TUT ontken gerugte oor kampusse wat sluit

‘n Skermskoot van die e-pos.

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het Maandag gerugte dat dié universiteit se noord- én suidkampusse in Soshanguve permanent gesluit is, veroordeel.

Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, het gesê akademiese aktiwiteite by die Soshanguve-kampusse bly wel tot verdere kennisgewing opgeskort.

ʼn Skermskoot van ʼn e-pos wat lui dat die kampusse vanaf 17 September 2018 gesluit is en studente wat daar ingeskryf is van TUT se databasis verwyder sal word, doen die ronde op sosiale media.

De Ruyter het gesê die bestuur van TUT beaam dat aktiwiteite by dié kampusse opgeskort is om tyd te maak vir die situasie om te normaliseer ná die twee weke lange gewelddadige protesaksie en skade aan eiendom op dié kampusse.

“Die veiligheid van die studente en die personeelgemeenskap is ons eerste prioriteit. Dit is belangrik om te verseker dat dit veilig is vir studente en personeel om na hul normale aktiwiteite terug te keer,” het De Ruyter gesê.

De Ruyter het gesê die universiteit monitor die situasie en sal op hul webwerf en via e-posse aan studente kommunikeer wanneer aktiwiteite sal hervat.

“Dit is ook nie waar dat studente van die noord- en suidkampusse in Soshanguve van TUT se databasisse verwyder sal word nie,” het De Ruyter gesê.

De Ruyter het gesê ouers en studente kan TUT se webwerf vir die jongste inligting besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

parratjie ·

Wat is die verskil. Hulle is in elk geval altyd gesluit weens die oproer deur die studente.

C ·

Sluit nou maar die kampus en kry klaar. Hul wil tog nie leer nie behalwe om af te breek en af te brand. Die wat regtig wil leer moet maar by ander universiteit gaan aansluit. Party kampusse is in elk geval meer toe as oop. Ek kan nie sien hoe hul enige vordering in hul studies gaan maak nie, hul mors net ons belasting betalers se geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.