Twee beamptes roof glo met blou ligte

Argieffoto ter illustrasie.

Twee polisiebeamptes verbonde aan die eenheid vir misdaadvoorkoming in die Noord-Kaap is Maandag in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by ʼn sindikaat wat motoriste in Kuruman teister. Hulle word nou deur ernstige aanklagte, onder andere poging tot moord, in die gesig gestaar.

Dié sindikaat, waaraan die beamptes glo behoort, het na bewering tussen Julie en Augustus verlede jaar afhaalbare polisieligte op ʼn private motor gebruik om motoriste op die N14 naby Kuruman aan te keer. Hulle sou dan die slagoffers van hul kontant, selfone en ander waardevolle besittings beroof.

“ʼn Aantal inwoners op die dorp het klagtes by die plaaslike polisiestasie aanhangig gemaak en die saak is na die Valke verwys,” het lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Die Valke se ondersoek het aan die lig gebring dat hul eie kollegas verdagtes in die saak is.”

Sers. Monageng Joy Makoke (37) en konst. Walter Setidisho (31) is kort daarna in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die wit Volkswagen Polo wat glo tydens die voorvalle gebruik is.

Nog inhegtenisnemings is glo op hande.

Makoke en Setidisho het Dinsdag in die Mothibistad-streekshof verskyn en word moontlik deur aanklagtes van gewapende rooftog, poging tot moord en ontvoering in die gesig gestaar.

Die saak teen die twee is tot 28 September uitgestel wanneer hulle aansoek om borgtog kan doen.

Die Valke het ʼn beroep gedoen op slagoffers van dieselfde tipe misdaad om Itumeleng Nogaga, hoofondersoekbeampte in die saak, by 071 481 2754 te kontak, aangesien dié verdagtes glo ook by ander misdade betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marius ·

Hoeveel van die sogennaamde eerbares wie se naam deur die modder gesleep word gaan betoog dat hul makkers geen borg kry nie en by skuldigbevinding vir ewig tronk toe gestuur word ? Hoeveel ?

Swerwer ·

Pragtig Hoed…………….hoe lank nog voor jy gaan besef jy is nie opgewasse vir jou taak nie.
Solank die ANC aan bewind is blyk dit dat geen keer aan hierdie soort lewenswyse is nie.

JM ·

En dan het die gemors sowaar nog die vermetelheid om te hoop op borg! Bou groter tronke en sluit toe!! Hierdie land is in sy maai!

Magda G ·

Sluit hulle toe. Gee hulle net pap om te vreet.
Mnr Hoed moes beter opleiding gekry hdt. Hy ken nie tussen reg en verkeerd nie.

Gert ·

Nee sluit toe en as hulle families nie sorg nie kan hulle maar honger ly of dwangarbeid doen vir kos

Harley Davidson ·

Ek wonder hoeveel misdade word gepleeg deur die wat dit moet bekamp?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.