TUT-kampusse bly gesluit

Argieffoto van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Argieffoto van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Die twee Soshanguve-kampusse van die Tshwane Universiteit van Tegnologie bly gesluit nadat onderhandelinge tussen lede van die universiteitbestuur, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en studenteleiers nie afgehandel is nie.

Willa de Ruyter, woordvoerder van die universiteit, het gesê daar was Maandagoggend weer betogings by die kampusse. “Die vergadering duur môre voort,” het sy gesê. “Aktiwiteite by albei Soshanguve-kampusse bly opgeskort.”

De Ruyter het gesê die universiteit vra om verskoning vir die ongerief. “Die veiligheid van die TUT-gemeenskap is egter ons eerste prioriteit en ons moet dit kan waarborg voor aktiwiteit hervat,” het sy bygevoeg.

Maroela Media het Vrydag berig aktiwiteite by die universiteit se Soshanguve-kampusse sou vandag hervat. Die besluit het gevolg na ʼn vergadering tussen die TUT-bestuur en studenteleiers om ʼn memorandum te bespreek wat aan die universiteit oorhandig is.

Bedrywighede op die kampusse is opgeskort nadat geweld verlede week Dinsdag en Woensdag uitgebreek het onder die vaandel van die #FeesMustFall-veldtog. ʼn Groep studente bestaande uit lede van onder meer die Pan Africanist Student Movement of Azania (Pasma), die IVP se studentebeweging (Sadesmo) en die EFF se studentekommando, het Dinsdagoggend begin om aktiwiteite op die kampus te ontwrig.

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GES ·

Die twee kampusse kan gerus gesluit bly. Studie is nie ‘n saak van erns vir daardie betrokke studente. Hulle verkies magspeletjies.

Veritas ·

Dit is niks nuuts nie. Jaar na jaar is hierdie twee kampusse ‘n kookpunt van oproer en protesoptrede. Dit wil voorkom asof daar reeds ‘n kultuur van oproerigheid en vandalisme bestaan en dit is stadigaan besig om oor te waai na die Pretoria-Wes kampus. Indien daar nie daadwerklik opgetree word nie, gaan dit eskaleer tot so’n mate dat die instelling sy deure moet sluit. Dan sal daarteen ook betoog word. Die stout kinders, want hulle is niks anders nie, behoort daarvan aangekla word dat hulle diegene wat wel ernstig is oor hul studies, benadeel en, indien skuldig bevind, moet die outjies summier permanent geskors word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.