TUT en studenteraad onderteken ooreenkoms

Argieffoto van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Argieffoto van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Die bestuur van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) en die Verteenwoordigende Studenteraad het Maandag ʼn formele ooreenkoms onderteken om ʼn einde te bring aan die onluste by sy kampusse weens studentefinansiering.

“TUT se bestuur en die studenteraad het ʼn formele ooreenkoms onderteken wat die onlangse gesprekke oor studentefinansiering tussen die partye tot ʼn einde bring,” het Willa de Ruyter, TUT se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê. “Dit sal hopelik ʼn einde bring aan die studentebetogings wat aktiwiteite verlede week by verskeie kampusse tot ʼn stilstand gedwing het.”

Alle studente wat uitstaande skuld van vorige jare het, moet ʼn minimum van R1 500 vir die tydperk betaal, plus die minimum aanvanklike betaling van R1 500 om vir 2015 te registreer. Enige uitstaande balans moet teen 30 Oktober vanjaar vereffen wees. Studente moet ook ʼn kennisname van skuld vir die uitstaande balans onderteken.

“Die ooreenkoms sal studente help om hul skuld af te betaal, terwyl dit hulle in staat stel om te registreer en met hul studies aan te gaan. Dit is gelykstaande aan finansiële hulp van ongeveer R37 miljoen,” het sy gesê.

Studente wat in 2014 deur NSFAS befonds is en die universiteit uitstaande fooie skuld, en wat nie  vanjaar NSFAS-befondsing het nie, sal toegelaat word om op sekere voorwaardes met die uitstaande skuld te registreer.

“Daar is ook ooreengekom dat befondsing opsy gesit word vir akademiese merietebeurse wat toegeken word aan akademies verdienstelike en behoeftige studente in die NSFAS-groep,” het De Ruyter bygevoeg. “Dit beloop finansiële hulp van ongeveer R16 miljoen vir hierdie groep studente.”

Maroela Media het vroeër berig klasse by alle kampusse van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het Maandag hervat ná betogings die bestuur genoop het om bedrywighede op te skort.

Betogings het by die TUT se kampus in Soshanguve begin en later ook na die kampusse in Ga-Rankuwa, Witbank en Pretoria uitgebrei.

Lees alle vorige berigte oor TUT op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.