TUT-bestuur: ‘Geen ander keuse as om kampusse te sluit’

TUT Soshanguve-kampus

TUT Soshanguve-kampus

Prof. Lourens van Staden, visekanselier en hoof van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT), het Donderdag gesê gewelddadige betogings in die verlede het die universiteit genoop om sy twee Soshanguve-kampusse vir die volgende maand te sluit.

“In 2014 is 19 motors aan die brand gesteek in soortgelyke betogings. Verlede jaar en die vorige jaar is van ons geboue aan die brand gesteek. Ons moet die risiko hanteer om ons eiendom en lewens te beskerm. Op enige gegewe oomblik kan ʼn student of een van ons personeellede sterf weens ʼn petrolbom of brandstigting,” het Van Staden gesê.

Maroela Media het vroeër berig TUT het Maandag sy twee Soshanguve-kampusse met onmiddellike effek gesluit, nadat onluste, ondanks ʼn hofbevel, steeds op die kampusse gewoed het. Koshuisstudente moes hul kamers ontruim en studente is meegedeel die kampusse sal eers weer op 5 April 2016 heropen.

Volgens Van Staden was die totale sluiting van die kampusse die enigste manier om studente, personeellede en geboue te beskerm. “Ons sal opmaak vir die feit dat ons ʼn maand se akademiese bedrywighede misloop, deur die Junie-vakansie af te stel. Ons het met studente en personeel hieroor ooreengekom.”

Hy het gesê die universiteit besef eksterne politiese kwessies en individue kaap studente se uitdagings om hul eie agendas te bevorder. “Sommige van die betogers eis ons moet studente aanvaar wat nie aan die akademiese vereistes van die universiteit voldoen nie. Ons kan nie mense aanvaar wat akademies uitgesluit word weens ʼn tekort aan prestasie nie. Daar is beperkte spasie by die universiteit,” het hy gesê.

Van Staden het ook beklemtoon die huidige adjunk-president van TUT-studenteraad, [Sthembiso Shandu], is nie ʼn ingeskrewe student by die universiteit nie.

Prof. Stanley Mukhola, adjunk-visekanselier, het bygevoeg Shandu lei die TUT-studente om die bos. “Hy het ʼn diploma in joernalistiek voltooi en wil nou oorskuif na openbare bestuur. Die twee kursusse is nie versoenbaar nie. Daar is geen manier wat jy van ʼn diploma in joernalistiek na ʼn BTech in openbare bestuur kan skuif nie,” het Mukhola gesê.

“Nou beweer die jong man hy is by die TUT geregistreer, maar ek wil benadruk hy is nie ʼn student by die TUT nie. Hy het niks om te verloor nie. Hy kan net aanhou om mense om die bos te lei asof hy ʼn student is.”

Shandu het Dinsdag aan verslaggewers by die Soshanguve Suid-kampus gesê die meeste studente weier om die kampus te verlaat. “Ons visekanselier moet weet hy kan nie die universiteit met geweld kalmeer nie. Hierdie is nie sy snoepwinkel nie, maar ʼn nasionale bate. Die besluit gaan die beeld van die universiteit vernietig,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Liza ·

As hy nie ‘n geregistreerde student is nie, verwyder hom summier van die perseel af!!! Ek is seker die universiteit behou die reg van toegang?

MCS ·

Nou wat nou? Ek het nou net my tuinwerker se dogter se gelde betaal, nadat sy eers die 11 Januarie verlede jaar se eksamen kon skryf weens verlede jaar se toy-toy! Weet darem nie! Dink ou Zuma se boeties en sussies sit hom ore aan , van hulle is beter geleerd as hy so hoekom sal slim na dom luister!

TJ Polokwane ·

Stem saam met 007! Miskien is daar n goeie rede hoekom die agtergeblewenes nie gaan inhaal nie. Tyd om hand in eie boesem te steek.

Johann Marx ·

Wat is ‘n agtergeblewene, TJ? Die iemand wat op ‘n stasie wag vir die trein wat hy gister afgebrand het, sodat hy met sy halwe matrieksertifikaat wat hy nie kon klaarmaak nie omdat die skool ook afgebrand is, drome droom oor ‘n graad wat hy wil behaal….by die Universiteit wat laas week afgebrand is. Dis die potensiaal van Afrika….wat op hierdie oomblik in ons land 100% uitgeleef word…

FW ·

Sloop die plek en bou ‘n taxi staanplek hulle kan nie Afrikaans daar blameer omdat hulle te lui is om te studeer nou is dit weer ‘n ander rede en so sal dit wees tot grade en diplomas verniet uitgedeel word.

GES ·

Prof van Staden het nie geswig onder druk nie. Genoeg is genoeg. Dit is ‘n baie wyse besluit om die betrokke kampusse te sluit. Gewoonlik begin mense dinge waardeer as hulle dit nie meer het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.