Twee babas binne twee dae in Kaapstad weggegooi

Argieffoto

Argieffoto

Twee pasgebore babas is die afgelope twee dae in Kaapstad in asblikke weggegooi.

Kapt. FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê een van die babatjies is vanoggend om 08:20 by ʼn bushalte in die middestad aangetref. “ʼn Voetganger het die polisie van Mitchellsplein ontbied, nadat hulle ʼn kind se voet in ʼn asblik gesien het,” het Van Wyk gesê.

Die babaseuntjie was in ʼn wit en blou gestreepte handdoek toegedraai. “Paramedici het die baba op die toneel dood verklaar. ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om te bepaal waaraan die kind dood is,” het hy bygevoeg.

Van Wyk het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van verberging van ʼn geboorte.

Nog ʼn pasgebore baba is Woensdagoggend in ʼn asblik buite ʼn huis in Strandfontein aangetref. ʼn Hawelose man het op die lykie afgekom. Die baba was ook in ʼn handdoek toegedraai en die naelstring was nog steeds aan die baba vas.

Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie. Van Wyk het enigiemand wat die polisie met hul ondersoek kan bystaan, versoek om Crime Stop by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elizabeth ·

Dis hoe goedkoop lewe in SA is. Ai. Nou is daar nog die klomp wat se dat aborsies groot sonde is. Wel ek is jammer, liewer ‘n aborsie vroegtydig as wat ‘n arme baba in die lewe gebring word en dan weggegooi word. Ek het eintlik nie woorde nie…

Hanlie ·

Ek stem saam met Elizabeth. Ek glo nie aan aborsie nie – vir my is dit “moord” – maar eerder dan ‘n aborsie doen as om die kleine onskuldige dingetjie weg te gooi om maar self te sterf….

Ria Maritz ·

Ek glo verseker nie aan aborsie nie, beslis ook nie daaraan om jou kind weg te gooi, vir welke rede ookal, nie.

Gebruik voorbehoedmiddels – PUNT. Dis vrylik beskikbaar by klinieke.

huisvrou ·

Wanneer is dit moord?
Wanneer is dit lewe?

Wanneer gaan ons leer om ons drange te beteuel, onsself te beheers of dan, as jy nou wraggies nie kan nie – gebruik net vervlaks iets!

Lewe begin by bevrugting – dit is die bioloë se mening. Enige poging om dit anders te definieer het telkens misluk – onder gelowige of ongelowige.
Om lewe te termineer (maak nie saak watter eufemisme jy gebruik nie) bly moord. Of dit nou binne die baarmoeder plaasvind en sodoende ook die “volwasse” vrou se lewe in gevaar stel en of dit nou uit die baarmoeder plaasvind – dit bly dieselfde ding.

Marietjie ·

Wat het van die mensdom geword? Hoe dra jy ‘n baba 9 maande onder jou hart en gooi hom/haar weg in ‘n asblik om dood te gaan (ek gaan van die veronderstelling uit dat die babas nog gelewe het). Hoe draai jy jou rug en stap weg? Dis verskriklik, my hart huil.

Elizabeth ·

@Ria – jy is heeltemal reg en tog ook verkeerd. Glo my ek is ook pro-life MAAR soms is daar dinge wat totaal verkeerd loop – die lewe is ongelukkig nie net swart en wit nie – daar IS grys, mens kan nie in ontkenning daarteenoor staan nie. Kom ek vertel jou: ek kom gereeld in aanraking met swart vroue vir wie daar GEEN ander keuse was nie. Daar is hope wat van Malawi en ander buurlande instroom – en voor jy se ja hulle is “illegal immigrants” en hul hoort nie hier nie. Gaan sit eendgag en gesels mert so ‘n vrou – daar IS amper nie werk in hul lande nie, vir hulle is Suid Afrika Utopia. En ja, mens wil hul dalk nie hier he maar ek het al bietjie na hul verhale geluister, dat hulle hierheen kom en soms klein kinders agterlaat,ouers wat oud is en nie meer weet waarheen en nou is sy die enigste een wat tot hier kon kom en kan probeer om geld te maak vir die familie. Dis ongelooflik die stryd wat sommige mense het. Hulle kom hier aan met die hoop dat hier ERENS ‘n werkie sal wees, al die tyd is die kinders tuis in hul hart. Hul word misbruik en verkrag en ‘n ongewenste swangerskap is die gevolg. Hul kan nie eers vir hulself sorg en het in hul agterkop die mense tuis… Kry jy dalk die prentjie? Selfs ons eie mense – verkragtig onder die swartes en gekleurdes is aan die orde van die dag, die polisie doen meestal niks, hulle is in ‘n daaglikse oorlewingstryd en op die ou einde sal ‘n aborsie regtig al uitweg wees. Ek is nie pro aborsie per se nie, ek is nie pro “illegal immigrants” nie, ek is pro MENSLIKHEID. Ek dink nie mens besef elke dag die stryd wat mense en veral vrouens aldag in ons land het nie. So in sommige gevalle is ek pro aborsie. Daar is mense wat geboorte gee en die baba dan hou maar hulle is in ‘n situasie waar hul met dwelms deurmekaar geraak het, prostitusie – ek kan nie eers begin om te beskryf hoe sommige mense se lewens is nie. Die gevolg is dan verwaarlosing, kindermishandeling, “human trafficking” en goed waaraan ek en jy nie eers DINK terwyl ons ons tv ete eet nin ons warm gerieflike huis nie. Ek kan bladsye hieroor skryf! Sal jy jou baba wil hou as jy verkrag is? Of sou jy dalk aborsie oorweeg…? Dink mooi en dink met empatie voor jy antwoord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.