Tussenverkiesings onbepaald uitgestel

Argieffoto

Argieffoto

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het alle tussenverkiesings onbepaald uitgestel hangende die uitslag van sy appèlaansoek by die konstitusionele hof oor adresse op die kiesersrol.

“Die OVK het besluit om alle tussenverkiesings, insluitend dié op 6 April uit te stel, in die lig van die voortslepende onsekerheid wat betref geldigheid van die kiesersrol waar die kommissie nie oor die kiesers se adresse beskik nie,” het die organisasie Maandag gesê. “Die kommissie sal die uitstel van die tussenverkiesings hersien sodra die konstitusionele hof uitspraak gelewer het oor die appèlaansoek, alhoewel die besluit ook beïnvloed sal word deur die 2016 munisipale verkiesings wat, kragtens die Grondwet, tussen 18 Mei en 16 Augustus vanjaar moet plaasvind.

Die kommissie het Vrydag met David van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake en provinsiale LUR’e vergader om die uitstel van die tussenverkiesings te bespreek.

“Die kommissie het van die geleentheid gebruik gemaak om die minister en die LUR’e in te lig oor die impak van die verkiesingshof se uitspraak oor die insluit van adresse op die gesertifiseerde kiesersrol vir tussenverkiesings, en die risiko van die uitslae van enige tussenverkiesing wat tersyde gestel word hangende uitsluitsel oor die saak van die konstitusionele hof.”

Die konstitusionele hof het in November verlede jaar die uitslag van die tussenverkiesings van 2013 in Potchefstroom, Noordwes, tersyde gestel en beslis dat dit weer gehou moet word. Die tussenverkiesings is daarna vir Februarie vanjaar geskeduleer. Onafhanklike kandidate in Tlokwe het daarna gekla dat sommige kiesers se name wat op die kiersrol verskyn, nie adresse het nie. Hulle het die verkiesingshof genader en die hof versoek om die konstitusionele hof se uitspraak te interpreteer. Die verkiesingshof het daarna die tussenverkiesings met ses weke uitgestel en die OVK aangesê om ʼn kiesersrol met al die adresse van die kiesers aan alle kandidate in die Tlokwe-tussenverkiesings te verskaf.

Die OVK het dringend appèl aangeteken by die konstitusionele hof, met voorsitter Glen Mashinini wat aangedui het dat die uitspraak deur die verkiesingshof ʼn aantal onsekerhede geskep het wat betref die interpretasie van die konstitusionele hof se uitspraak. Mashinini het in daardie stadium gesê dit is nog nie duidelik of die gebrek aan ʼn adres op die kiesersrol beteken dat daardie kieser ongeldig is nie.

Die finale registrasieveldtog vir die 2016 plaaslike regeringsverkiesings word komende naweek gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jordaan ·

So verkiesings in die verlede het maar aanvaar watter adres deur kiesers verskaf is. Was daar enige kontrole om te voorkom dat iemand in meer as een wyk stem,,behalwe die ink op die duim?

Swanna ·

Hoe kan jy persone op ‘n kiesers lys plaas en hulle is nie gekoppel met ‘n adress nie. Dit is korrupsie op sy beste en sommer so openlik. Hierdie mense wil met moord wegkom sonder dat daar aan verhoor plaasgevind het. Die ANC is besig om die stryd te verloor en is besig om alle agterbakse maniere te bewimpel om persone op die kiesers lys te kry wat geensins bestaan nie soos hulle alreeds in die verlede ook gedoen het. Regte ZUMBIE denk wyse.

Marous ·

Wie gaan die kostes dra? Onbevoegde spul maak my siek verby

Frederik ·

‘n Elektroniese stemproses is die antwoord, maar dan kan die ANC niks steel nie. Daarom sal hul nie na so iets kyk nie.

Scalla ·

Kan hulle nie besef hul beskik nie oor die bevoegdheid en kundiges om die werk te doen nie. Bewys van woonadres moet verpligtend wees ten minste, inkomstebelasting nommer sal natuurlik die beste wees, dan kan daar vas gestel word wie die ontduikers is en indien nie geregistreer is nie, geen stem want dan word daar geen bydrae gemaak nie en het dus nie n se in die eens pragtige land nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.