TV-evangelis se verblyfstatus in SA betwis

Argieffoto

Die regsverteenwoordiger van die Nigeriese pastoor wat van mensehandel en die seksuele misbruik van nagenoeg 30 meisies beskuldig word, het Dinsdag ʼn immigrasiebeampte se getuienis dat die pastoor onwettig in Suid-Afrika was, betwis.

Adv. Alfonso Hattingh, vir die verdediging, het in die Port Elizabeth-landdroshof verwys na “foute” op die blaaie van die pastoor se paspoort en het skuiwergate in die pastoor se visums probeer vind om regeringsbeamptes se onakkuraathede te bewys. Ivan Klaasen, ʼn senior immigrasiebeampte, was weer Dinsdag in die getuiebank.

Die kwessies wat betwis is, is aanpassings wat gemaak is op ʼn werkspermit en ʼn verblyfpermit wat in die pastoor se paspoort verskyn en op dieselfde dag, 18 Julie 2000, uitgereik is. Klaasen het getuig die pastoor het by die Suid-Afrikaanse ambassade in Botswana vir ʼn werkpermit aansoek gedoen, maar met sy aankoms by die grenspos in Botswana is hy ʼn tydelike verblyfpermit gegee in plaas daarvan dat sy werkspermit geaktiveer is.

“Hierdie dokumente is verder verleng en aangepas vir jare ná die aanvanklike kwessies,” het Klaasen gesê.

Hatting het Klaasen se beskrywing van die pastoor as ʼn onwettige immigrant verwerp en gesê Klaasen het geen wetlike redes om sy kliënt ʼn onwettige immigrant te noem nie, aangesien hy nie ʼn verbode persoon is nie. “Permitte is aan [die pastoor] uitgereik en dit was gegrond op inligting in vorige dokumente wat deur binnelandse sake uitgereik is,” het Hatting gesê.

“In die lig van die foute deur jou administrasiepersoneel, die foute wat in hierdie paspoorte voorkom, kan jou weergawe van [die pastoor] se status ook ʼn fout wees.”

Klaasen het hierop gereageer deur te sê daar is ʼn duidelike verskil tussen ʼn fout en bedrog. “ʼn Fout kan reggestel word, maar bedrog sal nie reggestel word nie. Dit was geen fout nie, dit was ʼn opsetlike taktiek,” het hy gesê. Hoewel hy nie weet wat gebeur het tydens die bedrieglike transaksies tussen die pastoor en immigrasiebeamptes wat die bedrieglike permitte aan hom uitgereik het nie, is daar rooi waarskuwingsligte waarop hy sy mening grond.

Hatting het gesê die departement van binnelandse sake het die permitte aan die pastoor uitgereik wat beteken dat hy wettige status in die land het. Hy het gevra hoekom die pastoor nie gedeporteer is as hy ʼn onwettige immigrant is nie. Klaasen het aangedui daar is geen planne om die pastoor nou te deporteer nie weens die hofsaak wat tans aan die gang is.

Hatting het verder aangevoer daar is geen rede hoekom die pastoor borgtog geweier moet word nie en het gesê die hof moet besluit of hy wel ʼn onwettige immigrant is of nie. Hy het gesê die staat het ʼn swak saak en dat die pastoor nie ʼn vlugrisiko is nie aangesien hy al sedert Oktober weet dat hy ondersoek word.

“Hy het vyf geleenthede gehad om te ontsnap, maar het teruggekom. Daarom is hy nie ʼn vlugrisiko nie,” het Hatting gesê.

Adv. Nceba Ntelwa, die staatsaanklaer, het die borgtogaansoek teengestaan en gesê daar is “ernstig inkriminerende” bewyse teen die pastoor.

Die saak is tot 9 Junie uitgestel wanneer die hof uitspraak oor die borgtogaansoek sal lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

…’sal nie ontvlug nie’ word gesê. Dit herinner aan ‘n gewese advokaat wat vir dieselfde tipe ortredings vervolging in die gesig gestaar het maar toegelaat was om oorsee te reis waarna hy gevlug het en nou in Rusland in ‘n tronk is waarna hy na SA gedeporteer sal word. Vra maar vir advokaat Barbie meer daaroor.

marous ·

Die man se vrou het openlik gevra vir finasiele ondersteuning . Hy sal sekerlik nie groot bedrag borg kan betaal nie , maar ek is seker die man se regsadviseurs sal hom kan uithelp uit hul eie sake want daar is mos geen risiko nie !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.