Tutu ‘ʼn morele baken’

Aartsbiskop Desmond Tutu. (Foto Facebook/ Sumaya Hisham)

Huldeblyke het Sondag ingestroom ná die aankondiging van die dood van aartsbiskop Desmond Tutu.

“Aartsbiskop Desmond Tutu sal onthou word as ʼn morele baken in onstuimige tye gedurende die stryd teen apartheid en ook as ʼn baken vir geregtigheid in onlangse jare. Mag hy in vrede rus,” het die Afrikanerbond in ʼn verklaring gesê.

Tutu was 90 jaar oud ten tye van sy dood en die laaste oorlewende Suid-Afrikaner wat die Nobelprys vir Vrede ontvang het.

Ook die DA het sy dood betreur.

“Desmond Tutu het Suid-Afrika ten goede gevorm op ʼn manier wat bitter min ander mense gedoen het of nog sal doen,” het John Steenhuisen, leier van die DA, Sondag gesê.

Hy het Tutu as “een van die laaste reuse van ons tyd” beskryf.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het hom beskryf as ʼn “groot morele gesagsfiguur en iemand wat eindelose empatie met alle mense gehad het”.

Tutu het in 2002 ʼn eredoktorsgraad van die US ontvang ter erkenning van sy rol “as leier in die stryd om geregtigheid en versoening in Suid-Afrika”. Hy was ook die beskermheer van die Desmond Tutu TB-sentrum in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe te Tygerberg.

“Dr. Tutu was ʼn kampvegter in die stryd teen tuberkulose (TB, ook bekend as tering) nadat hy self dié siekte op 15-jarige ouderdom opgedoen en twee jaar in die hospitaal deurgebring het. Hy het sy naam verleen aan die TB-sentrum, ʼn toonaangewende navorsingseenheid in die US se Departement Pediatrie en Kindergesondheid, nadat dit in 2003 tot stand gebring is,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê.

Prof. Nulda Beyers, voormalige direkteur en stigter van die sentrum, het gesê almal in dié eenheid is “ongelooflik dankbaar vir die Arch se betrokkenheid en ondersteuning, en vir die wonderlike rolmodel wat hy was”. Haar opvolger en huidige direkteur, prof. Anneke Hesseling, het gesê dr. Tutu “se erflating is ʼn lewende een wat ons daagliks inspireer”.

Tutu het die universiteit in 2013 gevra of hy ook kon ervaar hoe dit sou wees om geneeskunde te studeer. Hy het gesê sy tyd in die hospitaal as kind het hom geïnspireer om ʼn dokter te word, maar sy lewe het toe ʼn ander rigting ingeslaan. Die nodige reëlings is getref, en Tutu het vir ʼn paar maande stilweg net nog ʼn lid van die klas in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe geword. Hy het saam met die studente lesings bygewoon en geleer hoe om die simptome van kindersiektes te eien.

Dr. Marlene Morkel, ʼn dosent, sê sy was baie beïndruk met haar nuwe student. “Hy was baie goed daarmee om na die borskas te luister en na abnormale tekens by die simulasiepop op te let. Hy het ʼn natuurlike aanvoeling gehad. Vir ʼn nuweling was hy fantasties. Hy was ook entoesiasties en het goeie vrae gevra.”

Tutu se familie sal later vandag besonderhede vir Tutu se roudiens bekendmaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.