Tussenverkiesings se wenners, verloorders

Foto: Henk Kruger/African News Agency (ANA)

ʼn Versplintering in die bruin stem landwyd, agteruitgang vir die DA, stabiliteit vir die ANC, groei vir die VF Plus, teleurstelling vir die EFF, blydskap vir die IVP en die feit dat elke stem tel. Dít was die belangrikste neiging wat gespruit het uit die 95 tussenverkiesings wat Woensdag landwyd plaasgevind het.

Die ANC het gewen in 70 wyke, die DA in 16, die IVP in vyf, en daar was een oorwinning elk vir die VF Plus, Good, Al Jamaah en die Patriotic Alliance.

Die ANC het twee wyke verloor – een aan die DA in Aliwal-Noord en een aan die IVP in Nkandla. Die ANC het wyke afgeneem by die DA in Philipstown, Hartbeespoort, Lenasia, Hartswater en Vereeniging.

Die ANC het die twee Noord-Kaapse stadsrade waar in alle wyke tussenverkiesings gehou is – Renosterberg (Philipstown) en Phokwane (Hartswater) – met gemak behou.

Vir die ANC sal die lekkerste van Woensdag se uitslae die manier wees waarop hy sy posisie in plattelandse wyke verbeter het, en die wyse waarop hy die EFF se aanslae in Noordwes, Limpopo, Gauteng en die Vrystaat afgeslaan het.

ʼn Bron van kommer vir die ANC sal die party se verswakte vertoning in KwaZulu-Natal wees.

Die DA het ʼn slegte dag gehad, maar dit kon erger gewees het. Die DA het ʼn wyk in Aliwal-Noord by die ANC afgeneem, en ʼn wyk in Hennenman van die plaaslike Civics-groep. Die oorwinning in Hennenman was met ʼn meerderheid van slegs drie stemme.

Dit was een van verskeie wyke waar minder as 100 stemme die verskil tussen wen en verloor beteken het, en een van twee wyke waar die meerderheid minder as tien stemme was.

Die DA het nege wyke verloor – aan die ANC in Philipstown, Hartswater, Hartbeespoort, Lenasia en Vereeniging; aan Al Jamaah in Lenasia; aan Good in George; aan die VF Plus in Potchefstroom en aan die Patriotic Front in Riverlea, Johannesburg.

Die DA het wyke behou in Durban-Noord, Pietermaritzburg, Margate, Secunda, Emalahleni (Witbank), Petrusville, Kuilsrivier, Vredenburg, Paarl, George (drie wyke) en Knysna (twee wyke).

In reaksie het die DA die kiesers bedank wat vir hom gestem het, en sy verliese blameer op die wêreldwye en landwye toename in identiteitspolitiek, sowel as die party se swak hantering van twee debakels – die omstredenheid by die Laerskool Schweizer-Reneke verlede jaar en die omstredenheid rondom die bedanking van Patricia de Lille as burgemeester van Kaapstad.

Dit sou die DA nie kon ontsnap hoe laag sy opkoms van wit Afrikaanse kiesers noord van die Vaalrivier was nie – spesifiek in Vereeniging, Hartbeespoort en Secunda – laasgenoemde weliswaar sonder sterk teenstand, en in ʼn mate teengestel deur die uitslag in Emalahleni.

Die IVP het wyke behou in Nquthu, Pongola, Mtubatuba (met ʼn meerderheid van net vyf stemme) en Melmoth, en het ʼn wyk in Nkandla by die ANC afgeneem, hoewel Inkatha swak gevaar het in stedelike wyke. In reaksie het die IVP gesê hy is verheug oor die uitslae.

Die EFF sou hoop op oorwinnings in Polokwane, Rustenburg, Smithfield en aan die Oos-Rand. In elk van dié vier wyke het die ANC se posisie versterk, en die EFF sʼn verswak.

Die teleurstelling van die EFF was duidelik daarin dat die party geen amptelike verklaring in reaksie uitgereik het nie. In die Wes-Kaap het die EFF spesifiek uiters swak gevaar, met minder as tien stemme in verskeie wyke.

Foto: Henk Kruger/African News Agency (ANA)

Die VF Plus het nog ʼn wyk in Potchefstroom by die DA afgeneem – hierdie keer rondom die Laerskool ML Fick. Die VF Plus het ook die eerste keer ʼn proporsionele setel in Phokwane (Hartswater) gewen.

Die party het sy posisie landwyd stewig verbeter, spesifiek in Margate, Knysna en die Paarl. Die eksperiment om vier oorwegend bruin wyke in George te betwis het ʼn paar dosyn stemme vir die party opgelewer.

