TUT-lesings weens protesaksie opgeskort

Argieffoto van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie

Akademiese bedrywighede by die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) is Woensdag tot verdere kennisgewing opgeskort weens protesaksie wat bedrywighede by die instansie sedert Maandag ontwrig.

Volgens Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, is dié besluit gegrond op die feit dat daar geen dienste by koshuise op kampus beskikbaar is nie.

“Die bestuur is ook bekommerd oor studente se veiligheid, daarom moet studente die koshuise vir eers verlaat,” verduidelik De Ruyter.

Dié besluit volg kort ná lesings by die instansie in Februarie ook opgeskort is te midde van voortgesette studentebetogings.

Maroela Media het vroeër berig studente is grootliks ontevrede oor universiteite oor die hele land heen se hantering van agterstallige skuld, asook ʼn gebrek aan finansiering deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS). Daar is ook ontevredenheid rakende behuising en vervoer.

De Ruyter het verlede maand verduidelik dat die studente ontevrede is oor kwessies wat op ʼn nasionale vlak hanteer moet word. Sy het vroeër gesê die universiteitsbestuur se hande is grootliks afgekap omdat kwessies soos NSFAS-betaling by NSFAS berus.

“Die veiligheid van die studente, personeel en eiendom bly die bestuur se eerste prioriteit. Weens die onbestendigheid en onvoorspelbaarheid van die huidige situasie, het die universiteit geen ander keuse as om akademiese aktiwiteite tot verdere kennisgewing te staak nie,” sê De Ruyter.

Sy verseker mense wel dat die instansie met NSFAS en ander belangrike rolspelers sal beraadslaag om die huidige situasie op te los.

Geskeduleerde aktiwiteite waaronder komende gradeplegtighede sal voortgaan. TUT vra om verskoning vir moontlike ongerief weens die situasie. Bywerking van inligting sal gereeld op die universiteit se webwerf geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

De Villiers ·

Nou moet die doelgerigte studente wat daar is om te studeer ontwrig word omdat ontevrede studente die plek op horings neem met hul betogings. Dit moet omgekeerd wees sodat dit die studente ongestoord met hul bedrywighede kan voortgaan terwyl dié wat wil betoog en ‘n gevaar vir ander stel, ontwrig moet word en teenoor hulle opgetree word, met waarskuwings. Buitendien, as jy nie jou skuld betaal, soos die ander dit doen nie, wie se skuld is dit as jy daaroor gepenaliseer word? Dis omdat die Afrika-bakhand-benadering altyd sagkens hanteer word deur die owerhede in plaas van aangespreek word. Jy kan nie alles in die lewe verniet kry nie. Ek hoop die owerhede begin ruggraat kry en hierdie massiewe Afrika-probleem op die naam noem en aanspreek. Dis omdat daar altyd tydelike oplossings daarvoor gevind word dat hierdie tipe gedrag/betogings voortduur. Ongelukkig spreek die oplossings nie die kern van die probleem aan nie.

Dries du Toit ·

Hierdie tipe dinge het nie gebeur in die ou SA nie. Hoekom nie. Nog n entireit wat die afgrond af bestuur word

D B ·

“Gratis” onderwys in hierdie korupte land sal nooit haalbaar wees nie!

Ek wens net hierdie kindertjies wil wakker word en die uniegebou gaan afbrand, want dis waar die probleem ontstaan.

HPV ·

Studente wat ontwrig word moet ‘n eis ten opsigte van vermorste klasgelde teen die instellings indien. Bereken dit per onproduktiewe dag en eis jou geld terug.

Pieter C ·

Ek sukkel ook om my kind se universiteitsgelde te betaal, maar ek het ‘n pligsbesef en sny eerder op ander plekke sodat ek in sy toekoms kan belê. Nou wil ek net weet……die klomp wat so ontwrig benadeel my mos ook nou finansieel, want iets waarvoor ek betaal het kan nou nie benut word nie omdat ‘n klomp selfsugtige mense dit onmoontlik maak. Dalk moet ons ouers wat betaal nou die partye wat dit so in die wiele ry dagvaar vir skadevergoeding, of is dit net die verkeerdes wat mag aanspraak maak op hulle eise?

Adam ·

Ek besef my opinie is aanvegbaar, maar ek is van mening dat sommige studente slekgs universiteit toe gaan om ‘n bietjie geld uit NFSAS en andere te kry weens die feit dat die alternatief werkloosheid, honger en dakloosheid is. Ongelukkig is daar hopeloos te veel studente op universiteit wie nie daar behoort te wees nie en geen greintjie van ‘n kans op graadvang het nie. Dit is ook die rede hoekom gratis universiteitsopleiding in ‘n land soos SA ‘n onding is.

Naas ·

Ja, as betalende ouer wat nie vir die staatsubsidie kwalifiseer nie raak dit moeilik en jy wonder of goedkoop nie duurkoop is nie. Die enigste vergelykbare erkende kursus word in Plettenbergbaai aangebied teen vier keer TUT se onkoste.
TUT se amptelike reaksie tyd op onrus is 24 tot 48 uur na die tyd. Die dosente sê ‘Kom ons wag en sien of julle uit die klas geruk gaan word deur die betogers, want die betogings is TUT tradisie
in Februarie en September.’
Intussen kan jou kinders aangerand word en jou voertuig beskadig word deur die boewe sonder nagevolge.
My voorstel is: Kry veiligheidspersoneel met videokameras in hulle mondering, neem die boewe in hegtenis op kamera, kry die senior aanklaer se samewerking om borgtog teen te staan, kry saakbeskadiging en aanranding skuldigbevindings van ongeveer 30 tot 50 sogenaamde studente en die moeilikheid sal
basies negeerbaar word.
Miskien sal ‘n ‘no study no pay’ beleid ook help, m.a.w. betaling van subsidies is afhanklik van ‘n leergierige vreedsame akademiese kwartaal.

Hendrik UAE ·

Maak 1 derde van al die universiteite betaal inrigtings en al die ander verniet.Dan kan die verniet(igers) gangers saam wees en die wat onderrig wil doen en waardeer saam wees. Hou asb net aan met die uitbou van ‘n Afrikaanse instelling ook.

Judge Dredd ·

Afrikaanse studente moet inskryf by Akademia – dan vermy jy hierdie protes aksies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.