TV-kokkedoor verstom met vordering

Leroux van Vuuren saam met sy seun, CJ (15), en dogter, Ella (14). Foto: Verskaf

Vroeër vandeesmaand het dit vir Leroux van Vuuren van Kokkedoor-faam soos ʼn doodsvonnis gevoel toe hy gehoor het hy gaan minstens ses weke aan ʼn hospitaalbed vasgekluister wees ná hy in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was.

Leroux het egter só vinnig herstel dat hy nie meer in traksie in die staatshospitaal in Worcester hoef te lê nie en hy is Vrydag al ontslaan om by die huis verder aan te sterk.

“Dit was soos ʼn bomskok toe ek die nuus hoor dat ek kan huis toe gaan. In my kop het ek nog gereed gemaak om minstens ʼn maand lank in die hospitaal te wees, maar verlede week het ek agtergekom die dokters lyk tevrede en verstom oor my vordering. Ek self het goed gevoel en toe, Vrydag, kom die hele span en sê hulle voel ek het ver gevorder en wou weet of ek by die huis wou aansterk,” het Leroux Maandag aan Maroela Media vanuit Worcester gesê.

Leroux, ʼn Pretoria-inwoner, gaan tans tuis by vriende wat op die Wes-Kaapse dorp woon aangesien hy nog minstens twee keer die hospitaal moet besoek voordat hy kan plan maak om terug te keer Pretoria toe.

“Ek kan nou nog nie wawiele doen nie en is steeds half bedlêend, maar ek kan met behulp van krukke kom waar ek moet,” het hy gesê.

Hy sê hy kan nie lank regop sit of staan nie, maar dit is beter as om in traksie te lê.

“Ek het agtergekom toe ek met die fisio begin het, dat dit baie goed werk. As ek 10 oefeninge moes doen, het ek gedruk vir 40, sonder om my te ooreis. Elke tydjie wat ek gehad het, het ek geoefen.”

Hy is vol lof vir die “engele” waar hy tans bly en vir die hospitaal waar hy behandel is. “Vir ʼn staatshospitaal is die plek fenomenaal. Dit het vir my gevoel of ek in ʼn private hospitaal was. Dit was altyd skoon, die personeel was vriendelik en altyd daar, selfs die kos was nie te sleg nie.”

Leroux moet Dinsdag terugkeer na die hospitaal waar die mediese krammetjies verwyder moet word aan die sny van nagenoeg 40 cm wat gemaak is tydens ʼn operasie wat vier uur geduur het om sy gebreekte pelvis te heg.

Maroela Media het vroeër berig Leroux en ʼn vriend was van Pretoria af op pad na Langebaan om daar melkterte te gaan bak toe die ongeluk op 8 Augustus plaasgevind het.

Leroux en sy vriend het beurte gemaak om te bestuur. Tydens een van Leroux se bestuursbeurte het die vriend op die agtersitplek gelê en slaap toe Leroux omstreeks 04:00 naby Laingsburg beheer oor die motor verloor het en dit die pad verlaat en gerol het.

Leroux het sy pelvis gebreek en talle snye aan sy gesig en skaafplekke oor sy lyf opgedoen. Hy is aanvanklik in ʼn hospitaal in Laingsburg opgeneem, maar later na die staatshospitaal in Worcester oorgeplaas waar hy in die waakeenheid opgeneem en in traksie geplaas is.

Sy vriend het ook beserings opgedoen, maar is gou ná die ongeluk ontslaan.

Van Vuuren se motor, ʼn Nissan Livina, is afgeskryf.

Ná Dinsdag se hospitaalbesoek sal hy vir nog ʼn opvolgbesoek moet gaan voordat hy die lang pad terug na Pretoria sal kan aanpak.

“Ek glo nie ek sal te lank kan sit vir ʼn rit in ʼn voertuig nie, so ek gaan maar probeer om terug te vlieg. As ek weer terug by die huis is, glo ek sal ek behoorlik in my eie ruimte ten volle kan herstel.”

Leroux sê hy is dankbaar dat hy so baie mense het wat daar is vir hom en wat omgee en hom bystaan.

“My eksvrou, Estelle, en kinders, CJ (15) en Ella (14), het Sondag vanuit Langebaan kom kuier en het die hele dag hier deurgebring. Dit was die beste medisyne. Dit was baie koud weens die kouefront wat ons getref het. Hier waar ek nou bly, kyk die huis uit op die sneeubedekte berge. Ons het gister lekker gebraai en heeltyd voor die kaggel gesit – oftewel, my vriende en kuiergaste het gesit, ek het so sittend gelê,” skerts hy.

“Ons het lekker gehaltetyd met mekaar deurgebring. Ek het great gevoel ná hulle besoek en besef met hulle aan my sy, kan ek enige probleem oorkom.”

‘n Geskenkie van CJ aan sy pa. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nellia ·

Nerens bedank hy ons Hemelse Vader vir sy spoedige herstel nie.
En ook nie die aards Engele wat donasies geskenk het via Media Platforms nie.

AgAsseblief ·

Moet die naels altyd uitkom? Baie bly jy herstel so goed Mnr. Die rykste seën vir jou volle herstel, en ‘n blink toekoms vorentoe.

Ronel ·

Dis seker nie nodig om in elke berig sy dank uit te spreek teenoor mense en Die Here wat hom so help nie? Any way. As ek ‘n donasie gemaak het vir watter rede ookal, is dit vir my net belangrik dat dit vir die regte doel aangewend word. Ons weet , en ek’s seker ons hemelse Vader weet dat hy dankbaar is!!
Ek’s bly hy vorder so goed. ‘n Positiewe houding help beslis met die herstel! Sterkte vorentoe!

Hannelie ·

So bly dit gaan sommer BAIE beter, Ons Worcesteriete het baie liefde om te gee. Gou gesond word Le Roux en sterkte met jou pad vorentoe. By ons God is niks onmoontlik nie.

susan ·

Daar word gesê moet jou nie omring met negatiewe mense nie. Nou net weer bewys daarvan. Ek is nie verbaas dat hierdie land so is nie absolute kla kouse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.