Twee bieg ná pikkewyn verdwyn

Een van die pikkewyne by Bayworld. Foto: Verskaf

Een van die pikkewyne by Bayworld. Foto: Verskaf

Die mense wat die pikkewyn Buddy verlede week uit die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth gesteel het, het via hul regsverteenwoordiger na vore gekom.

Maroela Media het vroeër berig Buddy, ʼn driejarige pikkewyn, is Woensdagoggend uit die oseanarium gesteel toe twee mense oor die muur vanaf die parkeerterrein binne-in die pikkewyndam geklim het. Veiligheidskameras het dit vasgevang hoe die mense selfoonfoto’s binne die pikkewynkamp neem voordat een sy hemp uittrek, vermoedelik om Buddy te vang, voordat hulle met hom weer teruggeklim het oor die muur.

Bayworld het in ʼn verklaring gesê die mense se regsverteenwoordiger het die oseanarium intussen genader en gesê die skuldiges wil graag verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar en verduidelik wat gebeur het. Die Bayworld-bestuur en kurators het intussen met die twee en hul regspan vergader.

“Die individue het gesê hulle stem nie daarmee saam dat pikkewyne in aanhouding moet wees nie en hul bedoeling was om die pikkewyn te vang en in die natuur vry te laat. Nadat hulle die erns van die voorval besef het, het hulle besluit om na vore te kom. Hulle het gesê hulle het Buddy gevat en hom Woensdag in die vroeë oggendure op Pollock-strand vrygelaat,” lui die verklaring.

“Hulle het aanvanklik gedink hulle tree in die beste belange van die pikkewyn op en daar was nooit enige bedoeling om die pikkewyn seer te maak nie. Bayworld se bestuur sal weer met die betrokke mense en hul regspan vergader om op ʼn gepaste straf te besluit.”

Volgens die verklaring bring jong pikkewyne in die natuur die eerste twee jaar van hul lewe deur om hul omgewing te leer ken asook om op hul eie reg te kom. Buddy, hoewel ʼn gesonde pikkewyn wat die energie het om ongeveer drie weke in die natuur te oorleef, is in aanhouding grootgemaak.

“Hy het doodeenvoudig nie die nodige ervaring om in die natuur te oorleef nie,” het Bayworld gesê. “Al die pikkewyne en robbe by Bayworld word óf in aanhouding gebore óf kan nie in die natuur vrygelaat word nie nadat hulle erge beserings opgedoen het wat hul vermoë om in die natuur te oorleef inperk.”

Bayworld is ʼn niewinsgewende instansie met as primêre mandaat navorsing oor en die bewaring van seediere. Die oseanarium het ten doel om die publiek, en veral minder gegoede leerders wat andersins dalk nooit ʼn pikkewyn of rob in lewende lywe sal sien nie, meer oor die rol van seediere in die natuur te leer.

Bayworld versoek dat die publiek op die uitkyk sal wees vir Buddy. Hy het ʼn rooi-en-blou kabelbinder om sy vlerk met die nommer 266 op. “Ons hoop om hom weer van voor af aan sy maat en kuikens voor te stel indien ons hom betyds kan opspoor.”

Mense wat Buddy sien, kan Bayworld nader by 071 724 2122, 041 584 0650, [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Adeline ·

Dankie maroela vir die terugvoer oor Buddy. Het so gehoop hy is veilig! Ek hoop op n happy ending!

Ekwilibrium ·

Ek koop nie hul sob-storie nie. Ek dink Buddy is verkwansel vir muti. Hoop ek’s verkeerd…

US ·

Ek stem saam! Die arme Buddy!! Hoop regtig ons is verkeerd en hy word gevind!! As hulle dan kamtig so gekant is teen pikkewyne in aanhouding – hoekom dan net een vrylaat????? Nonsens

Savethetigerplz ·

Breindood is die diewe beslis. Ek hoop Buddy oorleef daarbuite

KarooKlong ·

Snaaks dat die twee skarminkels hulself die reg toegeien het om te besluit dat die pikkewyn nie in aanhouding moet wees nie en vrygelaat moet word. Ook dat die twee skarminkels die besluit kan neem om te sê Bayworld tree nie in die pikkewyne se beste belang op nie, maar hulle twee wel.

ANDRE ·

As hulle dan nou so besorgd is oor pikkewyne in aanhouding , hoekom net een vat om te gaan vrylaat ?

celeste ·

Hulle verskoning klink net bietjie verdag. Iets klink net nie reg nie.

tw ·

Absolute bog!!! Wie dink hulle gaan die storie glo? Andre jy is 100 persent reg. Glo nie hulle het hulle storie heeltemal deurdink nie.

Karnivoor ·

Pikkewyn, stadig oor louwarm kole gebraai. Met Merlot. Absolute dekadent.

Jessica Fletcher ·

My teorie is dat hulle dronk was en op impuls besluit het om vir Buddy te steel. As mens dronk is, is baie dinge snaaks. Dis hoekom soveel studente se kamers vol padtekens staan.
Ek dink Buddy het van skok gevrek en hulle doen hul nou as aktiviste voor om sy dood te verdoesel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.