Twaalf van Klerksdorp in hof ná onluste

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die verhoor van 12 vermeende oproermakers wat Sondag aangekeer is tydens die chaos by ʼn taxistaanplek in Klerksdorp in Noordwes is tot 18 Oktober uitgestel.

Elf van die beskuldigdes het Dinsdagoggend borgtog van R500 elk gekry en een is met ʼn waarskuwing vrygelaat. Hulle staan tereg op aanklagte van openbare geweld en die besit van gesteelde goedere.

Al 12 verdagtes is Sondag in Klerksdorp in hegtenis geneem ná die geweldpleging in die woonbuurt Pienaarsdorp naby die middestad. Volgens die polisie in Noordwes het die oproer Maandag voortgeduur toe talle geboue in Viljoen- en Coetzeestraat wat aan buitelanders behoort aan die brand gesteek is.

Twee sakeondernemings is geplunder en 10 voertuie aan die brand gesteek op ʼn perseel waar ʼn buitelander voertuie herstel.

Die polisie sê die geweld het ontstaan nadat polisiebeamptes Sondagoggend op patrollie in Pienaarsdorp op ʼn plaaslike taxibestuurder se lyk afgekom het. Hy is twee keer met ʼn mes gesteek.

ʼn Aantal taxibestuurders het toe groepeer met die doel om hul kollega se dood te wreek omdat hulle gemeen het sy moordenaars is buitelanders.

Die polisie sê volgens inligting tot hul beskikking is ʼn 28-jarige Zimbabwiër later die dag by sy stalletjie met ʼn mes in die bors gesteek, vermoedelik deur lede van die groep ontstoke taxibestuurders. Hy is hospitaal toe gebring, maar by sy aankoms dood verklaar.

Volgens ooggetuies het mense buitelanders se stalletjies aan die brand gesteek en hul ware geplunder. Die polisie handhaaf steeds ʼn teenwoordigheid op die toneel om die situasie te bestendig.

Niemand is nog in verband met die twee moorde in hegtenis geneem nie. Die ondersoeke na al die aangemelde sake duur voort.

Intussen het lt.genl. Baile Motswenyane, Noordwes se provinsiale polisiekommissaris, opnuut gesê dat wetteloosheid nie geduld kan word nie. Sy sê al het inwoners die reg om hul misnoeë te kenne te gee, moet hulle dit wettig doen.

Niemand mag eiemagtig optree nie, het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Flous ·

En more loop hulle weer vry, vir wie flous julle? Hoeveel betogers sit regtig in die tronk na die vernietigingsveldtogte??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.