TUT-betogings brei uit

'n Groep betogers Woensdag by die TUT-kampus in Soshanguve. Foto: @WZindela.

‘n Groep betogers Woensdag by die TUT-kampus in Soshanguve. Foto: @WZindela.

Betogings by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het na sy kampusse in Ga-Rankuwa, eMalahleni en Pretoria uitgebrei.

“Die betogings het reeds daartoe gelei dat bedrywighede by die Soshanguve-Noord- en Suidkampus verlede week opgeskort is, en dit het vandag na die ander kampusse uitgebrei,” het die universiteit Donderdagoggend in ʼn verklaring gesê.

Die universiteit se bestuur het Woensdagmiddag met studenteleiers vergader in ʼn poging om die twispunte, hoofsaaklik studentegeldfinansiering, op te los.

“Hoewel toenemende voorstelle van die universiteit se kant af ter tafel gelê is, is dit deur die studenteleiers verwerp,” lui die verklaring.

Die studente-organisasie Cosas het verlede week die universiteitbestuur gekritiseer dat hulle versuim om behoeftige studente te help. “Dit is uiters onverantwoordelik vir die bestuur om aan studente geen alternatief te verskaf buiten as om hulle huis toe te stuur nie,” het Sthembiso Ndlovu, die organisasie se adjunkvoorsitter in Gauteng, toe in ʼn verklaring gesê. “Studente moet hul akademiese kursusse kanselleer weens uitstaande fooie en begrotingsbesnoeiings van die staatsleningskema (NSFAS).”

Die universiteit is in September verlede jaar gedwing om sommige van sy kampusse te sluit nadat betogings oor finansiering gewelddadig geraak het. Die betogings het byna drie weke lank geduur en onder meer 18 motors is aan die brand gesteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Esti ·

absoluut onaanvaarbaar dat die tipe ontwrigting toegelaat word. Ons kinders wil klaarmaak met hulle studies !!

pop ·

Dit het die norm geword in ons land. Jy hou jou hand en alles moet gegee word. niemand betaal vir niks en alles moet verniet wees. Of nee wag< witmense moet betaal, ons is nie hulbehoewend nie en ons is alleenlik rassisties. Die land sink in donker dieptes weg.

Gerrie ·

My een kind studeer by TUT en sy vertel my dat sy aanhoudend geviktimiseer word. Haar niggie wat so paar jaar terug daar gestudeer het, het dieselfde ondervind. Ek is persoonlik bitter jammer dat ons haar daar ingeskryf het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.