In Emalahleni het die party stewig gegroei hoewel ʼn onlangse uitslag in die nabygeleë Bethal dalk hoop op ʼn oorwinning in Witbank sou kon laat ontstaan. Daarvan het dadels gekom, en die party berou miskien die besluit om geen kandidaat in Secunda te stel nie.

In sy amptelike reaksie het die VF Plus gesê die aantal kiesers wat na die VF Plus draai neem toe terwyl die DA steun inboet.

Geskiedenis is voorts Woensdag gemaak toe drie klein partye hul eerste wyke ooit verower het.

Al Jamaah het gewen in Lenasia, die (bruin nasionalistiese) Patriotic Alliance het gewen in Riverlea en Good (Patricia de Lille se party) in Pacaltsdorp, George.

Hoewel Good baie tevrede sal wees met die oorwinning in Pacaltsdorp, sou hulle hard gehoop het om die DA te klop in Louwville, Vredenburg.

Die versplintering van die bruin stem is trouens ʼn sterk kenmerk van hierdie week se tussenverkiesings. In spesifiek die Wes-Kaap en Gauteng was daar ses oorwegend bruin wyke wat in die verlede deur die DA oorheers is waar geen party hierdie keer meer as 50% van die stemme kon trek nie.

Die volgende groep tussenverkiesings vind op 9 Desember plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sarel ·

Verstaan nie …Emfuleni Mun is bankrot . Sien gereeld geweldadige betogings teen swak dienslewering maar steeds stem hulle ANC.

Tanniepetoors ·

Wys jou net. EFF is irrelevant – selfs in Limpopo. Gaan asseblief net weg met julle Gucci skoene en geen gevoel vir armes. Julle saai net rassehaat.

Derek ·

Die EFF het geen toekoms in SA nie. Hulle gaan soos die BLF stil stil verdwyn.

Hennie J ·

en as hulle nie stilweg verdwyn nie moet ons dit aanhelp!

Misky ·

Ek kan nie verstaan dat die ANC nie verswak nie. Die mense kla aanhoudend en protes oor swak dienslewering, maar keer op keer stem hulle weer vir hulle. Wat verstaan hulle nie?

Anton ·

Na my eie mening – Die DA verloor stemme omdat hulle nie sterk standpunt inneem nie, en maar rond dobber aangaande ernstige kwessies bv BBEEE en ook die EFF se optredes.
Die EFF verloor stemme, want niemand wil oorlog hê nie.
Die VF+ kry meer stemme want mense is gatvol, en daar is geen werklike alternatief nie.
Wat bly oor?

Connie ·

Ek is bly om te sien dat die VF+ versterk. Ja nee malemma gaan sy agterstewe begin sien, hy gaan seker nou ook begin brand en plunder en sing ‘Kill the boer’omdat hy so sleg vaar.

Dries ·

Die belangrikste vir my is dat die rooi party niks gewen het nie. Ek vier sommer fees vanaand!

daarsdit ·

Ons wou stem in Welkom, het nie geweet waar nie. Die stem stasie waar ons gewoonlik stem was toe.

Pieter Rubeus ·

Ek glo baie mense is onkant gevang met die tussen verkiesings. Ek het my gat af gesukkel net om informasie van die stem punte te kry en het dit nog steeds nie. Dan het ek ook op sosiale media gesien daar is stembriewe wat reeds ‘n kruis by die ANC in was. As die DA en VF+ beter werk daarvan gemaak het vir die bewusmaking daarvan onder beide wit, bruin en swart sou jul nie so swak gelyk het nie. Ek glo die meeste mense was nie eers behoorlik ingelig nie. Die IEC website is net so verwarrend en ek kon nie inskakel op die website nie. En toe ek uiteindelik ingeskakel kry toe wys dit al my inligting verkeerd. IEC en die partye in ons land konsentreer nie op wat belangrik is om dit gemaklik vir hul kiesers te maak om by die regte stem punte uit te kom nie. Kom net by!!

Helen ·

Ek dink op Hennenman het die mense nie soseer vir die DA gestem nie maar wel vir die puik kandidaat wat gestaan het

pompies ·

Baie bly eff het niks gekry nie hulle moes eintlik dit wat hulle gehad het verloor het dan sou dit beter gewees het. Dit verbaas my nie dat die da stemme verloor het nie, hulle kan net nie standpunt in neem en dit verdedig nie verwag die howe moet namens hulle optree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.