Tutu lê vir tweede dag in staatsie

Draers dra die kis met die oorskot van aartsbiskop Desmond Tutu by die St. George-katedraal in Kaapstad (31 Desember 2021) (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Die liggaam van aartsbiskop Desmond Tutu lê Vrydag vir ʼn tweede dag in staatsie sodat Suid-Afrikaners op die vooraand van sy begrafnis finaal van hom kan afskeid neem.

ʼn Kerk-musiekgroep, wat ʼn voorskoolse trompetspeler insluit, het buite die St. George-katedraal in Kaapstad opgetree waar die kis van dennehout met Tutu se liggaam gebring is.

Tutu se opvolger, Thabo Makgoba, het ʼn kelk wierook oor die kis geswaai voor die draers, wat Anglikaanse predikante insluit, die kis uit ʼn silwerkleurige Mercedes-Benz-lykswa gedra het. Hulle het stadig die trappe uitgeklim na die katedraal waar Tutu vir ʼn dekade lank gepreek het.

Lede van Tutu se familie het mekaar omhels en mekaar voor die kerk getroos waar die liggaam omstreeks 08:10 opgedaag het.

Die anti-apartheidsaktivis is Sondag in die ouderdom van 90 in sy slaap oorlede. Hy sal veras word en sy as sal oor die naweek begrawe word.

Net minder as 2 000 gewone Suid-Afrikaners van alle rasse en ouderdomme het Donderdag by Suider-Afrika se oudste katedraal langs die kis verbygestap.

Ná ʼn privaat verassing sal Tutu se as in die katedraal begrawe word. Die klokke van die kerk lui sedert Maandag elke dag om 12:00 vir 10 minute lank.

Tutu het in 1996 ná 10 jaar as aartsbiskop afgetree en was voorsitter van die Waarheid- en Versoeningskommissie.

Hy het jare lank met prostaatkanker gesukkel. Hy word oorleef deur sy vrou Leah en vier kinders, asook verskeie kleinkinders en agterkleinkinders.

Verskeie strate in Kaapstad se middestad is gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.