TUT ook gesluit

TUT se Soshanguve-kampus. Foto: Masi Losi, IOL

TUT se Soshanguve-kampus. Foto: Masi Losi, IOL

Die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) se hele Soshanguve-kampus moes vandeesweek saam met minstens drie ander universiteite landwyd sluit weens gewelddadige studentebetogings.

Willa de Ruyter, woordvoerder van die TUT, het aan Maroela Media gesê bedrywighede by die noord- en suidkampus (Soshanguve) sal vir die res van die week opgeskort wees nadat geweld Dinsdag en Woensdag daar uitgebreek het onder die vaandel van die #FeesMustFall-veldtog.

“Die besluit is geneem ná ʼn deeglike evaluering van die situasie met die oog op die moontlike bedreiging van die veiligheid van studente, personeel en eiendom,” het De Ruyter gesê.

ʼn Groep studente bestaande uit lede van onder meer die Pan Africanist Student Movement of Azania (Pasma), die IVP se studentebeweging (Sadesmo) en die EFF se studentekommando, het Dinsdagoggend begin om aktiwiteite by die kampus te ontwrig.

“Die universiteitsbestuur het ʼn vergadering met die groep se verteenwoordigers en die plaaslike studenteraad gereël om hul eise te bespreek. Met die aanvang van die vergadering het die adjunkpresident van die studenteraad, Sithembiso Mbatha, homself as die president van die raad aangewys.”

Studente van die bogenoemde studentegroepe het die onwettige aanwysing ondersteun en die bestaande president, TB Sekgobele, en ander lede van die ANC-geaffilieerde studente-organisasie Sasco met geweld uit die vergadering verdryf.

“Aangesien die mense wat oorgebly het nie uit ʼn wettig verkose studenteraad bestaan nie, kon die vergadering nie voortgaan nie.”

Die universiteitsbestuur het besluit om ferm op te tree en het streng maatreëls ingestel om kalmte op die kampus te herstel. Veiligheid by die noord- en suidkampus is verskerp en streng toegangsbeheer gaan toegepas word. Eksamens en studenteregistrasie is uitgestel.

Alle kampusse van die Universiteit van Pretoria (Tuks), die Noordwes-Universiteit se Mafikeng-kampus en die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) moes vandeesweek sluit weens gewelddadige studentebetogings. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DPJ ·

Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak.

marie botha ·

Ek wil net graag weet…het die studente nie ook ñ reg om veilig te wees en te leer nie. Daar is ouers wat harde bene kou om studente op universiteite te laat leer maar die betogers maak en breek soos hulle wil en niemand tree drasties op nie want hulle het meer regte want hulle kan almal ontwrig, afbrand, aanrand, afbreek soos hulle wil. Die ergste is dat daar word nog toegegee aan hulle eise. Hulle is nie daar om te leer nie..hulle is daar om alles onregeerbaar te maak en dit gaan nooit stop nie

Yolande ·

Ek se nou vir n klient. Ek het 2 polisse en n spaarplan vir my kind wat by die R1800 n maand draai. Ons lewe op die lyn maar dit word betaal. Nou dobbel daardie mense met my kind se toekoms.
Met my geld. Ek gaan nooit eers op vakansie nie juis sodat ons vir hom n toekoms kan gee. En die mens wat niks omgee vir homself nie beskadig nou nie net homself nie maar sommer ook my kind se toekoms ook.
Wel gedaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.