TV-vrou se man verloor byna arm ná fratsongeluk

Cornél van Heerden in die hospitaal. Foto: Facebook

Cornél van Heerden, Johannesburgse vryskutfotojoernalis en man van eNuus-ankeraanbieder Daniëlla van Heerden, het Vrydag byna sy regterarm verloor ná ʼn fratsongeluk by sy huis.

Daniëlla het Saterdag aan Maroela Media vertel sy en Cornél (31) was albei by hul huis in Roodepoort toe die ongeluk gebeur het. Volgens Daniëlla was Cornél besig om vurktandheining rondom hul erf te installeer omdat daar Dinsdag iemand by hul huis ingebreek het.

“Ons het ná die inbraak op die beeldmateriaal van die bure se veiligheidskameras gesien hoe die inbreker deur die spasie tussen die muur en die elektriese omheining seil om die erf binne te kom en het toe besluit om die vurktandheining daar op te sit,” het sy gesê.

Cornél het die Vrydagmiddag buite gewerskaf en sy was binne die huis toe sy skielik gehoor het hoe hy gil. “My eerste gedagte was dat hier weer iemand in ons erf was en ek het gedink ek moet dadelik na die paniekknoppie hardloop. Toe ek buite kom, het ek net baie bloed gesien en Cornél het vir my geskree om ʼn handdoek te kry om die bloeding te stelp. Sy arm het baie erg gebloei, maar omdat hy ʼn langmouhemp aangehad het, kon ek nie die wond sien nie.”

Daniëlla en Cornél van Heerden. Foto: Facebook

Daniëlla sê sy kon daarin slaag om Cornél in die motor te kry en het met hom na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas. Cornél was nie in staat om te praat nie en het op pad na die hospitaal sy bewussyn verloor. By die hospitaal is hy dadelik by die ongevalle-afdeling ingeneem waar dokters die wond aan sy arm ondersoek het.

Dit het later aan die lig gekom dat Cornél gegly het terwyl hy die vurktandheining opgesit het en een van die tande het ʼn stuk van sy voorarm uitgeruk. ʼn Groot aar in sy voorarm is heeltemal oopgesny en die tand het ʼn tweede aar in die arm rakelings gemis. Cornél is gisteraand geopereer om die skade aan sy arm te herstel en sal waarskynlik môre weer ʼn opvolgoperasie moet ondergaan.

“Die dokter wat hom geopereer het, het agterna vir my gesê die skade was eintlik baie erger as wat hulle onmiddellik besef het. Hy het ook baie erg tydens die operasie gebloei. Sy het gesê sy is verbaas dat ek hom betyds by die hospitaal gekry het voordat hy doodgebloei het,” sê Daniëlla. “Volgens die dokter sou hy sy arm verloor het indien die vurktand die tweede aar in sy voorarm ook afgesny het.”

Die dokters verwag dat daar ʼn mate van langtermynskade aan Cornél se arm sal wees, maar die omvang hiervan kan eers later bepaal word. Intussen herstel hy in die omstandighede goed, hoewel hy nog meestal slaap. “Hy het vanoggend klaar gesê ek moet vir hom biltong bring en gevra dat ek die rugby vir hom opneem, so duidelik is hy buite gevaar!” het sy geskerts.

“Ek is vandag net baie dankbaar dat hy nog leef en dat hy sy arm behou het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

al ·

Dankie tog sy 2de aar was ook nie oopgesny nie. Ek bid vir spoedige en wonderwerkende herstel.

Nico ·

Ek is defnitief agter die klip. Nog nooit van hierdie mense gehoor nie. Ek is bly hy is OK.

anichia martie van vuuren ·

Eina shame bly hys darm ok. Kyk nou wat gebeur deur misdaad in ons land n onskuldige man ernstig beseer deurdat hy sy eiendom probeer beveilig. Sterkte en spoedige herstel. Ons bid dat da GEEN permanente skade aan arm sal wees ni.

Misdaad se skuld ·

Dis net nog een voorbeeld van die indirekte prys wat ons moet betaal vir misdaad. Ons moet industrieele sterkte heinings opsit omdat die af ANC nie misdaad kan beheer nie.

Tina Buys ·

Oulike jongmense, bekwaam en professioneel. Beste wense vir spoedige herstel.

JS ·

Google gerus “Rotation Compression Tourniquet” of “Combat application Tourniquet”. Hulle kos so R250 in SA en stop erge bloeding aan ledemate baie vinnig en doeltreffend. Elke huis en kar behoort ene te hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.