Twee aanvalle in drie dae in Ottosdal

(Argieffoto: pixabay)

Drie aanvallers wat Vrydagoggend op ʼn egpaar se plaas buite Ottosdal in Noordwes toegeslaan het, is minder as drie uur later vasgetrek.

Hannetjie van Zyl (49) vertel sy het net na 07:00 werk toe gery. Haar man, Sarel (51), wat tans siek in die bed is, het agtergebly. Drie mans het omstreeks 09:00 op die plaas aangekom terwyl Sarel nog gelê en slaap het.

“Die mans het ons tuinier by die watertenk vasgebind en ’n vuurwapen op hom gerig. Hulle het daarna die huis binnegegaan,” vertel Hannetjie.

Sy sê die drie mans is in al die kamers van die huis in en het die kaste begin deursoek.

“Genadiglik het hulle iets in een van die kamers laat val, en dit het gemaak dat Sarel wakkerskrik. Toe hy sy oë oopmaak, het die mans by die kamerdeur gestaan. Hy het sy vuurwapen wat langs hom op die bedkassie lê gegryp, maar het eers gesukkel om die vuurwapen uit die holster te kry. Die aanvallers het toe net daar in hul spore omgedraai,” vertel Hannetjie.

Sarel het opgespring en met die vuurwapen die mans agternagesit. Hy het buite skote in die lug afgevuur.

Die verdagtes het weggekom, maar is net voor 12:00 in hegtenis geneem.

Marius Muller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, sê lede van die gemeenskap en boere in die omgewing het saam met die polisie gewerk om die verdagtes vas te trek.

“My man is baie getraumatiseer ná die gebeure,” sê Hannetjie. Hulle is egter baie dankbaar vir al die boere en lede van die gemeenskap wat na die plaas uitgery het om te help om die aanvallers vas te trek. “Van die mense het baie ver gery om ons te help en te ondersteun,” sê sy.

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, sê die polisie is tans steeds op die toneel om ondersoek in te stel. Sy sê die drie verdagtes, onderskeidelik 19, 23 en 27 jaar oud, is in hegtenis geneem. “Hulle sal eersdaags in die hof verskyn,” het Funani aan Maroela Media bevestig.

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê dat daar reeds 169 plaasaanvalle en 30 plaasmoorde vir vanjaar aangemeld is. Altesaam 41 plaasaanvalle en sewe plaasmoorde is in Junie aangemeld. In Julie is 30 plaasaanvalle en vier plaasmoorde sover aangemeld.

“Aanvallers vat nou meer as voorheen kanse tydens die afsonderingstydperk, omdat talle polisiekantore weens Covid-19 sluit,” sê Geldenhuys.

Die plaasaanval kom nadat ’n bejaarde egpaar, Hans en Bettie Pieterse (79), vroeër die week in hul huis in die dorp aangeval is. Bettie is Dinsdag om 08:15 deur ses aanvallers oorrompel.

Volgens ’n verklaring van die Ottosdal-911-noodgroep, het Hans hul huis net na 08:00 verlaat. Die ses aanvallers het net daarna toegang tot die Pieterses se erf gekry deur oor die muur, wat die hospitaal en hul huis skei, te klim. Bettie was toe besig om die huis skoon te maak.

“Die oomblik toe sy die deur oopmaak om die vuilgoed uit te vee, het die aanvallers haar oorval. Hulle het haar aangerand en vasgebind met ’n draad en die kluis se sleutels geëis,” lui die verklaring.

Bettie het die sleutel van die kluis vir die aanvallers gegee, waarna hulle haar weer aangerand het vir ’n tweede kluis se sleutel. Hulle het glo dié kluis ook leeggemaak. Hulle het juwele, vuurwapens, ’n televisiestel asook ’n wit Mercedes-Benz-voertuig gesteel. Hulle het in die voertuig gevlug.

Volgens die noodgroep is die voertuig nog soek. Die aanvallers het glo die elektriese hek na die huis se afstandbeheertoestel tussen blomme in ʼn bedding gegooi nadat hulle uit die erf is.

“Bettie ly tans nog aan skok en het mediese behandeling ontvang. Verder is sy ongedeerd en ons is baie dankbaar daaroor,” sê lede van die noodgroep.

Funani sê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof, diefstal van ’n voertuig en aanranding met die opset om te beseer. Sy sê twee van die verdagtes het vuurwapens in hul besit gehad.

“Hulle het geld, twee vuurwapens en die voertuig gesteel,” sê Funani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rudolf

Ek bly bekommerd oor die inligting wat die tipe skurke oor beskik. Hoe weet hulle van `n tweede kluis ensovoorts ?

Pieter

Ons blankes se eie skuld ons wil nie as n nasie saam staan nie. Ons leer nou op die harde manier. Ons blankes gaan ons eie ondergang beteken

Duwweltjie

Sarel, hoekom het jy skote in die lug afgevuur?

PietMad

Danksy die vinnige optrede en speurwerk van Frans Hugo wat ‘n welbekende in Ottosdal is met sy honde kan die sukses storie gekryf word. Frans Hugo jy is en sal altyd ‘n Yster bly.

Niklaas

Ons almal sal blykbaar met wapen onder die kussing voortaan moet slaap. Hierdie soeke na kos en geld of items om te gaan verkoop, gaan erg toeneem in hierdie swaar ekonomiese tye. Die optredes van misdadigers word gesien deur die kriminele as “geregverdig” tans.