Tutu ter ruste gelê

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu. Foto: Ilan Godfrey/Templeton Prize/SAPA

Aartsbiskop Desmond Tutu word Saterdag ter ruste gelê. Hy is verlede Sondag in die ouderdom van 90 in sy slaap oorlede.

Tutu het voor sy afsterwe opdrag gegee dat dit ʼn eenvoudige seremonie sonder enige fieterjasies moet wees met ʼn goedkoop kis en eko-vriendelike verassing, en eerder skenkings aan liefdadigheidsorganisasies in plaas van blomme.

Die requiem begin om 10:00 by die St George-katedraal in Kaapstad waar Tutu jare lank gepreek het.

Pres. Cyril Ramaphosa sal die grafrede lewer en ʼn landsvlag dan aan Tutu se weduwee, Leah, oorhandig as ʼn herdenking aan dit wat haar man vir Suid-Afrika beteken het.

ʼn Week van rou is afgekondig en dit het geëindig met Tutu wat twee dae lank in staatsie gelê het by die katedraal.

Duisende mense, van wie reg oor die land gereis het, het die afgelope paar dae verby sy kis gestap.

Roubeklaers sal na verwagting nabye familie en vriende insluit as ook geestelikes en ʼn paar gaste. Die voormalige president van Ierland, Mary Robinson, sal ʼn gebed voorlees.

Tutu se jarelange vriend, afgetrede biskop Michael Nuttall, wat ʼn deken in die Anglikaanse Kerk was toe Tutu die aartsbiskop van Kaapstad was, sal die diens behartig. Die twee was baie goeie vriende en Nuttall het later ʼn outobiografie, Tutu’s Number Two, geskryf.

Tutu het vir sy begrafnis ʼn skriflesing uit die Nuwe Testament se Evangelie volgens Johannes gekies waar Jesus met sy dissipels praat ná die Laaste Avondmaal. Dit lui: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.” (Joh. 15:12)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.