Twee baie ernstige terugslae vir die ANC

Pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma

Op een dag het die ANC twee geweldige terugslae tot voordeel van demokrasie in Suid-Afrika beleef. Suid-Afrika kan nie vir veel langer die tirannie van die ANC se magsmisbruik oorleef nie, het die VF Plus in ‘n verklaring gesê.

Die Suid-Gautengse hooggeregshof het Vrydag uitspraak gelewer dat Zwelinzima Vavi se skorsing as sekretaris-generaal van Cosatu ter syde gestel moet word. Klik hier om meer te lees.

Dieselfde hof het in ‘n ander saak bevind dat die redelike man se gevolgtrekking na aanleiding van die Openbare Beskermer se verslag is dat Nkandla wel as geld-steel beskryf kan word. Klik hier om meer te lees.

Volgens dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, bied hierdie twee uitsprake daadwerklik die geleentheid om die ANC te ontbloot vir dit wat hul werklik is en vir die kieser om werklik ‘n beter toekoms vir Suid-Afrika op 7 Mei te beslis.

Die herinstel van Vavi as die sekretaris-generaal van Cosatu gaan beslis die krake in die ANC en Cosatu se alliansie ontbloot. Daar is nou ‘n besliste moontlikheid dat Cosatu kan skeur of selfs dat Cosatu met ‘n meerderheid besluit om nie meer die ANC te steun nie. Dit het alles ingrypende implikasies vir die ANC wat in die vroeë negentigerjare sy party tot ‘n groot mate op die strukture van Cosatu gebou het.

Mulder meen dat die kiesers van Suid-Afrika moet kennis neem van hierdie geleentheid wat daar nou bestaan om die ANC te verswak en ‘n einde aan hul tirannie te bring. “Die kieser moet stem vir ‘n daadwerklike alternatief, soos die VF Plus wat in ‘n koalisie met ander opposisiepartye sal saamwerk om die ANC uit die regering te hou,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert ·

Ag ou Pieter Mulder, jy leef in ‘n droom! Watse alternatief bied jou partytjie anders as ‘n volkstaat? Jy droom!!!!

koos ·

VF vat dit altyd net te ver in hulle berigte. Om een van hulle berigte te lees laat my dieselfde voel as wanneer ek oor-eet het.

“Die kieser moet stem vir ‘n daadwerklike alternatief, soos die VF Plus…” Nee ons het so gereken terwyl ons die berig lees… nie nodig om dit vir ons te se nie… een happie te veel…. stop… nou lyk dit of die enigste rede waarom julle die inligting deel slegs is om julself te adverteer… stop…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.