Twee botsings eis 4 lewens, 22 beseer

Argieffoto: Netcare 911

Argieffoto: Netcare 911

Vier mense is dood en minstens 22 beseer in twee afsonderlike ongelukke Dinsdagoggend.

Een persoon is dood nadat ʼn minibustaxi op die Elandskop-pad naby Pietermaritzburg omgeslaan het. Chris Botha, woordvoerder van ER24, het gesê dit is nie in hierdie stadium duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie.

“Paramedici van Netcare 911 en ander ambulansdienste het op die toneel opgedaag en gevind dat een van die passasiers reeds aan sy veelvuldige beserings beswyk het. Negentien ander pasiënte het beserings van gering tot ernstig opgedoen en is na nabygeleë hospitale gehaas,” het hy gesê.

Intussen is nog drie mense dood in ʼn gru-ongeluk waarin verskeie voertuie betrokke was op die N1 buite De Doorns in die Wes-Kaap.

Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, kon teen Dinsdagoggend nog nie veel besonderhede oor dié ongeluk bekendmaak nie, maar het bevestig dat twee mans en ʼn vrou in die ongeluk dood is. “Daar was glo verskeie voertuie in die ongeluk betrokke, maar die oorsaak is nog onbekend. Paramedici is steeds op die toneel besig,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.