Twee aan stuur van perlemoensmokkelnetwerk vasgetrek

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Twee mans, wat glo deel is van ʼn transnasionale perlemoensmokkelnetwerk, is Dinsdag in die Boksburg-landdroshof R100 000 borgtog toegestaan nadat hulle verlede week in hegtenis geneem is.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê die verdagtes, Akthar Naeem Cassim (54) en Ernest Chen (31), is Vrydag in hegtenis geneem ná ʼn gesamentlike poging deur die Valke, die polisie en die departement van landbou, bosbou en visserye.

“Die inhegtenisnemings volg nadat ʼn vragmotor Donderdag in die vroeë oggendure naby Beaufort-Wes in die Wes-Kaap van die pad afgetrek is,” het Ramovha gesê. “Die vragmotor is deursoek en nagenoeg 67 000 stukke gedroogde perlemoen is in die voertuig gekry. Die perlemoen weeg sowat 2 400 kg.”

ʼn Voorlopige ondersoek het die eienaar van die vragmotor verbind met ʼn sakeonderneming in Boksburg aan die Oos-Rand.

“Die toegewyde ondersoekspan is dadelik na Gauteng om by die sakeonderneming ondersoek in te stel, waar ʼn verdere 12 579 stukke perlemoen, wat 430 kg weeg, in ʼn skeepsvraghouer gevind is. Die twee verdagtes, ʼn Chinees en ʼn Suid-Afrikaner, is gevolglik in hegtenis geneem. Hulle staan glo aan die stuur van ʼn transnasionale perlemoensmokkelnetwerk.”

Die mans staan tereg op aanklagte van die oortreding van die Wet op Lewende Mynhulpbronne. Die saak is tot 28 November uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre ·

R 100 000 se borgtog toegestaan…En wat is bykans 2.5 ton se perlemoen werd? Hoe lank gaan moeder natuur neem om hierdie skade aan ons kuslyn te herstel?

Hulle het die borgtog met glimlagte betaal!!! En gaan boonop met n ligte vonnis hieraan afkom. Los hulle gatte in die tronk!

Scalla ·

Weereens buitelander betrokke by skelmstreke, jaag hulle almal terug van waar hul vandaan kom, geen borgtog moet toegestaan word nie.

humor ·

Miskien n vraag in onkunde. Meermale word hierdie stropers met klaar verwerkte perlemoen vasgetrek. Waarom word hulle nie reeds gevang daar waar hulle met hul plundertogte in die see besig is nie. Dit wil voorkom of n sekere departement nie hul werk doen nie.

snoyters ·

wil eerder lyk of die skuldiges opgehou het om sjuutgeld te betaal.
as meer suid Afrikaners met die nodige kennis self die perlemoen mag oues en verwerk, sal daar minder kans wees vir plunderaars om te steel en te verwoes.

Reneé ·

Deel asb fotos van die mense, die Danabaai Bewarea het sowat ñ maand terug Chinese dopgehou wat ons vermoed het, besig was met stopery hier aan ons kuslyn. Hulle het weggekom, maar ons het fotos van die mense. Dit sal op sigself die mense aan die kuslyne iets gee om te eien.

John ·

Ons marine-bronne is al leeg gesteel deur seerowers van oraloor en nou wil die staat dit glo ontsluit… watter bronne?

marie visser ·

borgtog toegestaan sodat hulle kan vlug. patetiese regstelsel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.