA hierdie wyk ook verloor, sal die rooi ligte vir die party brand, en sal selfs die DA se halsstarrige provinsiale leierskap moet erken hul hantering van mev. Patricia de Lille was ’n potensieel fatale politieke flater.

Die groter toets vir die De Lille-effek op die DA is in Kaapstad wyk 31, in die hart van die Afrikaanssprekende bruin stedelike werkersklas. Dit sluit ʼn gedeelte van Bonteheuwel in, asook buurte soos Kalksteenfontein, Charlesville, Montana en Valhalla Park op die Kaapse Vlakte.

In 2016 het die DA 84% van die stemme daar gekry, maar die raadslid, Jonathan Cupido, het bedank uit protes teen hoe die DA vir De Lille behandel het. Dit is dus ’n belangrike toetswyk.

Die ander Kaapse tussenverkiesing is in ’n sterk ANC-gesinde gebied, naamlik wyk 101, wat die plakkerskampe Wallacedene en Bloekombos buite Kraaifontein insluit. Mens sal hier kan sien wat die ANC, die DA en die EFF se vooruitsigte vir swart steun in die Kaapse metro is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bollie ·

Nee, maar sal seker n Woensdag in die middel van die week in n maand wees met geen vakansie dae nie sodat ons nie kan baat by dit nie, nie dat baie van ons stem nie, die verkiesing is nie in ‘ons’ minderheid se hande nie

Alida ·

Ons moet maar stem maar weet reeds die ANC gaan inkom en verder plunder, brand en verwoes. Die duisende wat nie eers eksamen geskryf het nie draf agter JM aan.

remondo ·

almal moet stem – dit sal net ANC minder “volmag” gee om te maak wat hulle wil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.