Twee aangekla oor advokaat se moord

Adv. Pete Mihalik is op 30 Oktober 2018 voor sy kinders se skool doodgeskiet. Foto: ANA

Twee persone is aangekla van die moord op adv. Pete Mihalik en van poging tot moord op sy agtjarige seun.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het Woensdagmiddag bevestig die twee verdagtes, onderskeidelik 26 en 31 jaar oud, is amptelik aangekla van moord en poging tot moord. “Hulle sal na verwagting Donderdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.”

Maroela Media het vroeër berig die eerste verdagte is enkele ure ná die moord aangekeer en die tweede persoon later die middag.

Die 50-jarige advokaat, wat bekend was daarvoor dat hy onderwêreldse karakters in die hof verdedig het, is Dinsdagoggend omstreeks 07:30 buite sy kinders se private skool, Reddam House in Groenpunt, geskiet terwyl hy hulle by die skool afgelaai het.

Volgens die skade aan Mihalik se swart Mercedes-Benz is hy ʼn enkele skoot deur die venter aan die bestuurderskant toegedien, maar bure het ná die voorval gesê hulle het twee skote gehoor.

Sy agtjarige seun, Daniel, is in die aanval gewond en na ʼn hospitaal gehaas, waar die koeël wat in sy kakebeen vassit, nog nie verwyder is nie. Mihalik se 16-jarige dogter wat op die agtersitplek gesit het, is ongedeerd.

Mihalik was ʼn wewenaar nadat sy vrou haar stryd teen depressie verloor het toe sy drie jaar gelede haar eie lewe geneem het.

Misdaadtoneelondersoekers en forensiese deskundiges het Dinsdag amper heeldag die toneel gefynkam, terwyl Cavalcadeweg, waarin die skietery plaasgevind het, vir verkeer gesluit was. Dis ʼn hanetree van die Kaapstad-stadion en Mahilik se woonplek in die eksklusiewe kuswoonbuurt Mouillepunt.

Rwexana het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê sy kan nie die gerugte bevestig of ontken dat die baasbrein agter die moord op Mihalik ʼn taxibaas van Khayelitsha is nie. “Ons is nie bewus van sulke bewerings nie.”

Netwerk24 het Woensdagoggend berig die man wat die moord beplan het, besit taxi’s op die Kaapse Vlakte. Dié webwerf het beweer sy naam is aan hulle bekend, maar kon nie vir seker sê waarom hy huurmoordenaars sou kry om Mihalik tereg te stel nie.

Hulle het bespiegel die moord hou verband met Mihalik se verskyning die afgelope maand vir die beskuldigdes in die moordverhoor van Nkosithandile Cekasayo, ʼn taxibestuurder, twee van sy broers en nog ʼn man in die hooggeregshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johann ·

Hoeveel geld IS genoeg om jou gesin se lewens op die spel te plaas en bewese skuim te verteenwoordig? Arme arme kids wat dit moes deurgaan omdat pappa sy veronderstelde kennis en insig van reg en verkeerd vir die bose se geld geruil het!

Alida ·

Ek verafsku die daad wat gepleeg is. Mens moet objektief daarna kyk. Pete het sy beroep gekies soos ek en jy dit was sy passie. Daar sal altyd onderwereld skurke wees en ons kan hulle nie weg wens nie maar as hulle gevang word soek hulle regshulp. Dit is seker hulle reg of nie. Dit is nie al sake waaraan Pete gewerk het nie maar as hy opdrag kry om iemand te verteenwwordig doen hy sy werk en weet nie wie of wat die klient gedoen het voor hy met hom gekonsulteer het nie. Onthou geld het nie kleur of status nie jy doen jou werk. Die gemors wat n onskulduge man doodgeskiet het en 2 kinders weesgelaat het verdien die slegste wat na hom toe kom. Dit is tragies en bitter hartseer. Mens bid net dat hierdie kriminele verdamp dan hoef die regslui hulle nie te verdedig nie. Advokate en Regters is en sal ALTYD in gevaar wees kom wat wil.

Johann ·

Johann, wat sou jou argument gewees het as die oorledene ‘n dokter was? Sou jy argumenteer dat hy sy Eed van Hippokrates veronagsaam bloot omrede sy pasient
‘n krimineel is?

Abe ·

Johann,
Die perspektief wat jy hier uitspreek is nie heeltemal korrek nie. Verdedigingsadvokate is noodsaaklike en gerespekteerde elemente van n regverdige regstelsel. Lees Alida se kommentaar hierby. Dit is n meer realistiese perspektief.

AmY ·

My hart gaan uit na die kinders wat nou sonder ‘n ma én pa is.

Hannetjie ·

Alida…jy praat so na my hart.dit is soos jy dit stel.Dis irrelevant wie hy in howe verdedig het.Hy was ‘n man met 2 minderjarige kinders.Trots op die polisie vir vinnige inhegtenis neming.

Ella ·

Eintlik help dit niks. Hy is dood en sy kinders is nou ouerloos.
Kry die een wat hulle betaal het om hom te vermoor. Hy moet saam met hulle teregstaan, vir wat dit werd is.

DS ·

My hart bloei vir die kinders hulle lewens is nou vir altyd omvergegooi. Bid dat daar familielede is wat vir hulle baie liefde sal gee na alles wat hulle deur maak.

Alida ·

Ek is seker Pete het die moontlikheid van sy gevaarlike werk met sy kinders bespreek.

Johan H. ·

Miskien sal die regters nou hul strawwe hersien en lewenslank ,beteken lewenslank. Noudat een van hul eie betrokke is. Kan maar net hoop!!!!

Veritas ·

Hoe sê die spreekwoord? Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op.

Abe ·

Veritas,
Dis nie korrek om te se n verdedigingsadvokaat meng hom met die semels as hy n krimineel verteenwoordig nie. Die verdediging is net so belangrik as die vervolging in n kriminele saak. Albei die elemente is noodsaaklik vir die reg om sy gang te gaan. Daarsonder kan daar nie geregtigheid wees nie. Lees ook Alida se kommentaar hierbo.

Stella ·

Veroordeling, veroordeling en veroordeling. Wie en wat is jy? My hart bloei vir die kinders.

Blompot ·

Ek is verskriklik bitter hartseer oor hierdie moord en aanval. Ek ken die mense van geen kant af nie maar ek bid in my binnekamer vir al die krag en vertroosting vir hierdie kindertjies en naadbestaandes. Aarde, ons leef in so n bose wereld. Mag die seuntjie en sy sussie met groot genade n weg gebied word om oor hierdie treurenswaardige gebeurtenis te kom, selfs na hulle hul Mammie ook moes verloor.

Abe ·

‘n Mens moet hier waardering en dank teenoor die polisie uitspreek vir vinnige en effektiewe optrede om hierdie twee verdagtes aan te keer.

Adam ·

Wat sou sommige van julle se kommentaar gewees het indien die oorledene ‘n dokter was? Sou julle voorstel dat ‘n dokter maar die Eed van Hippokrates moet ignoreer omrede hy nie met ‘n krimineel wil werk nie? Dalk nog meer insiggewend sou die kommentaar wees rakende werktuigkundige wees wat aan kriminele se voertuie werk. Wat van die wonderlike en vlekkelose geoktrooieerde rekenmeesters?

jannie ·

Hierdie ou was nie n skelm nie…hy het bloot sy werk gedoen en hy was goed…..ek voel vir sy kinders….kry asb daai taxibaas….hy moet aan die pen ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.