TUT-klasse hervat

Argieffoto van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Argieffoto van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Klasse by alle kampusse van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) sal Maandag hervat ná betogings die bestuur genoop het om bedrywighede op te skort.

“ʼn Formele ooreenkoms sal na verwagting volgende week tussen die bestuur van TUT en die Verteenwoordigende Studenteraad onderteken word,” het Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, gesê. “Die universiteit betreur die onlangse sluiting van sy kampusse weens die betogings vir gratis universiteitsopleiding.”

Betogings het by die TUT se kampus in Soshanguve begin en later ook na die kampusse in Ga-Rankuwa, Witbank en Pretoria uitgebrei.

Die betogings hou hoofsaaklik verband met studentefinansiering. De Ruyter het gesê bestuur en die VSR sal steeds vergaderings hou om studente se besware aan te spreek, maar studente moet intussen klasse bywoon.

Slegs geregistreerde studente sal van Maandag af op TUT-kampusse toegelaat word. “Studente moet dus seker maak hulle het te alle tye hul studentekaarte of bewys van registrasie en identiteitsdokumente by hulle,” het De Ruyter bygevoeg. “Studente wat nog moet registreer moet hul toelatingsbriewe en identiteitsdokumente by die hek toon.”

Die sperdatum vir registrasie is tot 3 Maart verleng.

Lees alle vorige berigte oor TUT op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.