TV-kokkedoor sterk aan ná 4-uur-operasie

Le Roux van Vuuren voor die operasie saam met sy seun, CJ, en dogter, Ella. Foto: Verskaf

Die koskenner Le Roux van Vuuren van Kokkedoor-faam moes Dinsdag ʼn operasie ondergaan wat vier uur lank geduur het om sy pelvis te herstel nadat hy ʼn week gelede in ʼn ernstige motorongeluk was.

Maroela Media het vroeër berig Van Vuuren en ʼn vriend was van Van Vuuren se woning in Pretoria op pad na Langebaan om daar melkterte te gaan bak toe die ongeluk plaasgevind het.

Van Vuuren en sy vriend het beurte gemaak om te bestuur. Tydens een van Van Vuuren se bestuursbeurte het die vriend op die agtersitplek gelê en slaap toe Van Vuuren omstreeks 04:00 naby Laingsburg beheer oor die motor verloor het en dit die pad verlaat en gerol het.

Van Vuuren het sy pelvis gebreek en talle snye aan sy gesig en skaafplekke oor sy lyf opgedoen.

Hy is aanvanklik in ʼn hospitaal in Laingsburg opgeneem, maar later na die staatshospitaal in Worcester oorgeplaas waar hy in die waakeenheid opgeneem en in traksie geplaas is.

Sy vriend het ook beserings opgedoen, maar sterk tans by familie aan.

Van Vuuren se motor, ʼn Nissan Livina, is afgeskryf.

“Die operasie het goed afgeloop. Daar is staalpenne in my pelvis gesit om dit te heg en ek gaan nou nog minstens ses weke lank in traksie aan ʼn hospitaalbed gekluister wees,” het Van Vuuren Woensdag vanuit die hospitaal aan Maroela Media gesê.

Opgewek en komies, soos kykers hom in die kykNET-werklikheidsreeks Kokkedoor leer ken het, sê hy hoewel hy baie pyn het ná die operasie, is hy vol hoop en steeds positief – al sal hy sodra hy genees het van voor af moet leer loop.

“As alles volgens plan verloop, word ek môre [Donderdag] na ʼn gewone saal oorgeplaas waar ek steeds in traksie gaan wees. Dalk oor ʼn week, as my wond gesond is, gaan ek met rehabilitasie begin, so ek sal dan losgemaak word. Hierdie hospitaal is een van die beste ortopediese hospitale in die land, al is dit ʼn staatshospitaal, so ek is baie geseënd dat ek hierheen gebring is, want ek het nie ʼn mediese fonds nie.”

Hy het gesê die ondersteuning wat hy van sy familie, veral sy eksvrou, Estelle, en kinders, CJ (15) en Ella (14), ontvang, dra hom in die moeilike tyd.

“Dié dat ek op Kokkedoor was, maak dit ook makliker. Mense wat ek nie eens ken nie, daag hier op en bring vir my leesstof en blomme. Ek is verbaas oor al die ondersteuners en hul goedgesindheid. Al is ek ver van die huis af, voel dit of ek hier tuis is.”

Hy sê wat hy die meeste mis terwyl hy nou aan ʼn hospitaalbed vasgekluister is, is om sy eie kos te maak.

“Soos in menige hospitaal is die kos maar valerig, maar ek kritiseer en kla glad nie. Vandat die kosmakers agtergekom het ek was op Kokkedoor kom dit al mooier hier uit,” skerts hy.

Van Vuuren het voor sy vier uur lange operasie baie goeie nuus ontvang. Sy projek waarmee hy ʼn paar maande gelede begin het om CJ saam met ʼn groep o.16-spanmaats na Nieu-Seeland te stuur vir ʼn oorsese rugbytoer, het sy doelwit bereik. Van Vuuren het begin melkterte bak om sodoende geld vir dié oorsese toer in te samel en die bestellings het behoorlik ingestroom.

“Hulle vlieg 29 September. Ek werk vir myself, so al lê ek nou hier en kan sodoende nie ʼn inkomste verdien nie, kan ek met dankbaarheid en ʼn geruste hart weet een van my seun se grootste drome gaan bewaarheid word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannelie ·

Ek is baie bly dat dit beter gaan. Dis een ding van die Worcesteriete, hulle sal jou op die hande dra en ondersteun. Sterkte vorentoe.

Wickus de Bruin ·

Ons as gesin sal n bedrag skenk om sy inkomste aan te vul. Waar kan ek sy besonderhede bekom?

Rissiepit ·

Gaan na facebook Leroux Kokkedoor en stuur ‘n message dat sal Leroux jou antwoord!!! Baie dankie daar is bitter min mense soos jy!!! Met my afbetalings by werke, sonder voertuig en medies woon ek in ‘n kamer. My kind wil niks van my weet nie!!! Al die jare wat sy alles gekry het wil sy my gladnie sien nie. God bless julle almal! Seenwense Katryn xxxxxxxxxx

Lizelle ·

Le Roux, jy is n pa duisend. Jy het jou seun se lewensdroom waar gemaak met harde werk. Give this man a Bells.

Theresa B ·

Dit is nou awesome nuus. Bly daar is goeie nuus aan altwee kante en dat jou vriend ook ok is en mooi aansterk by vriende. So sorg die Hemelse Vader nê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.