Twee aangekla oor wrede robwelpie-video

Foto; Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) in die Swartland en aan die Weskus (Facebook)

WAARSKUWING: ‘n Foto onderaan die berig kan ontstellend wees vir sensitiewe lesers of kinders.

Twee mans, onderskeidelik 19 en 22 jaar oud, moet binnekort in die Laaiplek-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn in verband met die wrede mishandeling van ʼn robwelpie. Beeldmateriaal van die voorval is op sosiale media gedeel.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die twee mans sal op 17 September in die hof verskyn nadat ʼn dagvaarding op 30 Augustus op hulle bedien is. “Die ondersoek duur voort,” het Rwexana gesê.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) in die Swartland en aan die Weskus het in ʼn verklaring ook bevestig die polisie ondersoek die saak. Colette Mang, voorsitter, het gesê sy ontvang byna daagliks navrae van die publiek oor die vordering van die saak en sy is dankbaar dat die gereg nou sy gang loop.

“Die twee beskuldigdes sal onder andere tereg staan op aanklagte van die oortreding van die Wet op Omgewingsbestuur wat aktiwiteit soos die teistering en marteling van ʼn marienespesie verbied. ʼn Persoon wat hierop skuldig bevind word, kan tot vyf jaar tronkstraf gevonnis word of ʼn maksimum boete van R5 miljoen of tronkstraf met ʼn boete.”

Die organisasie het ook klagtes aanhangig gemaak kragtens die Wet op Dierebeskerming. “Die video word in ʼn baie ernstige lig beskou en die publiek word versoek om enige verdere inligting by die polisie of die departement van omgewingsake aan te meld.”

Die karkas van een van Abrie Bester se honde Foto; Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) in die Swartland en aan die Weskus (Facebook)

Abrie Bester, die persoon wat die video aanvanklik gedeel het, het intussen vier van sy honde verloor. Louise van Zyl, woordvoerder van die NDBV, het aan Maroela Media bevestig een van Bester se honde is vermoedelik agter ʼn motor aangesleep en sy hart is uitgesny. Nog drie van Bester se honde is vergiftig. Hy vermoed dit is uit weerwraak ná hy die video gedeel het.

Die NDBV bied ʼn beloning van R8 000 aan vir enigiemand wat inligting het oor die karkas van Bester se hond wat in Velddrif gevind is. “Bel asseblief 082 414 7153 as jy ʼn ooggetuie was. Die name van ooggetuies sal streng vertroulik hanteer word.”

Maroela Media het vroeër berig oor die video waarin die robwelpie oënskynlik gemartel word. Die robwelpie is in ʼn afskorting van die boot vasgekeer en twee mans steek die dier herhaaldelik met ʼn mes, tel hom aan die stert op en slaan hom dan hard teen die boot. Die welpie se pogings om uit die hande van die mans te ontsnap, misluk telkens. Op die video kan ook gehoor word hoe die mans kru taal gebruik en een van die mans die ander aanmoedig met die woorde: “My broer, swing hom!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Snowball ·

PLAK ASB HULLE GESIGTE OP ELKE VOORBLAD VAN ELKE KOERANT IN SA….Watse mens doen dit aan ‘n weerlose dier?

kaspaas ·

Ja, maak hulle bakkies bekend sodat hulle ook “geswing” kan word ek sê.

Paul ·

En of jy nou met wild boer, dalk ‘n jagplaas bedryf, daar is etiese kodes en als het perke.

Dankie Paul ·

Ek stem saam. Daar is tog nog ‘n mate van humane wees in elke aksie, mens kan nie net wild en wakker aangaan en diere doodslaan nie, nog minder iemand se honde vergiftig of agter ‘n kar aansleep en sy hart uitsny . Sjoe wat het van die mensdom geword?

Christien vd Westhuizen ·

Sluit hulle in die tronk toe in n donker sel sodat hulle vir n volle jaar nie die son maan of sterre sien nie nou vergeld sy onskuldige diere vir hulle barbaarse optrede ai hoe wreed kan mense wees

Herman ·

Ek sê nog altyd: enige persoon wat ‘n weerlose dier mishandel en/of doodmaak, sal NIE skroom om ‘n mens leed aan te doen.

Sluit hul toe en gooi die sleutel weg!!

Schalk ·

Ek stem saam met almal wat sover kommentaar lewer. Hul moet n voorbeeld maak die twee manhaftige lafaards. Skaam julle.

Theresa ·

Ja en dis nou iets wat op sosiale media gedeel moet word.. en kyk nou net hoe sosiale media julle in die bollie laat beland. En die persoon wat die video geplaas het met watse doel het hy dit geplaas? Om n grap daarvan te maak en dink mense gaan iets goeds sê? Dis n flippen skande kla almal aan. Trek sommer hul boot lisensie trug. Varke

Andries Visagie ·

Daar is nou maar net eenvoudig te veel mense in SA met geen respek vir lewe nie.

Kat ·

Walglike mense en die gene wat die arme hond so afgryslik beseer het moet ook boet!!! Mense jy sal gestraf word vir hoe jy die natuur se inwoners behandel !!

Johan ·

Sluit hulle op en gooi die sleutel weg. Maak n duidelike voorbeeld van hulle en gee maksimum en hardste fonnis moontlik.

Domvraag ·

Volgens n sekere tradisie moet n os deur jong mans met die kaal hande dood gemaak word waar sy tong uitgeskeur word en enigiets in sy keelgat afgedruk word. Wat doen die DBV hieraan?

Spreek dit dan aan ·

As jy daarvan weet, stel ek voor jy gee die dag en datum en adres aan vir die DBV dat hulle dit gaan ondersoek.

Diere is partymaal baie beter as mense ·

Hierdie wrede mense moet lewenslank met hulle gewete saamleef. Daar is geen erger straf nie. Mense wat diere mishandel en seermaak verdien die lewenslange selfopgelegde vonnis van om met jou eie gewete saam te leef. En hoe ouer hulle gaan raak hoe erger gaan dit wees.

Siele ·

My genade, wat is fout met die mense?
Indien hulle nie respek kan toon vir diere nie – wat se respek het hulle vir hulself of hulle medemens?
Hoop hulle word swaar gestraf – en moet ook gemeenskapswerk by die DBV doen – vir jare lank!!! Dalk besef hulle dan dat diere ook siele het.

Kim ·

Ek kan nie glo dat julle geen respek vir God se handewerk het nie.

Thys ·

Sies dis lelik hoe sou julle gemaak en gevoel het as julle so moes dood gemaak word,word vasgehou sodat jy ni weg kan kom ni,en di arme hond !!!! Wat het di dier aan julle gedoen julle verdien om lewens lank agter tralies te sit julle is ni werd om mense genoem te word ni

Erich ·

Maak hulle name en gesigte wyd bekend sodat die publiek weet met wie hulle te doen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.