TV-en-radio-omroeper vertel van noue ontkoming

Willie Strauss

Willie Strauss, die kabaretsanger en koskenner wat Die Engel in die Koskas-bydrae Saterdagoggende op PretoriaFM lewer, asook Etienne Smith, Strauss se vriend en medeaanbieder van Kos is Oppi Tafel, was Saterdag in die vroeë oggendure in ʼn gewapende rooftog buite Pretoria betrokke.

Strauss het Maandag met ʼn hees stem vanuit sy huis in Cullinan, oos van die stad, aan Maroela Media gesê die roof het omstreeks 00:30 op die R513 plaasgevind.

Strauss en Smith was op pad terug na hul huis in Cullinan nadat hulle vroeër die aand saam met vriende in Pretoria gaan uiteet het.

“Die aand was heerlik. Ons het gekuier, gelag en tussenin diep dinge gepraat – en later word ons toe deel van die misdaadstatistieke,” het hy gesê.

“Ons is terug na die myndorpie en om ʼn draai, sowat 500 m van die Mamelodi-aansluiting, was daar skielik groot klippe in die pad en ons tref ene wat die band pap gemaak het. Ons moes noodgedwonge stop om die band te ruil.” Hy het gesê daar was so vier of vyf klippe in die pad wat min of meer die grootte van ʼn halwe skoendoos was.

Strauss het gesê hy het met ʼn flitslig gestaan en lig skyn terwyl Smith die band vervang het. “Ek het heeltyd ʼn onrustige gevoel gehad en om ons gekyk. Die volgende oomblik storm ses gewapende mans op ons af en skiet die eerste skoot af.”

Volgens Strauss is al die mans in hul vroeë 20’s. Een was met ʼn geweer gewapen en vyf het rewolwers gehad. Hulle het swart baadjies met kappies aangehad.

“Hulle het ons beveel om terug te staan en op die grond te gaan lê. Ek het net dadelik so hard soos wat ek kan, begin skreeu vir hulp. Ek weet ek het seker alles gedoen wat ʼn mens nié in so ʼn situasie moet doen nie. Ek weet nie of dit skok, instink of adrenalien is nie, maar ek het dit net verloor en geweier om te gaan lê. Ek wou net naby die pad bly in die hoop om hulp te kry.”

Die aanvallers het nog ʼn skoot geskiet, waarna hulle vir Smith gedwing het om oorkant die pad in die veld op die grond te gaan lê.

“Hulle dwing my om langs die motor te gaan lê, maar ek weier ná ek sien hulle het Etienne op sy knieë en ʼn wapen teen sy kop. Hulle dwing my ook oor die pad in die veld in. Stamp my om, ek staan weer op en skree so hard soos ek kan. Ek hardloop terug oor die pad. Vier van hulle agterna met hul wapens op my gerig. Hulle vuur skote langs my af, begin my slaan met ʼn ysterpyp en gooi my met klippe en bottels.”

Dit het vir hom gevoel of die voorval tussen vyf tot 10 minute geduur het, maar hy is nie seker nie. “Ek is weer geslaan en nóg ʼn skoot gaan af naby my voete. Ek skreeu en bid vir ʼn motor om te verskyn om ons te help. Uiteindelik kom daar ʼn motor. Ek spring in die pad vir hulp. Die motoris sien wat gebeur en jaag verby. Toe volg daar ʼn blou Mercedes wat stop, waarna die aanvallers met ons besittings weghardloop.”

Die persoon in die Mercedes het Strauss en Smith gehelp om hul motor se band klaar te ruil, waarna hulle na die Cullinan-polisiestasie gery het om die voorval aan te meld.

Strauss se leersak met sy besittings, waaronder sy selfoon, en Smith se horlosie en ring is gesteel.

Strauss se neus is met ʼn rewolwer oopgeslaan en hy is vol blou kolle. Sy stem is ook hees van al die geskreeu, maar hy of Smith is gelukkig nie geskiet nie.

“Ek het seer op plekke wat Fanie en Melanie nog moet ontdek, maar in die omstandighede is ons oukei. Dit voel nog onwerklik wat gebeur het. Ons ry daai pad al vir 13 jaar en die volgende oomblik is jy deel van die misdaadstatistieke. Maar ons het net besluit ons gaan nie toelaat dat hulle ons vreugde steel nie. Ons sal versigtiger wees, maar nie heeltyd in die huis skuil nie.”

