Twee bewaarders by St Albans-tronk met messe gesteek

Argieffoto

Twee tronkbewaarders is by St Albans-tronk in die Oos-Kaap met messe aangeval, skaars twee maande nadat hoofde van die departement van korrektiewe dienste ondersoek ingestel het oor ʼn gewelddadige aanval waartydens drie persone gesterf het.

Die twee bewaarders is deur gevangenes in die medium A-afdeling aangeval waar verhoorafwagtendes aangehou word.

Nozipiwo Dumbela, adjunk-streekskommissaris, het aan ANA bevestig dat die voorval ʼn week gelede by die tronk plaasgevind het. “Die twee beamptes is nie ernstig beseer nie en sterk by die huis aan,” het hy gesê.

Volgens hom is die voorval by die polisie aangemeld en dit word ondersoek.

“ʼn Interne ondersoek sal bepaal of dit bendeverwant is,” het hy bygevoeg. “Die gevangenes wat aan bendes behoort, ongeag hul bendeverwantskappe, word altyd geïsoleer vir die veiligheid van ander beamptes en gevangenes. Hul isolasie hou dus nie verband met dei aanval nie, buiten die oortreders van die twee voorvalle.”

Hy het gesê die afdeling is nie afgesluit nie.

Altesaam 33 gevangenes, gewapen met skerp voorwerpe en selfgemaakte messe, het op 26 Desember verlede jaar bewaarders in die eetsaal aangeval ná die ontbytskof. Die gevangenes was van selle 22 en 23 in die Maksimum B-afdeling, in ʼn tydperk waar dié selle gereserveer was vir gevangenes wat die meeste probleme veroorsaak het. Drie gevangenes is tydens die gewelddadige aanval dood en 13 beamptes is beseer.

Thabang Makwetla, adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, Nkosinathi Breakfast, Oos-Kaapse streekskommissaris van korrektiewe dienste en nasionale kommissaris Zach Modise was in Maart vanjaar in Port Elizabeth om met belanghebbendes in gesprek te tree om die spanning en voortslepende kwessies van bendebedrywighede in St Albans-tronk te bespreek.

Makwetla het in daardie stadium gesê dit het aan die lig gekom dat tronkbewaarders vermoedelik versuim om gevangenes deeglik te ondersoek wanneer hulle vir etes rondgeskuif word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Susan ·

En dan kry hulle nog parool (oor die algemeen) en gaan pleeg nog misdade

Scalla ·

Bewaarders het versuim om hul pligte na te kom, jaag weg, kla aan en dank af indien regverdig, daar is baie bevoegde werklose mense wat smag vir n werk. Hoe moeilik kan dit wees?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.