TV-ster dagvaar ná bewerings oor Pta-botsing

Nape Phasha. Foto: Instagram

Nape Phasha. Foto: Instagram

Twee mense wat glo beweer het Nape Phasha, die student wat aan die werklikheidstelevisiereeks Rich Kids deelgeneem het, was betrokke by ʼn botsing waarin ʼn motorfietsryer gesterf het, word nou vir laster gedagvaar.

Phasha se regspan het Woensdag aan Maroela Media gesê hulle doen regstappe teen die mense wat die bewerings versprei het, aangesien die bewerings die gehalte van hul kliënt se lewe benadeel het. Michael Motsoeneng, Phasha se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt het ná die voorval doodsdreigemente ontvang en moes noodgedwonge ʼn lyfwag aanstel.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn motorfietsryer, Mogomotsi Moerane (31), op 13 Augustus dood is toe hy deur ʼn swart Mercedes in Moreletapark, Pretoria, raakgery is. Kobie Delport, ʼn ooggetuie, het destyds aan Maroela Media gesê hy het ʼn man op die toneel herken as die pa van een van die gesinne in die realiteitsreeks Vuzu Rich Kids.

“Die man het met die bestuurder in die Mercedes, wat ek aangeneem het sy seun is gepraat voordat hulle in die pa se motor daar weg is. Die Mercedes het net daar langs die pad bly staan,” het Delport gesê.

Blomme by die ongelukstoneel. Foto: Facebook

Blomme by die ongelukstoneel. Foto: Facebook

Volgens Phasha se regspan het Delport ná die voorval ook verskeie inskrywings op sosiale media gemaak waarin hy beweer het dat Nape Phasha vir die ongeluk verantwoordelik was.

Volgens Phasha se regspan het ʼn man van Johannesburg, wat die Twitter-profiel @PigSpotterCliff gebruik, ook op die sosiale netwerk beweer Phasha was vir die botsing verantwoordelik. Volgens hofdokumente het hy kort na die ongeluk getwiet: “Nape Phasha, seen Vuzu Rich Kids, knocked down and killed a biker on Garsfontein with mommy’s car & fled the scene.”

Phasha dagvaar beide Delport en @PigSpotterCliff vir laster en eis van elk vergoeding van R500 000, dat hulle hul uitlatings terugtrek en ʼn openbare verskoning. Volgens Motsoeneng is die dagvaardings ʼn aanduiding van die erns van die saak, aangesien sy kliënt se lewe ingrypend benadeel is deur die bewerings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dee ·

Hetsy dit bloot gedoen word as skrikmiddel ten einde meer kommentare in die kiem te smoor of om watter rede ookal, is uit die berig iets te leer vir mense wat kla en mor omdat Maroela van ‘verdagtes’ praat.

Bruno Stef ·

Dit redeneer nie die feit weg aan wie behoort die Mercedes wat betrokke was.As dit dan n “Hit en Run” was moes die betrokke voertuig seker deur die Polisie geskut gewees het aangesien n persoon in die ongeluk dood is en forensiese ondersoeke op die voertuig gedoen moet word na die skim bestuurder verdwyn het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.