Strauss het mense gewaarsku om versigtig te wees en op die uitkyk te wees vir dié tendens. Hy het gesê hy het ná die voorval verneem van baie mense wat in soortgelyke omstandighede in die omgewing beroof is.

Die Cullinan-polisie kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

“Ek weet vir seker die engele waarin ek glo, was saam met ons en het baie laag gevlieg om ons te beskerm,” het hy afgesluit.

Kos-is-oppie-tafel-se-Etienne-en-Willie

Etienne Smith en Willie Strauss is die aanbieders van ASTV se gewilde kosprogram, Kos is oppie die tafel. Foto: Kos is oppie tafel se Facebookblad.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Elsa ·

tyd dat daar patrollie motors ontplooi word op elke pad…JA dit is moontlik…genoeg geld beskikbaar en mort aangewend word om moyoriste te beskerm

Tanya ·

Wat is die verskil tussen ‘n rewolwer en ‘n geweer?” Een was met ‘n geweer gewapen en die ander het rewolwers gehad”?

Cherokee ·

Tanya, rewolwers en pistole is een-hand-wapens en gewere word met twee hande hanteer. Rewolwers en pistole kan weggesteek word aan die liggaam terwyl ‘n geweer te groot is om op daardie manier weggesteek te word. ‘n Rewolwer het ‘n draai-magasyn terwyl ‘n pistool se patrone met ‘n magasyn in die kolf gelaai word.

alida ·

Maak dit regtig saak wat die verskil is. Onskuldige mense is weereens hulle vryheid ontneem.

Annakapat ·

Tanya, n geweer het n lang loop en n rewolwer het n kort loop…

Siener van Melbourne ·

En as jy een van hulle sien moet jy hard loop…

Ada ·

Marisa, hierdie twee manne het ‘n verkriklike ervaring gehad. Wees asb meer simpatiek. Wat sou jy in daardie situasie gedoen het? Almal reageer verskillend. Hulle kon gesterf het.
Ek is bly julle leef om die storie te kan vertel.
Tanya ‘n rewolwer kan gewoonlik 5 rondtes skiet. Die 44 is ‘n groot een en die 357 is ‘n kleiner een maar net so dodelik. Die 22 is ‘n baie klein een . Daar is verkillende tipe gewere – maar soos Annakapat tereg se- dit het ‘n lang loop en is ewe gevaarlik. Vir alles moet jy ‘n lisensie voor kry .
Ek hoop die twee manne herstel van hulle skok. Sterkte vorentoe.

Cobus ·

Ai dis erg. So bitter bly jul lewend. Julle dierbare mense. Het altyd na jul program gekyk. Sterkte!

Peet ·

Miskien is dit tyd dat mense in `n konvooi gegin ry, gewapen met swepe om die aanvallers te tugtig as hulle oortree.

Nico K ·

As jy in die middel van die nag oor ‘n klip in die pad ry, dan ry jy met jou papwiel verder. ‘n Kennis van my het so oor klippe gery, en onmiddellik besef wat aangaan en het ‘n kilometer verder gery voor hy sy band vervang het. Die persoon wat die klippe in die pad gesit het, het daardie kilometer gehardloop en hom steeds aangeval. Hou aan ry. Mors liewer jou wiel op as jou lewe.

Theresa ·

Liewe aarde, m a w die klippakker wou sonder twyfel hierdie mens skade aandoen. Hoop toe hy gevang is, het hy ekstra straf daarvoor gekry.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek lewer nie meer kommentaar oor rowe, aanvalle en moorde nie want daar is niks meer te se as dat ons weet wie die misdade pleeeg al mag ons nie hulle beskryf nie. Buitendien het hul ‘n ekstra geen wat hul instaat stel om die gruweldade te doen sonder enige menslikheidsgevoel vir n ander.

nhk ·

Ek lag dat di trane loop…….Hoekom….skok…..dit het my e my man seker 30 jaar terug oorgekom…een aand vanaf port elizabeth …..deur die chatty…oppad despatch toe . N persoon het in die pad gele en ons het bo oor die persoon gery. Binne sekondes was ons omsingel……wat n nagmerrie ondervinding

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.