TV-ster ontwaak uit geïnduseerde koma

Theunis Nel. Foto: Facebook

Theunis Nel. Foto: Facebook

Theunis Nel, akteur en aanbieder van die motorfietsprogram Woema op kykNET, is wakker gemaak uit die geïnduseerde koma waarin hy geplaas is nadat hy Maandag in Pretoria in ʼn ernstige motorfietsongeluk betrokke was.

Sy vrou, Mareli, het Donderdagoggend dié goeie nuus op sy ondersteuningsgroep op Facebook gedeel. Die groep, Theunis Nel – WOEMA – Updates!, is ná die ongeluk gestig en het reeds meer as 2 100 lede wat daagliks boodskappe van bemoediging en gebede deel.

Volgens Mareli is hy wakker gemaak en reageer hy met sy oë. ʼn Vriend van Nel, wat hom Woensdag besoek het, het ná die besoek gesê die dokter is tevrede met sy vordering, en dat die verdowingsmiddels verminder word en hy nie meer adrenalien ontvang nie.

Intussen is meer inligting oor die ongeluk bekendgemaak. Volgens ʼn ooggetuie het die ongeluk omstreeks 09:30 op die N1-snelweg naby die Garsfontein-afrit in ʼn noordelike rigting plaasgevind. Nel het met sy motorfiets vanaf Potchefstroom, waar hy en sy gesin woon, na die noorde van Pretoria gereis waar hy in samewerking met sy mede-aanbieder van Woema, Anria van Heerden, besig is om ʼn Woema-motorfietswinkel oop te maak.

Na wat verneem word, het Nel met sy BMW GS 1150 op die nat snelweg gery toe hy moontlik op ʼn oliekol gegly het. Toe hy op die pad land het hy, soos hy opgelei is, sy motorfiets weggeskop en in die middel van die snelweg bly lê. Twee motors kon daarin slaag om hom te vermy, maar ʼn bakkie, wat glo ook gegly het, het teen ander motors gebots en hom getref. Nel het glo onder die bakkie beland en is vir ʼn paar meter onder die bakkie gesleep tot waar die bakkie tot stilstand gekom het met hom steeds onder die bakkie. Paramedici van Netcare 911 het hom in ʼn kritieke toestand sowat 100 meter van sy motorfiets se wrak aangetref. Altesaam ses voertuie was glo in die ongeluk betrokke.

Nel is ná die ongeluk na die Pretoria-Oos-hospitaal geneem en later na die Unitas-hospitaal in Centurion oorgeplaas. Sy regterarm moes noodgedwonge Dinsdag in die vroeë oggendure geamputeer word om sy lewe te red.

ʼn Groep motorfietsryers het Dinsdagaand buite die Unitas-hospitaal bymekaar gekom om vir hom te bid.

Mareli het Donderdag ʼn beroep op sy ondersteuners gedoen om aan te hou bid vir hom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christien de Vaal ·

Baie sterkte aan Theunis en sy familie ons bid jou beterskap toe .

Madeleine Bonthuys ·

Baie Sterkte Marli, en seuns ons bid saam julle in hierdie tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.