Twee aangekla na video van groot begrafnis versprei 

‘n Skermskoot uit een van die video’s wat versprei is.

Twee mense word ingevolge die Covid-19-afsonderingsregulasies aangekla in verband met ʼn begrafnis wat in Soshanguve, noord van Pretoria, plaasgevind het.

ʼn 33-jarige vrou is Saterdag in Mabopane in hegtenis geneem nadat sy Vrydag ʼn begrafnis bygewoon het en ʼn video die lig gesien het waarin sy polisiebeamptes “uitdaag” en hulle vra om een kant toe te staan sodat die oorledene begrawe kan word.

“Talle video’s wat by dieselfde begrafnisdiens opgeneem is, word op sosiale media versprei en dit bevestig ook dat die getal roubeklaers wat die begrafnis bygewoon het die limiet van 50 mense ver oorskry het,” het brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, gesê.

Die vrou is aangekla vir die oortreding van die afsonderingsregulasies. Sy is op waarskuwing vrygelaat en moet weer op 3 September in die Soshanguve-landdroshof verskyn.

ʼn Familielid van die oorledene wat as organiseerder van die begrafnisdiens opgetree het, is intussen ook in hegtenis geneem  omdat daar versuim is om aan die afsonderingsregulasies te voldoen. Die familielid is ook op waarskuwing vrygelaat en moet op 24 Augustus in die Soshanguve-landdroshof verskyn.

Die polisie in Gauteng, in samewerking met die weermag en ander wetstoepassingsagentskappe, het lede van die publiek gewaarsku om hulle daarvan te weerhou om doelbewus die afsonderingsregulasies te verontagsaam, veral met betrekking tot die bywoning van begrafnisse waar die getal roubeklaers tot 50 beperk word.

Volgens Peters is Soshanguve en Ga-Rankuwa deur die provinsiale departement van gesondheid uitgewys as brandpuntgebiede in Gauteng. Die provinsie is onlangs as die episentrum van Covid-19 verklaar.

“Dit is met die oog hierop dat die veiligheidsmagte in die provinsie maatreëls verskerp om die regulasies af te dwing, na aanleiding van president Cyril Ramaphosa se toespraak aan die land waartydens die president vir groter persoonlike verantwoordelikheid gevra het.”

Genl.maj. Johan Ndlovu, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het gemeenskappe daaraan herinner dat die regulasies ingestel is om lewens tydens die Covid-19-pandemie te beskerm en nie om mense te straf nie.

“Die Covid-19-pandemie, en mense wat hul lewens aan die virus verloor, is geen grap nie. Enigiemand wat die regulasies doelbewus verontagsaam, stel diegene rondom hulle bloot om die koronavirus op te doen.”

Ndlovu het lede van die publiek geloof wat oortredings van die afsonderingsregulasies by die polisie aanmeld in ʼn poging om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Daar is baie meer as 2 oortreders daar as hulle bo vyftig mense daar was.

Pierre

Daar gaan NIKS met die aangeklaagde “organiseerder” gebeur nie…

Yolandie

Ja ek dink dis nou tyd dat die ANC elite vasgevat word wat hulle nie steur aan die afsonderings regulasies nie. Die persoon wat dan begrawe word is dood aan Covid 19, maar almal in die video vind dit goed om saam te kloek en selfies te neem sonder maskers. Hulle maak ‘n klug van regulasies wat gehoorsame burgers moet aan gehoor gee en doen.

Magda

Duidelik wil hulle die volgende slagoffer wees van Covid19 – as jy nie wil hoor nie moet jy maar voel. Geen simpatie met die wat nie die regulasies wil volg nie.

Sandra

So jammer ‘n sekere deel van die gemeenskap dink hulle is bo die wet verhewe. Wat jy nie kan koop nie, vat jy eenvoudig. Kom in skares bymekaar en versprei die virus. En as jy nie jou sin kry om alles verniet te kry of ontevrede is, brand jy af wat jy het – en sommer ander mense s’n ook.