TUT-betoging: “Rassistiese dosente moet afgedank word”

'n Bus het op 9 September 2014 by TUT uitgebrand tydens studentebetogings oor NSFAS Foto aan Maroela Media verskaf

‘n Bus het op 9 September 2014 by TUT uitgebrand tydens studentebetogings oor NSFAS Foto aan Maroela Media verskaf

Studente aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) beweer dat van die dosente rassisties is en eis dat hulle afgedank moet word.

“Ons kan nie terugsit en kyk hoe die toekoms van swart studente in die drein af loop weens arrogante visekanseliers en onbevoegde bestuurders nie,” het Mboniseni Dladla, president van die studenteraad, in ʼn verklaring gesê.

“Die universiteit het versuim om gehoor te gee aan ʼn aantal kwessies wat ons tydens die betogings in Februarie reeds aan die lig gebring het.” Die studente eis ook dat die salarisse van TUT se uitvoerende bestuur hersien moet word en dat vervoer- en skoonmaakdienste nie verder uitgekontrakteer moet word nie.

Die studente boikot glo ook klasse weens ʼn gebrek aan fondse in die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS). Klasse by TUT is Dinsdag en Woensdag opgeskort weens die betogings. Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, het Dinsdag gesê die studente wat verantwoordelik is vir die betogings, se optrede is strydig met ʼn interdik wat die universiteit vroeër die jaar bekom het.

Ruyter sê TUT het in Januarie klasse opgeskort en studente versoek om die koshuise te verlaat. Sy sê die interdik wat destyds bekom is, is steeds geldig.

Dladla het Du Ruyter daarvan beskuldig dat sy ʼn leuenaar is en het gesê studente by die Pretoria-, Ga-Rankuwa-, Soshanguve- en Witbank-kampusse neem aan die betogings deel. “Die universiteit se woordvoerder het gelieg deur aan die media te sê dat dit slegs ʼn groep oproerige studente is.”

Die studenteraad voer aan dit is De Ruyter se rol om “die waarheid te verbloem” en studente as “skollies” en “verloorders” uit te beeld.

Yusuf Cassim, voorsitter van die DA Jeug, sê dit is duidelik dat die NFSAS studente in die steek laat. “Ons studente ly en hulle is desperaat. Dit is heeltemal onaanvaarbaar en ons eis dat die minister [van hoër onderwys] onmiddellik die probleem aanspreek,” het hy gesê.

Lees ook:
Klasse verder opgeskort by TUT weens betogings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hendrik ·

Hoe ironies is dit nie! Hier in die VSA waar my oudste seun studeer is nie kontrakwerkers nie – die studente doen al die werk in die kafeterias, tuine, instandhouding ens so voorts. Hulle word behoorlik daarvoor vergoed deur verminderde studiegelde. Dit werk, omdat wetteloosheid, luiheid en anargie nie hier geduld word nie.

Hier is geen “free lunch” nie – as jy wil studeer sal jy betaal! En geen betogings oor standaarde of sulke snert nie.

SNEL ·

Ja nee, geen woorde meer, wonder wie betoog en brand busse en ontwrig klasse, dis hulle wat moet waai. Ek wonder hoe sou die boere wat oor die Drakensberge getrek het die storie hanteer, stilsit en praat gaan ons nêrens bring nie. Reënboognasie, ubuntu, stap saam vorentoe is n nonsies storie. Sal die een ooit die son oor die ander nasie laat skyn, sal SA ooit regverdig begin optree en mense bevorder en in spanne sit omdat hulle goed is en dit verdien, maak nie saak wit of swart. Sal daar ooit op gehou word om agter apartheid en die woord rasisties te skuil? Hoe sal dit land ooit uit die gemors en verwyte kan opstaan en vorentoe gaan. Dis asof alles net vererger en meer eise gestel word en meer beledigings.

Ant ·

Solank as wat daar iets of iemand is om teen te “struggle”, sal die tipe optrede voortgaan. Dis ‘n mentaliteit wat geskep is deur die huidige beheerende party om aan bewind te kom. Ongelukkig is dit ‘n doodloopstraat, want hoe meet hulle afbrand en vernietig hoe minder bly oor om mee ‘n ekonomie te bou. Die antwoord vir mense wat terug verlang na ‘n vooruitstrewende SA is eenvoudig om weer een te bou, maar buite die reikwydte van die ANC en die “strugglers”. Vraag is; het ons al swaar genoeg gekry om dit te doen?

piesang ·

Snel stem saam zuma en trawante jaag dit aan dit sal nooit stop nie

Theresa ·

As niks na hulle sin verloop nie is dit altyd rassiste/rassisme. In hierdie land staar almal hulle blind vir omgekeerde rassisme. Ons betaal elke sent vir ons kinders se studiegelde, maar hulle wil alles verniet hê. Plunder en brand alles af – hoe idioties kan jy wees om te dink DIT sal werk. Hulle kan nie soos opgevoede mense vergader en die saak hanteer nie. Geweld is altyd die oplossing. Ons land en al die besighede word net vernietig en verniel en word ons land op sy kneë gedwing.

Elfie ·

Hulle staak omdat hulle nie finansiële hulp kry maar nou moet dosente ook sommer afgedank word. Wat het DIT nou daarmee te doene? Studente is daar om te STUDEER. Dink nou ek gaan na bv ‘n meubelwinkel en kry nie krediet want ek is nie kredietwaardig nie – beteken dit dan nou ek kan ook begin om die goed te breek, te staak en sulke snert? REGTIGWAAR…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.