TUT-klasse in Soshanguve onbepaald opgeskort

TUT Soshanguve. Foto: Facebook

Alle akademiese bedrywighede op die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) se kampusse in Soshanguve is opgeskort tot verdere kennisgewing.

Willa de Ruyter, TUT-woordvoerder, sê die universiteit se bestuur het Maandagoggend besluit om alle akademiese aktiwiteite op sy Noord- en Suidkampus opgeskort te hou weens die voortslepende betogings en die naweek se skade aan die instelling se eiendom. Die akademiese aktiwiteite op die ander kampusse gaan voort.

Die onrus het op 23 Augustus begin toe gerugte die ronde gedoen het van ongerymdhede tydens die studenteraadsverkiesing. Dieselfde dag is ʼn student, Katlego Andries Monareng, na bewering deur lede van die polisie se eenheid vir openbare orde doodgeskiet nadat hulle ontplooi is om die vrede te herstel.

De Ruyter sê intussen is klasse sporadies hervat, maar die afgelope week moes dit opnuut opgeskort word nadat chaos ontstaan het. Sowat 13 000 studente word deur die geweldpleging geraak.

“Dis nie heeltemal duidelik waaroor die betogende studente ontevrede is nie,” het sy Maandagmiddag aan Maroela Media gesê. “Hulle het ʼn lys eise aan die bestuur oorhandig, maar ons weet nie wat agter die betoging skuil nie.”

Die TUT se bestuur meen die enigste uitweg om die situasie by die instelling te bestendig, is om vir eers alle akademiese aktiwiteite op te skort. De Ruyter sê dis weens “die plofbaarheid van die situasie en die risiko wat dit vir personeellede en studente se veiligheid inhou”.

ʼn Gebeurlikheidsplan, wat verbeterde sekuriteit op dié kampusse insluit, sal ingevoer word om die kampusgemeenskap se veiligheid te verseker nadat bedrywighede hervat is, het De Ruyter gesê.

“Ter wille van hul veiligheid moedig ons studente aan om hul koshuise op dié kampusse te ontruim terwyl die aktiwiteite opgeskort is. Die kampusrektor sal die proses behartig om te help met verblyf vir buitelandse studente, werkgeïntegreerde studente en dié wat buitengewone redes kan verstrek.”

Die TUT se bestuur het herbevestig dat die jaareindeksamen wel op 12 November sal begin soos beplan en deur die senaat goedgekeur. Nadere besonderhede en eksamenroosters sal op die universiteit se webwerf geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Dit is voor die handliggend waaroor hulle betoog! Wil nie leer vir die eksamen nie. Eet en slaap te lekker. Leer is onnodig en n mors van tyd. Alles is mos gratis deesdae. Kry vir julle ANC.

Catherine ·

Nie opgewasse vir studeer nie. Party mense dink graadvang kom hulle toe. Het nuus vir hulle…kos ure en ure se “swot” en bitter harde werk en opoffering . Takes dedication and that is what many lack!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.